


Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed
Geeneen wat 'n skryfbesigheid bedryf of vryskut werk kan verby 'n bruikbare wenk kyk nie en ons hier by SA Vryskutskrywer is geen uitsondering nie. Wenke, wenke en nogmaals wenke is altyd meer as welkom in 'n vryskutskrywer se gestresde én gejaagde lewe en as jy 'n beproefde wenk met 'n mede-gestresde kollega kan deel sal ons dit met ope arms aanvaar.
Het jy dalk 'n skryfwenk wat werk? Kontak ons met enige bruikbare skryfwenke. Ons sal dit graag publiseer.
10 Algemene redes waarom uitgewers manuskripte afkeur
Ek kry gereeld navrae van verpletterde nuwelingskrywers wat wonder waarom hul manuskrip by ‘n uitgewer afgekeur is. Ongelukkig is daar nie ‘n klinkklaere antwoord nie omdat dit ook maar afhang van ‘n uitgewer se voorkeure, behoeftes en begroting. Maar dalk, net dalk, kan hierdie 10 redes iewers ‘n liggie in die donker tonnel van publikasie aanskakel.
1. Die manuskrip is nog nie gereed nie
Hierdie is waarskynlik die mees vanselfsprekende rede. Baie skrywers reken ‘n manuskrip is klaar wanneer die finale punt neergestip is.
A-a-a! Dis baie ver van die
waarheid, want die eerste weergawe is net die begin.
Ongelukkig stuur baie skrywers hul manuskrip in sodra
die laaste hoofstuk klaar is. Maar hier’s ‘n feit om te
onthou: Die eerste weergawe is selde, indien ooit, die
beste weergawe. Goeie manuskripte word herskryf en
dikwels meer as een keer. Lees gerus hierdie artikel,
Moenie net skryf nie, herskryf, waarin
verduidelik word waarom jou eerste weergawe nóóít jou
laaste moet wees nie.
2. Swak taalversorging
Hierdie rede is menige beginnerskrywer se Achilleshiel. Selfs die beste storielyn verloor impak as dit vol grammatikale-, spel- en leestekenfoute is. Uitgewers verwag nie 'n foutlose manuskrip nie, maar hulle wil sien dat die skrywer moeite gedoen het om dit darem so netjies moontlik voor te berei. As die manuskrip dus deurgaans slordig is, skep dit die indruk dat die skrywer nie sy of haar werk ernstig opneem nie. En raai wat volg hierop? Die uitgewer se snippermandjie! Lees die artikel, ‘n Skrywer se gids na Selfredigering, om jou te help om uit die snippermandjie te bly.
3. Die eerste hoofstuk boei nie
Jy kan jouself indink hoeveel manuskripte ‘n uitgewer jaarliks ontvang. Vanselfsprekend het hulle nie tyd om deur honderd bladsye te lees voordat die storie interessant raak nie. Daarom is dit noodsaaklik dat jou heel eerste bladsy die aandag vasvang. Die eerste paar bladsye moet nuuskierigheid en belangstelling wek. Dit beteken nie daar moet dadelik 'n ontploffing of bloedige moord wees nie, maar daar moet minstens iets wees wat die leser (of uitgewer) laat regop sit en wonder wat volgende gaan gebeur. Lees gerus die artikel, Waarom lesers ’n storie nie klaar lees nie − en hoe om dit te vermy, vir ‘n paar nuttige wenke.
4. Die storie voel bekend
Dis nie verkeerd om binne 'n gewilde genre te skryf nie, maar as jou storie te veel soos ander boeke lees, verloor dit sy trefkrag. Uitgewers is altyd op soek na vars perspektiewe, oorspronklike karakters en stories wat iets nuut bied. Vra jouself af: Wat maak my manuskrip anders? en lees hierdie artikel oor hoe om jou oorspronklikheid te slyp.
5. Die manuskrip pas nie by die uitgewer nie
Uitgewers het ook voor- en afkeure en derhalwe publiseer elkeen die tipe boeke wat by sy leserspubliek aanklank vind. So, byvoorbeeld, is daar verskeie uitgewers wat nie poësiebundels publiseer nie, en ander stel nie belang in kortverhaalbundels nie. 'n Uitgewer wat hoofsaaklik kinderboeke uitgee, gaan waarskynlik nie 'n spanningsroman aanvaar nie. Doen dus deeglike navorsing voordat jy jou manuskrip instuur. Maak doodseker jou boek pas by die uitgewer se publikasielys, anders gaan jy maande lank op hete kole sit en wag vir niks! Gelukkig vir jou het ons al klaar die harde navorsingswerk namens jou gedoen. Gaan kyk hier na die uitgewersdatabasisse wat ons beskikbaar het.
6. Die mark is te klein
Soms is die manuskrip goed, maar die uitgewer glo eenvoudig nie daar is genoeg lesers daarvoor nie. Ja, ek weet dit voel onregverdig, maar hou in gedagte dat ‘n uitgewer ook ‘n besigheid is wat die regte finansiële besluit moet neem. Dit help hom niks as 'n boek goed is, maar nie by sy lesers pas nie. Steek gerus kers op by die artikel, Hoe weet jy watter uitgewer is reg vir jou? sodat jy die regte keuse kan maak.
7. Die voorleggingsriglyne is nie gevolg nie
Hierdie fout is maklik om te vermy, want manuskripvoorleggingsriglyne is op bykans elke uitgewersblad te kry. As jy dus op die webblad sien die uitgewer vra vir slegs drie hoofstukke en ‘n sinopsis, moenie die hele manuskrip stuur nie. En moenie van die sinopsis vergeet nie. Hierdie riglyne bestaan nie omdat ‘n uitgewer skrywers wil frustreer of afskrik nie. Hulle help uitgewers om honderde manuskripte op 'n gestruktureerde manier te hanteer. So volg die riglyne en verbeter jou kans op publikasie. Kry volledige inligting rondom manuskripte in NS Skrywershuis se artikel, Manuskripriglyne.
8. Die manuskrip kort nog redigering Daar is 'n groot verskil tussen proeflees en redigering. 'n Redigeerder kyk nie net na taal nie. Hy of sy kyk ook na: die struktuur; tempo; karakterontwikkeling; geloofwaardigheid; herhaling; en logiese foute.
Baie manuskripte verbeter merkbaar nadat 'n professionele redigeerder daarmee gewerk het. Lees gerus hierdie uittrerksel, Die rol van die Teksredakteur, uit W.A.M. Carstens en Kris van de Poel se boek, Teksredaksie, en vind uit waarom jou manuskrip ‘n uitgewer benodig.
9. Die manuskrip is te lank of te kort
Elke genre het sekere eienskappe. 'n Roman van 25 000 woorde voel waarskynlik onvolledig. 'n Debuutroman van 250 000 woorde is dalk te woordryk en kan moeilik wees om te publiseer. Dit beteken nie langer of korter boeke is onmoontlik nie, maar die lengte moet by die verhaal én die genre pas. Klik hier vir Wikipedia se artikel oor Woordtelling in skryfwerk.
10. Die tydsberekening is verkeerd
Hierdie rede verras baie skrywers, want selde dink mens dat ‘n manuskrip se publikasie aan tydsberekening gekoppel kan word. In hierdie geval is daar niks fout met die manuskrip nie, maar die uitgewer het dalk reeds soortgelyke boeke op sy publikasielys. Of die mark is tydelik versadig. Of anders − en hierdie is dikwels die geval − die uitgewersprogram vir die volgende jaar is reeds vol. In sulke gevalle is die afkeuring nie noodwendig 'n oordeel oor die gehalte van jou manuskrip nie, so jy kan met ‘n geruste hart volgende jaar wéér probeer.
-
Wat kan jy uit afkeuring leer?
'n Afkeuring is nooit lekker nie. Maar dit hoef ook nie die einde van jou skrywersreis te wees nie. Lees enige terugvoer aandagtig. Werk aan jou manuskrip. Herskryf waar nodig. En as jy steeds in jou storie glo, oorweeg dit om dit by 'n ander geskikte uitgewer voor te lê. Baie suksesvolle boeke is aanvanklik afgekeur voordat hulle uiteindelik 'n tuiste gevind het. Die belangrikste is om bereid te wees om te leer en te verbeter. Lees gerus Moenie dat afkeuring jou onderkry nie, vir inspirasie.
|
| ![]() |
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis
skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 











