SA Vryskutskrywer SA Vryskutskrywer
 

Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.

Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunsteling-skrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.

Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.


christelle van Rooyen-wessels

Jare gelede was Christelle van Rooyen-Wessels 'n Noot vir Noot-kampioen. Haar tydjie in die kollig het egter vervaag terwyl die lewe aangegaan het. Nou is sy wéér in die kollig, maar dié keer vir iets heeltemal anders - haar debuutroman, Adder, is pas deur Penguin uitgegee wat haar as 'n "vars, nuwe Afrikaanse stem" beskryf. Lees haar onderhoud met Leoni Benghiat.

 

1. Wanneer en waarom het jy begin skryf? Hoe het jy dit tussen jou besige dae as koerantredakteur en joernalistieke verpligtinge ingepas?

Ek het van baie klein af stories opgemaak. My ouboet Jannie - 17 jaar ouer as ek - het nie speelgoed of sulke dinge as geskenke vir my gebring nie; net boeke. En storieplate. Maar ek kon nog nie lees nie, so as niemand kans het om vir my te lees nie, het ek die boeke gevat en stories oor die prentjies opgemaak.

As jy die besluit neem om nou régtig te skryf, dan máák jy tyd. Ek glo nie my situasie is uniek nie. Meeste eerste-skrywers - en tweedes! - moet maar steeds 'n "regte" werk ook hê.

 

2. Hoe skryf jy? Party skrywers is gelukkig genoeg om net te gaan sit en dan vloei die woorde moeiteloos. Is jy ook so bevoorreg?

Ja. En nee. Woorde het gevloei, maar dit was nie altyd die régte woorde nie. Die manuskrip het begin as 'n lekker ou soetsappige liefdesverhaal. Maar dit was net eensklaps asof die karakters begin rebelleer het teen alledaagsheid en aangedring het om meer kompleks te wees. Op die ou einde, báie meer kompleks.

 

3. Waar het jy aan die idee van ADDER gekom?

Ons het 'n artikel gedoen oor 'n sentrum vir vroue en kinders in nood. Dit was seker nou maar net die regte tyd op die regte plek, want dit was 'n besonderse bedrywige dag vir hulle met 'n baie traumatiese geval wat ingekom het. Dit het my laat dink dat dié mense so mooi na ander omsien - maar sê nou net daar is een van hulle wat wéét hoe dit voel om só mishandel te word? Ek het vir weke met die idee geloop oor hóé só mens tussen haar kollegas sal optree, sal funksioneer en hóé - en hoekom - sy haar eie situasie sal verberg. Toe word Klara Francke, die hoofkarakter, vir my baie werklik en sy het basies haar intrek in my kop geneem - ek kon haar nie ignoreer nie.

 

4. Waarom het jy op hierdie genre besluit?

Ek wou iets skryf wat ék sou lees. As ek boeke koop, is dit een of ander misdaadstorie - hoe donkerder, hoe beter. Dit fassineer my - die dinge wat mense dryf om té ver te gaan. Ek is egter, baie kere, só teleurgesteld in die ontknoping; Ek kry baie die idee skrywers is moeg vir hul eie storie teen die einde en skryf dan net om klaar te kry. Daarom het ek Adder se einde geskryf lánk voor ek selfs nog in die middel van die storie was - ek wou nie in dieselfde slaggat trap nie.

 

5. Hoeveel ware gebeure kom in jou stories voor? En werklike mense?

Soos meeste ander skrywers, het ek maar baie by werklike mense gaan leen vir my karakters. Maar nie een is slegs één spesifieke persoon nie. Hulle is almal so effens van 'n mosaïek. Daar is baie in die boek wat op werklike gebeure, werklike misdade gebaseer is. Ek skryf meeste van die koerant se misdaadberigte - en dié goed begin na verloop van tyd by jou spook. Dié was, dink ek, miskien ook vir my manier om van dié spoke aan te spreek.

 

6. Hoe lyk jou skryfplek?

Baie netjies! Ek kan nie werk óf skryf as dit nie om my netjies en ordelik is nie. En dit moet stil wees. Ek kan nie ten volle konsentreer as daar musiek speel nie; ek is net té versot op musiek om dit net as agtergrond te gebruik.

 

7. Wanneer skryf jy?

Elke moontlike stukkie beskikbare tyd. As ek in die nag wakker word, en daar is 'n idee, dan skryf ek dit onmiddellik neer - asook die gevoel/emosie wat die idee by my ontlok het.


8. Omtrent hoe lank het dit geneem om ADDER te skryf?

Dit was bykans vier jaar van die oomblik wat ek die eerste sin geskryf het tot en met die dag wat ek die boek vir die eerste keer in my hande kon hou. Dit was egter 'n leerproses waarvoor ek oneindig dankbaar is. Een van die beste oomblikke was hier amper teen die einde toe ek Adder se 'Onscreen Proofs' kry en sien die ou wat die leeswerk gedoen het, is een van my skryfhelde, Theunis Engelbrecht. Sy kommentaar dat hy báie van dié boek hou, het my in die wolke gehad.

 

9. Hoe het dit gevoel om die finale produk in jou hand te hou?

Presies dieselfde as toe ek my twee kinders vir die eerste keer kon vashou! Verwonderd, en baie bang - want wat moet ek nóú met dié nuweling maak?

 

10. Hoe voel jy oor die toekoms van Afrikaanse boeke? Is daar plek om te groei of dink jy dis nou stagnant?

Vir my eie onthalwe, hoop ek die Afrikaanse letterkunde beleef die grootste 'boom'-periode ooit! Maar op 'n ernstiger noot: ek is baie optimisties en opgewonde - dit was 'n baie groot hupstoot vir Afrikaanse skrywers toe Penguin Random House besluit het om in Afrikaanse boeke te belê. Ek glo dat hulle nie só ’n besluit sou geneem het as hulle nie gedink het dit is 'n goeie besigheidsbesluit nie.

 

11. Beplan jy ‘n tweede boek in die nabye toekoms? Jy weet natuurlik hulle sê die eerste boek is nie die moeilike een nie, maar wel die tweede een!

Dit is die heilige waarheid. Ek het begin met 'n tweede boek, maar dit trek maar op dié stadium by hoofstuk drie. Ek reken dat dit is omdat jy nou meer let op dít wat jy skryf, want met die eerste een is jy vry - jy dink niemand gaan in elk geval ooit lees wat jy skryf nie, jy kan maar net sowel sê wat jy wil.

 

12. As ‘n skrywer ... waarsonder kan jy glad nie klaarkom nie?

Ek probeer nou hard om aan iets filosofies te dink om hier te sê, maar die realiteit is dat ek net nodig het om redelik wakker te wees. Behalwe vir die ritueel van my onmiddellike omgewing netjies maak - wat ek klaar genoem het - het ek niks anders nodig nie.

 

13. Lees jy baie? Wat lees jy?

Ek het altyd baie gelees. Nou minder, want ek is bang ek laat myself beïnvloed; Ek het 'n lys met 15, 16 storie-idees vir volgende boeke en ek wil nie dié se water vertroebel nie.

Ek het maar van jongs af 'n voorliefde vir aksie-verhale - en karakters wat nie heeltemal hoofstroom is nie - gehad. Ek het Pippie Langkousboeke verslind, Leon Rousseau se Fritz Deelmanboeke, Karl Kielblock se Lafras Cuyper. Toe ek 'n bietjie ouer was - hier van 12-jaaroud af - het ek Agatha Christie begin lees. In st. 5 het ek 'n André P Brink in my skoonsus Amanda se boekrak ontdek en toe wou ek net méér van hom lees. Ek het ook al alles wat Stephen King geskryf het - selfs dié onder sy Richard Bachman-alias - gelees. Ek weet daar is skrywers wat dink dis baie ‘uncool’ om te erken jy het elke boek van Wilbur Smith gelees - wel, ék het en ek was versot op sy boeke. Die nuwes nie heeltemal so baie nie. Dan is ek ook baie erg oor James Patterson, Jeffrey Deaver en Dean Koontz. Ek het vir eers genoeg gehad van Dan Brown.

 

14. Wat se raad het jy vir beginnerskrywers?

Tik net eers daardie eerste sin en vergeet wat jy dink mense se persepsie gaan wees. Jy is eerstens jou béste, mees getroue leser. Hou jou skryfwerk eenvoudig - die oomblik as 'n sin vir jou verskriklik mooi klink, vee dit uit en begin oor.

 

15. Hoe voel jou huismense oor jou debuutroman?

Hulle het nog nie kans gekry om dit te lees nie, want daar was só ’n groot aanvraag in Vryburg - waar Adder nog nie by CNA, ons enigste boekwinkel, op die rakke is nie - dat ek selfs my outeurskopieë moes verkoop. Hulle kry egter elkeen een vir Kersfees.

 

© 2016. SA Vryskutskrywer. Alle Regte Voorbehou.


Vertel 'n vriend hiervan:              Kontak ons


 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 

                                            Vertel 'n vriend van ons  

Sluit venster              Skryfkursusse                    Blitskursusse