


Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskutgereedskapkis
Taalwenke
Het jy enige taalvrae of
-tameletjies wat jy wil opper? Klik
hier
om 'n e-pos te stuur aan ons eie taalghoeroe,
Louis van Rooyen.
Klik
hier vir die Vraag & Antwoord-blad.
Klik
hier vir nog taalwenke.
Wat is Elon nou eintlik?
Geld soos bossies? Jammer, Elon, in jou
geboorteland is jy net 'n biljoenêr.
Miljoenêr x miljardêr x biljoenêr x biljardêr x triljoenêr?
In die VSA, waar daar blykbaar meer geld is as
taalaanvoeling, is Elon Musk 'n triljoenêr, die eerste en enigste een. In
Afrikaans (en Britse Engels) is die arme kêrel net 'n biljoenêr, darem ook die
eerste en enigste een.
Nou hoe werk dit nou met die spul nulle? wonder ons saam met
mnr. Zuma. Heel logies, eintlik. Miljoen is duisend maal duisend. Die woord is
afgelei van Latyn vir duisend, mille (siedaar ons millimeter, een
duisendste van 'n meter). Ons skryf dit as een met ses nulle, ofte wel 1 000
000.
Na 'n duisend duisend, identifiseer ons dan 'n duisend
miljoen (1 000 000 000), wat in Afrikaans en Britse Engels 'n miljard/milliard
heet. Maar hier kry die kabel 'n kinkel, want in die VSA word dié getal 'n
biljoen genoem, vermoedelik onder Franse invloed. Logies gesproke, aangesien die
voorvoegsel bi- afgelei is van die Griekse woord vir twee, behoort biljoen 'n
miljoen maal miljoen (miljoen tot die tweede mag) te wees, dus een met
twaalf nulle (ses plus ses): 1 000 000 000 000.
Stapsgewys is die volgende groot getal dan duisend maal
biljoen, naamlik biljard. Dis een plus vyftien nulle: 1 000 000 000 000 000.
Hierop volg miljoen maal biljoen, miljoen tot die derde mag of 1 000 000
000 000 000 000 (agtien nulle). Dit noem ons triljoen, aangesien die voorvoegsel
tri- van die Grieks vir drie afgelei is.
Overgeset synde is iemand wat met 'n miljoen bokke geseën is
dan 'n miljoenêr, iemand met duisend miljoen 'n miljardêr, iemand met 'n miljoen
miljoen 'n biljoenêr, iemand met 'n duisend biljoen 'n triljardêr en iemand met
'n miljoen biljoen 'n triljoenêr.
Jammer, Elon. Probeer maar weer. Verleidelike Engels
Dis eenmaal so dat mens Engels allerweë teëkom. Koppel dit nou aan dié taal se benydenswaardige slag om raak te sê (kom ons erken dit maar: Engels word deur soveel tonge geslyp dat die taal besonder ‘lekker praat’) en mens kan jou maklik deur die Engelse idioom laat verlei. Veral natuurlik wannneer mens vertaal, maar ook wanneer jy oorspronklike Afrikaans skryf, sluip Engelse frases soms in.
Hier is ’n paar sulke linguïstiese Loreleis wat ek die afgelope tyd teëgekom het:
Mens antwoord ’n deur of ’n telefoon, maar beantwoord ’n brief of ’n vraag. (Op Engels kan answer in beide gevalle dien, naas reply vir ’n brief.)
Mens sien ’n glimp(ie) van iets (teenoor glimps(ie); Engels: glimpse).
Iets beweeg met ’n slakkegang (teenoor teen ’n slakkepas; Engels: at a snail’s pace).
In Boheem skryf Chanette Paul van ‘beïndrukbare jong meisies’ (vir impressionable), pleks van ontvanklike.
Maar nou moet ek darem bysê vir my taalgevoel is die verskil tussen ’n frase en ’n metafoor soms ietwat hipoteties. Om iemand ‘uit die hoek van jou oog’ dop te hou (naas tersluiks, onderlangs, skrams(weg), skuins, heimlik, skelm... aankyk/dophou) klink vir my heel doenlik. Afrikaanse oë het immers net sulke hoeke soos Engelses!
Die mees berugte van hierdie verleidelike frases is sekerlik ‘om sin te maak (van iets)’ en ‘dit maak nie sin nie’. Taalbulle wil hê ons moet eerder praat van dis sinvol of dit het sin en dis sinloos, onsinnig, het geen sin nie. Maar waarom sien mens week na week in Beeld se naweekblad By hoe ingeligte, intelligente Afrikaners skryf ‘dit maak sin’ of ‘dit maak nie sin nie’? Bewys dit nie ons het ’n behoefte aan dié (Anglistiese) frase nie?
Nou hoor ek hoe dink julle: ‘Maar waar trek mens die streep?’ Reg genoeg, tog wonder ek dikwels of dit nie juis danksy Engels se instinktiewe traagheid om ’n streep te trek dat die taal geword het wat hy is nie.
Hoe voel julle Vryskutskrywers hieroor? Stuur gerus vir my e-pos met kommentaar.
-stander of -staander?
Baie skrywers is onseker wanneer dit kom by die gebruik van -stander of -staander as tweede lid van ’n samestelling. Is dit nou buitestaander of buitestander, lampstander of lampstaander?
Tom McLachlan, Voorsitter van die Taalkommissie, het op 14 Desember 2008 tydens RSG se uiters nuttige en gewaardeerde program, Die Tale wat ons Praat, verduidelik die Kommissie het besluit dat -stander voortaan gebruik sal word om na mense te verwys, terwyl -staander vir nie-menslike voorwerpe geld, dus omstander maar hoedestaander.
Mnr. McLachlan meen die besluit sal help om die verwarring om dié woorde uit te skakel.
My taalintuïsie wil egter dat, aangesien die werkwoord in beide gevalle staan is, dit beter sou gedien het as die Kommissie net die enkele vorm -staander erken het. Met net een vorm – en boonop ’n logiese, afgeleide een – kan daar immers geen verwarring wees nie!
-s agter aan byvoeglike naamwoorde
Afrikaans is geseën met min morfologie. Dit beteken verskynsels soos uitgange speel skaars ’n rol in ons stroombelynde taal.
Een oorblyfsel uit die vervloë morfologiese tye is egter die -s wat agter aan byvoeglike naamwoorde gevoeg word na iets, enigiets, veel, weinig, min, niks.
Dié -s het niks met die meervoud uit te waai nie; dis ’n taalfossiel wat terugslaan op die genetief (besitsnaamval) van definisie, iets wat menige Latynleerling met meester se lat laat kennis maak het.
Aangesien die byvoeglike naamwoord die voorafgaande woord omskryf of definieer, voeg ons ’n ‘genetiewe’ -s by: iets groots kom uit die bos te voorskyn, sy vind enigiets soets onweerstaanbaar, veel goeds het uit die idee gespruit, sommige mense het weinig intelligents te sê, daar is toe min moois in die kissie, ek dink hy is niks wonderliks nie.
|
| ![]() |
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis
skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 











