


Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.
Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunstelingskrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.
Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.
elize parker
Wat het 'n skrywer wat om vieruur soggens skryf, onder haar duvet wegkruip wanneer sy kreatief vasbrand, en met denkbeeldige karakters onderhoude voer, vir aspirantskrywers te sê? Heelwat meer as wat jy dalk verwag. In hierdie eksklusiewe onderhoud deel Elize Parker openhartig haar grootste skryfgeheime, haar vrese, haar vreugdes en die lesse wat meer as vier dekades se skryfwerk haar geleer het.
-
Eerstens ... en dalk die belangrikste ... hoeveel boeke het jy al geskryf? Wanneer is jou heel eerste boek gepubliseer en watter een was dit? Hoe voel jy oor jou eerste boeke en as jy eerlik moet wees ... hoe vergelyk jou eerste boeke met jou nuutstes? Dink jy jy het as skrywer gegroei? My 47ste titel word
in 2027 gepubliseer. Dit is die tweede boek in
my Orka-trilogie, Duskant die waterwieg. Dit is my vierde trilogie:
Die Offerkindreeks, Die Damaskusgangersreeks en Laeveldreeks is die
ander reekse. My eerste boek was Vlam van verrukking (1994). Ek glo
enige langtermynskrywer het ‘n groeikurwe en my kurwe het nie by my
eerste boek in 1994 begin nie, maar met my eerste tydskrifverhaal,
Sonseisoen, wat in November in 1981 in Sarie gepubliseer is. Vir my
as skrywer was daar dus oor die meer as 45 jaar groei in terme van
volume vanaf ‘n tydskrifverhaalskrywer na ‘n skrywer van reekse. Om
‘n storie oor 1 500 woorde te vertel na om ‘n storie oor 210 000
woorde te ontplooi. Dit het min te make met my vermoë, maar ook met
uitgewers van tydskrifte en boeke om volhoubaar Afrikaanse
publikasies en boeke te publiseer. Ek skryf nie net fiksie nie maar
het ook twee selfhelpgidse geskryf, verskeie dagstukkie- en
gebedeboeke in Engels en Afrikaans. -
Elke skrywer het 'n beginpunt. Kan jy ons terugneem na die oomblik toe jy besef het skryf is nie net 'n belangstelling nie, maar eerder jou roeping? Ek was ‘n skrywer van verhale (1981) voordat ek na drie jaar (1984) ‘n joernalis en koerantfotograaf geword het. Vandag, na meer as 40 jaar in die joernalistiek en meer as 40 boeke, weet ek nie altyd hoe het die een die ander gevoed nie. Dis ‘n plesierige sinkronisiteit van ‘n stroom wat in ‘n rivier inloop wat weer in die see uitloop. Ek het op skool al geweet ek wil ‘n kommersiële skrywer wees wat my geld met skryf verdien. Toe ander kinders veeartse en advokate wou word, wou ek stories vertel. Ek dink dikwels dit maak die verskil in motivering met skryf: om ‘n doelbewuste besluit daaroor te neem as ‘n loopbaan, want dan is dit volhoubaar. Mens sal wel die beperkings moet ken dat jy nooit as ‘n broodwinner genoeg sal verdien nie en altyd ‘n salaris ook sal moet verdien.
-
Wanneer jy met 'n nuwe roman begin, wat kom eerste: 'n karakter, 'n storielyn, 'n toneel of net 'n enkele idee wat jou nie wil los nie? Stories kies my. Ek het selde ‘n sê. Gewoonlik word die meeste temas uit my werk as joernalis gebore. Ek was vir talle jare ‘n verhoudingskrywer vir tydskrifte en die emosionele inhoud van die briewe wat ek moes beantwoord het my idees vir stories vir ewig beïnvloed, want elke brief, elke navraag, SMS, en e-pos was ‘n stukkie lewe en menswees wat oor my lessenaar gekom het. Alhoewel geen verhaal ooit dié van ‘n enkele leser of mens was met wie ek ‘n onderhoud gevoer het nie, het die oorhoofse temas oor die jare so dieselfde gebly dat ek kon aflei waar die brandpunte met menswees en verhoudings is en daaroor kon skryf.
-
Jou karakters voel dikwels eg en menslik. Hoe leer jy hulle ken voordat jy begin skryf? Verras hulle jou soms deur dinge te doen wat jy glad nie beplan het nie? Ek ontwikkel ‘n karakterboog vir elke karakter, ‘n taalregister, emosionele energie en sy of haar momentum deur die storie.
Ek het ‘n notaboek vir elke boek wat ek skryf en daarin staan ek ‘n bladsy vir elke karakter af waar ek die persoonlikheid opbou uit wat ek daagliks sien en ervaar en daarby kan voeg.
Ek sal byvoorbeeld in koffiewinkels na liggaamstaal oplet tussen mense, na dialoog in gesprekke luister en iets neerskryf, en ook in my joernale wat ek so oor die jare gehou het, gaan soek na idees oor my karakter.
-
Dan sit ek mooi musiek op, maak soet tee en neem ‘n paar tydskrifte en knip vir my ‘n karakterpop uit. Ek sal byvoorbeeld ‘n haarstyl, oëkleur, gelaatstrekke en uitrusting uitknip en op ‘n bladsy plak en dit in ‘n flip file sit en so ‘n hele visuele boek opbou sodat ek nie my karakters verkeerd kry nie. Teen dan ken jy jou karakter.
En ja, ek dompel karakters in situasies en om dan lewensgetroue optrede te kry, gee ek hulle opsies en dit verras my hoe hulle selde die ooglopende opsie kies. Ek skryf hierdie opsies neer en kies ook die mees onwaarskynlike een om die leser en myself te verras.
-
Is daar 'n karakter uit jou eie boeke wat vir jou besonder na aan die hart lê? Wat maak daardie karakter so spesiaal? Hoeveel van jouself word in jou karakters ingewerk? En baseer jy dalk van hulle op mense wat jy ken of ontmoet? Hoe vreemd dit ook al is, het ek nog net een fiktiewe roman geskryf met ‘n joernalis in ‒ ‘n oorlogskorrespondent wat oor die Bosoorlog verslag doen. Die titel is
Amber maan, oker son. Ek identifiseer sterk met
haar en haar moed om moeilike keuses te maak vir haar
professionele integriteit, maar ook hoe sy die liefde en die
lewe sien. Sy is taai as joernalis, maar weerloos as vrou en
moet die balans tussen die twee voortdurend probeer vind. ‘n
Klein spieël van my eie lewe. Ma-wees is deel van my identiteit en daaroor skryf ek maklik en gemaklik. Dit is miskien waar ek die meeste van myself inskryf.
En dan is ek ook romanties en hou daarvan om hierdie kant van ‘n karakter in die spieël van my eie ervarings te sien al is ek nou al twintig jaar enkellopend. Ek skryf oor die liefde omdat ek dit so graag wil verstaan. En ek maak eerder karakters op as om hulle op mense wat ek ken, te baseer. Dit is vir my meer skeppend.
-
Is daar 'n storie wat jy al jare lank graag wil skryf, maar wat jy voel nog nie gereed is om vertel te word nie? Indien wel, wat maak dit so moeilik om daardie verhaal aan te pak? Ek hou van eilande. Daar is iets aan die afgeslotenheid daarvan wat my verbeelding aangryp. Ek sal graag wil skryf oor so ‘n eilandgemeenskap en hoe die geskiedenis hulle gevorm het. Voor die skrywery sal ek graag so drie maande op ’n eiland wil gaan bly, maar het nog nooit daarvoor tyd kon inruim nie. Ek het ook al aansoek vir befondsing daarvoor gedoen, maar dit is nie toegestaan nie.
-
Elke skrywer beleef dae waarop die woorde eenvoudig nie wil kom nie. Wat doen jy wanneer jy kreatief vasbrand? Ek kruip onder my duvet vir die wêreld weg. Ek parkeer my kar die Vrydagaand en verlaat my huis eers weer Maandagoggend. Mense gee my energie, maar kan mens ook uitmergel. Stilwees kry my weer op ‘n plek vanwaar ek kan wegspring.
-
Hoe lyk 'n tipiese skryfsessie vir jou? Is jy iemand wat streng roetines volg, of skryf jy wanneer inspirasie opdaag? En hoe balanseer jy jou skryfwerk met jou voltydse werk by die Rekord? Ek skryf my hele skryflewe al om vieruur soggens en probeer elke dag 400 woorde vir ‘n boek afgooi. Naweke dalk meer. Die grootste uitdaging vir my is om uit my kop in die werklike wêreld te kom. Dit gebeur as ek my kamera optel. Dis my raakpunt met die werklike lewe vanaf my kamma-kamma lewe.
-
Skryf is dikwels 'n eensame beroep. Wat geniet jy die meeste daarvan, en wat vind jy die uitdagendste? Skryf is die asem in my longe. Ek is ‘n natuurlike alleenloper
al is
ek ‘n ekstrovert. Eensaamheid pla my nie. Meestal sien ek daarna
uit om ‘n hele naweek agter die skryfwerk te kan wegkruip.
Die kuns aan skryf is ook om soos met enige ander loopbaan vir jouself ‘n loopbaanboog te beplan, oftewel om nie aan jou volgende boek te dink nie, maar eerder jou volgende vyf jaar in skryf.
En daarvan hou ek om die nuwe neiging in skryf en boeke na te vors, om boekwinkels deur te stap om te kyk wat die leesmode is of hoe omslae lyk en dan te dink hoe ek hierby inpas . Skryf is vir my ‘n manier van dink en die dinkwerk rondom dit is vir my lekker.
Jou stories raak dikwels aan emosies waarmee baie mense kan identifiseer. Hoe sorg jy dat daardie emosies eg voel sonder om sentimenteel te raak? Om jou oog op vloei en spanning in ‘n storielyn te hou, keer jou om te veel op emosies te konsentreer. Ek hou van temposkuiwe en die skep van innerlike spanning deur konstante fokalisering van ‘n karakter eerder as sentimentele snot. Mens moet ook weet wat elke karakter se emosionele register is, net soos wat jy sy voorkoms en sy taalregisteruit jou kop moet ken. Dit help my om op te let na my grootste tekortkoming ‒ om die verklarende stem te veel te gebruik. Met ander woorde om dinge te veel te verduidelik (die joernalis in my). Ek het met die jare geleer ek kan lesers vertrou om die gapings wat ek los, doelbewus en ondoelbewus, uit hul eie ervaring in te vul. Onvoltooide sinne en onvoltooide eindes aan hoofstukke, sowel as onderbrekings in dialoog help hiermee.
Was daar al 'n boek of toneel wat jou emosioneel meer uitgedaag het as die ander? Indien wel, waarom? En watter van jou boeke is jou gunsteling? Kommersiële uitbuiting van diere maak my woedend en wanneer ek oor onreg teenoor vroue skryf, raak ek ergerlik.
In Soos sagte kerslig het
ek ‘n paar tonele oor geslagsgebaseerde geweld geskryf wat my
telkens laat opstaan het van my werk omdat dit net te veel
geword het in terme van die prentjies in my kop (wat ek nie in
die boek beskryf het nie), maar tot vandag toe voel ek dit was
geregverdig in die konteks. Iemand moes dit sê.
Fiksie is ‘n baie oorredende medium om temas van die lewe aan te spreek omdat jy waarhede kan aanbied oor die lewe, maar iemand kan wel ook net sê ”ag dis net ‘n storie”. Maar, meer as nuus of ‘n berig, sal dit aanklank vind by diegene met dieselfde ervaring en dalk troos, hoop of herstel kan bied.
Ek hou van my derde boek in die Laeveldreeks, Waar die doringbome sing, omdat ek oor olifante kon skryf en ‘n olifantfluisteraar sowel as die romantiek kon uitbeeld van ‘n lewe wat deur liefde en selfgenade herstel is.
-
Elke manuskrip gaan deur redigering. Hoe ervaar jy die verhouding tussen skrywer en redakteur? Watter raad het jy vir nuwe skrywers wat terugvoer ontvang? Ek vrees elke redigeerverslag, breek in puisies uit as dit kom en vermy my inboks vir ‘n hele dag. Ek is regtig kinderagtig daaroor en oorreageer heeltemal so op my eie.
Met een uitgewer en redigeerder het ek ‘n pad van 28 boeke gestap en min harde woorde het tussen ons geval oor die inhoud, meer oor omslae en uitleg. Dit het min met my eienskappe te make, maar veel met haar takt en geduld.
Omdat ek as joernalis elke dag ‘n
subredakteur se korreksies moet aanvaar, is die aanvaarding vir
my maklik van enige teksveranderinge oor taal. Die sub is
koning is my motto. Dit is egter wanneer ek my eie tekortkominge rondom ‘n teks emosioneel in die gesig moet staar, wat ek verkrummel. Soos dat ek die pot heeltemal misgesit het met ‘n storielyn of ‘n teenstrydigheid nie raakgesien het nie.
Maar ek het geleer daar is uitkoms. Met terugvoer op die teks moet jy die punte een vir een deurgaan en nie dat die groter geheel van foute en kritiek jou vir ewig van jou teks vervreem nie.
Ek maak ‘n regmerkie waar die redakteur reg is en ‘n verkeerde merkie waar ek voel ek weet wat ek bedoel het en sy my dalk nie verstaan het nie ‒ met ander woorde waar ek haar oordeel betwyfel, dink daaroor na en maak my fout reg.
Dan vergelyk ek regmerkies met verkeerde merkies en sien dis nie so erg as wat ek gedink het nie en werk haar regmerkies deur om te leer. Net logika kan jou van te veel emosies hieroor red.
Net een keer het ‘n redigeerder persoonlik geraak in ‘n opmerking teenoor my oor my skryfwerk in ‘n verslag wat ek as besonders venynig ervaar het. Ek het na die tyd gehoor sy was baie siek tydens die beoordeling van die teks en ek kon aanbeweeg.
As ‘n skrywer moet jy jou teks van jou identiteit as mens kan skei anders gaan jy gou al jou varkies verloor.
-
As jy een algemene fout moet uitlig wat jy by beginner-skrywers raaksien, wat sou dit wees? Mag ek ‘n paar aanstip?
-
1. Motivering is onvolledig van karakters en storielyne. Die storie is net nie goed genoeg deurdink nie.
-
2. Teenstrydighede in ‘n verhaal en in ‘n karakter se lewensgetrouheid pla my ook dikwels.
-
3. Die rol van toeval en foefies van ‘n skrywer om ‘n verhaal te manipuleer.
-
4. Te min drukpotoomblikke vol ontploffings en konflik.
-
5. Karakters bly te veel in dieselfde plekke en ruimtes.
-
6. Te min lynspanning en brugankers tussen tonele wat ‘n verhaal fragmentaries maak.
-
Watter raad wens jy iemand het vir jou gegee toe jy jou eerste manuskrip geskryf het? Moenie aan ‘n manuskrip of ‘n boek dink nie. Dink aan ‘n loopbaan as ‘n skrywer. Dink aan manuskripte, boeke, uitgewers, lesers. Dink langtermyn.
-
Die uitgewerswêreld het die afgelope dekade geweldig verander. Hoe sien jy die toekoms van Afrikaanse boeke en Afrikaanse skrywers? ‘n Goeie en sterk storie waarvoor lesers nut het, sal altyd oorleef. Afrikaans kry nuwe lewe met soveel nuwe inisiatiewe, maar die mediums en formate waarin stories aangebied gaan word, gaan weer en weer verander. Skrywers moet hieroor ingelig bly soos met oudioboeke en YouTube-voorlesings.
Lesers het die afgelope paar jaar in groot getalle geëmigreer en daar moet nuut gedink word oor boekverspreiding en bemarking ook aan lesers van Afrikaanse boeke oorsee.
Skrywers moet ook verantwoordelikheid neem vir die bevordering van ’n leeskultuur in hul eie omgewing en meer selfgeldend optree soos deur leeskringe te nader. Moenie langer wag om gevra te word om op te tree nie. Bied aan.
-
Watter rol speel lees in jou eie lewe? Is daar boeke of skrywers wat jou steeds inspireer? Het jy spesifieke gunstelinge? As ek skryf, lees ek nie. As ek lees, skryf ek nie. Bloot omdat lees vir my verslawend is en ek nooit sal skryf as ek myself nie hiermee dissiplineer nie. Ek lees fiksie wat oor relevante nuusgebeure gaan met ‘n omgewingsinslag.
Onlangs het ek Elif Shafak se There are rivers in the sky gelees oor karakters wat in ‘n stryd om water is. ‘n Ander gunsteling is Christy Lefteri wat oor vlugtelinge en migrasie skryf in The beekeeper of Aleppo.
As dit oor verhoudings gaan lees ek graag Maeve Binchy en Joanna Trollope. In Afrikaans lees ek graag Eleanor Baker, Theo Kemp en Daniël Lotter.
-
Werk jy tans aan iets nuuts waaroor jy reeds 'n bietjie kan vertel?
Ek werk nou
aan die einde van Boek
2 in die Orka-reeks met die titel Duskant die waterwieg.
Die reeks se storieboog is bitterheid oor die drie boeke heen en
hoe die karakters daarvan in hul lewens ontslae raak terwyl
hulle met die redding van marienebronne soos pikkewyne en
perlemoen te make het. My eerste kinder prenteboek, Bollie-Wollie en die nag voor Kersfees, kom vanjaar uit, en ek beoog ‘n opvolg.
-
Buiten skryf – wat laat jou ontspan? Waar vind Elize Parker inspirasie wanneer sy doelbewus wegstap van haar lessenaar? Ek hou van koffiewinkels en om ‘n ryk koppie koffie te drink en te sit en niks doen. En van ‘n sloertoer na niks en niewers. En om koek iewers te gaan eet. Ek vul ook ywerig Suduko’s in en hou van skryfbenodigdhedewinkels en om daarin te gaan rondkrap. Gesprekke met my dogters aard my en ek stel my graag oop vir al hul kritiek en voorstelle so tussen-in boeke.
-
Is daar 'n toneel wat jy ooit geskryf het wat jou só geraak het dat jy moes ophou skryf om eers asem te skep? Vertel ons daarvan. In Stil vloei die Komati is daar ’n toneel waarin meisies deur mensesmouse ingelok word in ‘n netwerk, dan aangehou en in die mensehandelbedryf opgeneem word. Seksuele uitbuiting ontstel my omdat daar so min daaraan gedoen word.
-
SA Vryskutskrywer se lesers is meestal aspirant- en gevestigde skrywers. As jy hulle met slegs een boodskap kon laat, wat sou dit wees? Elke storie het ‘n hefboom waarna niks dieselfde is nie: Vind jou storie se hefboom vir jou leser en draai als wat jy of jou leser oor jou storie gedink het na die hefboom op sy kop.
-
As 'n leser ná die lees van een van jou boeke net één gevoel of gedagte moet saamneem, wat hoop jy sal dit wees? Dat seer mense kan genees en so die wêreld, die natuur en mense om hulle kan laat herstel.
-
Jy leef daagliks in twee wêrelde: die feitewêreld van joernalistiek en die verbeeldingswêreld van romans. Hoe beïnvloed hierdie twee wêrelde mekaar? Maak die een jou 'n beter skrywer van die ander? My werk as joernalis voed my as ‘n skrywer elke dag van my lewe en rond my gereedskap (woorde) af sodat ek dalk makliker aan die gang kan kom sonder hulp van woordeboeke.
As skeppende skrywer help tegnieke om my karakters vrae te vra om ‘n storielyn te bepaal, (ja, ek hou onderhoude met denkbeeldige karakters – darem stilweg!) my om vrae voor ‘n onderhoud as joernalis op te stel.
As nuusfotograaf leer ek om my omgewing waar te neem en dit vind neerslag in beskrywings in my skryfwerk.

-
Lesers dink dikwels hulle ken 'n skrywer deur sy of haar boeke. Wat is iets van Elize Parker wat jou lesers waarskynlik sal verras? Ek is baie lief vir eet, maar bring selde kos in my boeke in anders sal ek heeltyd oor koek skryf. Ek kook of bak nie self goed nie, maar is ‘n gewillige eksperimenteerder op myself van maklike disse. Dis bes moontlik, saam met die feit dat ek nie kan dans nie en redelik mollig is met ‘n aweregse sin vir humor, die rede hoekom ek nog enkellopend is. Ek geniet ook inkopies rondom kos ‒ veral karaktervolle markte en stalletjies langs die pad.
-
As 'n jong skrywer jou vandag sou bel en sê: "Ek twyfel of ek ooit goed genoeg gaan wees," wat sou jy vir hom of haar sê? Stuur vir my van jou werk en dan gesels ons daaroor. Bykans alle skryfwerk kan met leiding ontwikkel word mits die skepper wil leer, aanpas en skiet gee.
-
Watter klein, alledaagse ding bring jou onverwags geluk – iets waarvan jou lesers waarskynlik niks weet nie? ‘n Orgidee wat bly groei en blom, want gewoonlik ken ek nie die kuns om hulle aan die lewe te hou nie!
-
Jou dik bos hare het amper so herkenbaar geword soos jou boeke! Is daar 'n storie daaragter, of is dit bloot deel van wie Elize Parker is? Ek is mal daaroor om met lang, nat hare te gaan slaap en wakker te word met “kussinghare.” Ek probeer elke dag se hare-rebellie in toom te kry, maar gee so teen die middag o
p. Lang hare is so
sensueel. Dit gee jou ‘n warmnekgevoel in die winter en in die
somer kan jy dit opbind en na ‘n swembeurt nat teen jou kop voel
om koel te kry. Jy kan vlegsels en poniesterte en bollas maak.
Jy kan haarbande en serpe insit en knippies inskuif. Hare gee
jou opsies om ‘n duisend vroue in een dag te wees. Ek sal elke
dag die keuse maak om sewe of agt borsels en kamme te hê en dit
te gebruik. Lang hare is my troos teen die lewe.
Ø Volg Elize op haar Facebook-blad hier, luister hier waar sy oor haar nuutste roman, Die eilandbruid se sluier, praat en kry hier 'n lys van haar boeke.
Profielfoto: Rekord
© 2026. SA Vryskutskrywer
|
| ![]() |
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis
skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 








