SA Vryskutskrywer SA Vryskutskrywer
 

Welkom by SA Vryskutskrywer - Nuusbrief

SA Vryskutskrywer se GRATIS nuusbrief is 'n noodsaaklike verlenging van jou skrywerslewe aangesien daar beslis géén ander Afrikaanse nuusbrief ter wêreld met dieselfde inhoud bestaan nie. En heel moontlik ook nie in enige ander taal in Suid-Afrika nie. Moet dus nie versuim om in te teken nie. Gebruik hierdie skakel om in te teken en jou vinnig op jou pad na skryfsukses te help.


 

 

In ’n tyd waar inhoud in oorvloed beskikbaar is, maar betekenisvolle stories skaars voel, staan Vilien-Miri Coetzee uit as iemand wat doelbewus kies vir dieper, menslike vertelwerk. Haar loopbaan strek oor vryskutwerk, redaksionele bestuur en inhoudskepping oor verskeie platforms — van gedrukte tydskrifte tot digitale ruimtes en visuele storievertelling. Met ’n fyn aanvoeling vir taal, ’n strategiese blik op gehoorbehoeftes en ’n sterk geloof dat stories mense moet voed en nie net vul nie, skep sy inhoud wat bly hang, insig bring en werklik waarde toevoeg. In hierdie onderhoud gesels sy oor haar benadering tot betekenisvolle inhoud, die balans tussen kreatiwiteit en bestuur, en waarom menslikheid steeds die hart van moderne media bly.

 

  1. Jy beskryf jou werk as ’n manier om inhoud te skep wat waarde tot mense se lewe toevoeg. Hoe bepaal jy watter stories of inhoud die grootste impak op jou gehoor sal hê?

Met die massas inhoud daar buite voel baie daarvan soos kitskos: jy neem dit in, maar dit voed jou nie — en jy vergeet vinnig daarvan. Ek soek stories wat by mense bly, insig bring, praktiese waarde het, of iemand net laat dink ,“Ek is nie alleen nie,” of  “Hier is iets wat my lewe beter maak”.

 

Uiteraard beteken dit ook ek moet my gehoor goed ken: Wat is vir hulle belangrik? Waarvan hou hulle? Wat het hulle nodig? Wanneer ek daardie vrae eerlik kan antwoord, kan ek die beste moontlike inhoud vir hulle skep of bied. Bowenal moet dit menslik bly. Die kern van die storie is die mens.

 

  1. Jy het ’n loopbaan wat beide vryskutwerk en bestuur van bekende tydskrifte insluit. Watter vaardighede het jy uit vryskutwerk ontwikkel wat jou vandag as besturende redakteur help?

Vryskutwerk het my geleer om onafhanklik te funksioneer — om my tyd goed te bestuur, gedissiplineerd te werk, besluite te neem en steeds gehalte te lewer, selfs wanneer dit uitdagend raak. Dit het my ook laat groei deur dinge aan te pak wat ek nie noodwendig sou oorweeg het nie.

Vandag waardeer ek die ondersteuning van ’n span en die wete dat elkeen se unieke vaardighede tot die geheel bydra. Dís hoe ’n mooi simfonie ontstaan.

 

  1. Jy werk oor verskeie platforms – van gedrukte tydskrifte tot sosialemediaplasings en kortfilms. Hoe hou jy die balans tussen kwaliteit en kwantiteit wanneer jy inhoud vir so ’n diverse media-ouditorium skep?

Ek is baie bevoorreg dat ek nie van my skryfwerk afhanklik is vir my brood en botter nie — my daaglikse werk bly die bestuur van inhoud, gedruk en digitaal. Dit beteken ek kan kies watter skryfprojekte ek self aanpak — gewoonlik dié wat regtig met my resoneer.

 

Ek skryf nie sommer vyf blogs per dag nie; ek verkies om my tyd te neem en bewustelik te skep. Daarom glo ek in herwinning en repurposing: een kernstorie kan op verskillende platforms leef. Tydskrifte delf dieper, sosiale media bied vinnige waarde, en kortfilms tower emosies op. Ek glo daarin om slim te werk, nie méér nie — dís waar die balans lê.

 

  1. Jou CV wys ’n indrukwekkende kombinasie van kreatiwiteit, taalversorging en organisasie. Watter rol speel jou vaardigheid in taal en redigering in die uiteindelike impak van jou publikasies?

 

Taal is deel van die ervaring. Dit bepaal hoe ’n leser deur ’n storie beweeg — of hulle vassteek, en of hulle natuurlik meegevoer word. As die taal struikel, verloor jy die leser.

Redigering help my om idees duideliker, sterker en toegankliker te maak — elke woord moet sy plek verdien. Wanneer taal vloei, word die storie ’n pad waarop die leser graag aanhou beweeg, en die impak daarvan word gevoel.

 

  1. Na alles wat jy al gedoen het, watter raad sal jy aan iemand gee wat wil floreer as ’n moderne skrywer/redakteur in ’n vinnig veranderende media-omgewing?

Die vraag ontstaan maklik: Het joernalistiek nog plek in ’n wêreld waar KI binne sekondes inhoud kan skep? My antwoord is ja — meer as ooit. Moderne media vra dat ons dieper delf, spesialiseer en eg bly. Dit geld vir die onderwerpe waarin jy jouself vestig, maar net so vir jou aanslag — of dit ondersoekend of narratief is. KI kan inligting verpak, maar unieke perspektief, konteks, nuuskierigheid en menslikheid bly eie aan die mens. In plaas daarvan om dit te vrees, kan KI ’n nuttige hulpmiddel wees — om idees vinniger te orden en kreatief aan te vul. Maar jou stem, jou oordeel en jou empatie laat jou inhoud uitstaan. Dís jou voordeel.

 

Wil jy van Vilien-Mari se skryfdienste gebruik maak? Kontak haar by vilien@mweb.co.za of bel haar op 083 941 6613.

 

                                 

Stel jy belang daarin om ook by ons groeiende Vryskutnetwerk aan te sluit en jou werkopsies te verbreed? Klik hier vir meer inligting oor die vryskutnetwerk en om aan te sluit.

 

                 NUUSBRIEFARGIEWE

Vertel 'n vriend hiervan:              Kontak ons


 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 

                                            Vertel 'n vriend van ons  

Sluit venster              Skryfkursusse                    Blitskursusse