SA Vryskutskrywer SA Vryskutskrywer
 

Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed

Geeneen wat 'n skryfbesigheid bedryf of vryskut werk kan verby 'n bruikbare wenk kyk nie en ons hier by SA Vryskutskrywer is geen uitsondering nie. Wenke, wenke en nogmaals wenke is altyd meer as welkom in 'n vryskutskrywer se gestresde én gejaagde lewe en as jy 'n beproefde wenk met 'n mede-gestresde kollega kan deel sal ons dit met ope arms aanvaar.

Het jy dalk 'n skryfwenk wat werk? Kontak ons met enige bruikbare skryfwenke. Ons sal dit graag publiseer.


 

Watter tipe Afrikaanse manuskripte is gewild by uitgewers?

Jy is waarskynlik nie alleen as jy dink uitgewers publiseer deesdae net liefdesverhale of spanningsromans nie, want waar jy ook al kyk is hulle daar. Maar hoewel hulle volop is, is dit dalk nie heeltemal die waarheid nie.

Ja, dit ís waar dat sekere genres beter as verkoop ander, maar dit beteken nie uitgewers publiseer sommer enige manuskrip binne daardie genre nie. Die waarheid is baie eenvoudiger en terselfdertyd baie moeiliker: Uitgewers soek goeie manuskripte.

Maar wat is ‘n goeie manuskrip nou eintlik?

'n Uitgewer koop nie net 'n storie nie

Wanneer 'n uitgewer 'n manuskrip lees, kyk hy of sy na baie meer as die onderwerp. Hulle vra vrae soos:

·         Is die manuskrip professioneel geskryf?

·         Sal lesers dit geniet?

·         Is die verhaal oorspronklik?

·         Is die karakters geloofwaardig?

·         Pas hierdie boek by ons publikasielys?

·         Is daar 'n mark daarvoor?

Dit beteken as twee liefdesverhale ingedien word, sal een aanvaar word en die ander een nie. Die verskil? Gewoonlik die kwaliteit van die skryfwerk.

Genres wat steeds gewild is

Hoewel tendense verander, bly sekere genres sterk in die Afrikaanse boekemark.

  • Liefdesverhale/romanses

Liefdesverhale geniet steeds 'n groot lesersmark en daar is maandeliks verskeie nuwe publikasies op die rak. Maar lesers wil nie dieselfde storie oor en oor lees nie. Hulle soek geloofwaardige karakters, vars konflik en emosies waarmee hulle kan identifiseer.

  • Spannings-  en misdaadromans

Hierdie genre het die afgelope paar jaar geweldig gegroei, want lesers geniet stories wat hulle laat raai tot op die laaste bladsy. 'n Goeie spanningsroman vra egter deeglike navorsing, 'n sterk storielyn en uitstekende tempo.

  • Historiese romans

Afrikaanse lesers waardeer goed nagevorste historiese verhale. Wanneer geskiedenis en fiksie oortuigend verweef word, kan dit besonder gewild wees.

  • Christelike fiksie

Hier bestaan steeds 'n uiters lojale lesersgroep, maar dis nie net die boodskap alleen wat 'n boek dra nie. Lesers wil steeds karakters hê wat eg voel, geloofwaardige konflik beleef met 'n storie wat natuurlik ontvou.

  • Kinder- en jeugboeke

Daar is voortdurend ‘n behoefte aan vars stories vir jong lesers. Kinders en tieners verdien boeke waarin hulle hulself kan herken én wat hulle lus maak om verder te lees.

  • Nie-fiksie

Praktiese boeke, biografieë, geskiedenis, selfhelp en leefstylonderwerpe bly gewild wanneer dit goed nagevors is en werklik waarde toevoeg.

  • En wat van poësie?

Baie aspirant-digters wonder hieroor, maar die waarheid is dat hoofstroomuitgewers relatief min digbundels publiseer.

Maar wag, dit beteken egter nie poësie het geen toekoms nie. Dis net meer ‘n geval van digters wat deesdae lesers deur literêre tydskrifte, aanlyn platforms, voorlesings, kompetisies en selfpublikasie bereik. Die manier waarop poësie sy lesers vind, het dus net eenvoudig verander. Hou egter in gedagte dat daar wel uitgewers is wat graag poësiebundels uitgee.

WENK: Lees gerus 10 redes waarom uitgewers manuskripte afkeur om jouself te vergewis van die algemeenste redes waarom manuskripte afgekeur word.


Vertel 'n vriend hiervan:              Kontak ons


 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 

                                            Vertel 'n vriend van ons  

Sluit venster              Skryfkursusse                    Blitskursusse