SA Vryskutskrywer SA Vryskutskrywer
 

Welkom by SA Vryskutskrywer - Nuusbrief

SA Vryskutskrywer se GRATIS nuusbrief is 'n noodsaaklike verlenging van jou skrywerslewe aangesien daar beslis géén ander Afrikaanse nuusbrief ter wêreld met dieselfde inhoud bestaan nie. En heel moontlik ook nie in enige ander taal in Suid-Afrika nie. Moet dus nie versuim om in te teken nie. Gebruik hierdie skakel om in te teken en jou vinnig op jou pad na skryfsukses te help.


 

 

As netwerklid bring Chris Jooste meer as vier dekades se joernalistieke ervaring na die tafel — ’n loopbaan wat diep wortel geskiet het in die koerantwese en later sterk uitgebrei het in landbou- en vaktydskrifte. Van Die Volksblad tot Landbouweekblad, OVK-Nuus en Stockfarm het hy ’n sleutelrol gespeel as verslaggewer, vertaler, subredakteur en uiteindelik hoofsubredakteur. Sy joernalistieke pad getuig van ’n fyn oog vir taal, ’n onwrikbare verbintenis tot akkuraatheid en ’n besondere vermoë om komplekse inligting helder, bondig en toeganklik te maak — vaardighede wat hom nie net ’n gerespekteerde redigeerder nie, maar ook ’n waardevolle mentor vir jong joernaliste gemaak het. Ons het bietjie met hom gesels oor sy loopbaan.

 

  1. Jy het meer as 40 jaar in die joernalistiek gewerk, waarvan 24 jaar in landbou. Wat het jou oorspronklik na landboujoernalistiek gelok?

Ek het aanvanklik by Die Volksblad as algemene verslaggewer gewerk, maar in dieselfde jaar waarin ek begin het, landboujoernalis van die koerant geword. Ek was nie lank verslaggewer voordat ek vertaler en later subredakteur geword het nie. Toe ek die geleentheid kry om Landbouweekblad toe te gaan, was dit vir my redelik maklik, want ek het familie in die landbou gehad en ek het belanggestel in wat hulle doen.

 

  1. Hoe het jou loopbaan ontwikkel van verslaggewer tot hoofsubredakteur, en watter vaardighede was vir jou die belangrikste om te bemeester?

Ek was omtrent net ’n jaar lank verslaggewer toe ek vertaler van Sapa-berigte vir Die Volksblad geword het. Ek vermoed die nuusredakteur het gesien ek het meer vaardigheid as redigeerder eerder as skrywer. Die vertalers het in die subkantoor gewerk, wat die oorgang van vertaler na subredakteur outomaties gemaak het. Van gewone subredakteur het ek geleidelik gevorder tot assistent-hoofsub en ‘Saterdag-hoofsub’. Van assistent-hoofsubredakteur is ek bevorder tot hoofsub van die bylaekantoor, waar al die koerant se bylaes en ‘knock-and-drop’-koerante gemaak is. Daarvandaan het ek die hoof van die bylaekantoor geword. Daarna was ek ’n tyd lank die koerant se brieweredakteur en het in die koerant se ‘stuurkas’ gewerk waar die koerant se senior personeel die berigte die laaste keer deurgegaan het voordat dit na die subkantoor is.

 

Landbouweekblad se kantore was by die bylaekantoor in dieselfde gebou en ek het die mense geken. ’n Oud-redaksielid van Die Volksblad, wat as subredakteur vir Landbouweekblad in die Kaap gewerk het, het my laat weet hy gaan weg by die tydskrif. Ek het die werk as sub gekry, maar in dieselfde tyd is Landbouweekblad se verteenwoordiger in Bloemfontein verplaas. Ek bly woon toe mos in Bloemfontein en word die Vrystaatse verteenwoordiger van Landbouweekblad. Hoewel ek meer van redigering hou, het ek dié werk gedoen totdat ek die redakteur van OVK-Nuus in Ladybrand geword het. Daar moes ek alles buiten die uitleg van die tydskrif doen. Toe ek naby OVK se aftree-ouderdom kom, het Veeplaas (Plaas Media was destyds Plaas Publishing), my as die hoofsubredakteur van hul Engelstalige tydskrif, Stockfarm, aangestel. Ek moes ook met die Afrikaans van ander tydskrifte help.

 

By die koerant het ek die grondslag van die meeste van my vaardighede geleer en veral om kort en bondig te skryf omdat ruimte in die koerant beperk is. Ek skryf steeds kort sonder omslagtigheid. In my later loopbaan kon ek duidelik die verskil sien tussen verslaggewers wat by koerante gewerk het en dié wat nie het nie. Ek het geleer om artikels te verkort sonder om die essensie daarvan prys te gee. Ek hou daarvan om ingewikkelde, komplekse sinne in eenvoudige Afrikaans oor te skryf om dit meer verstaanbaar te maak.

 

  1. Jy beskryf korrekte taalgebruik en akkuraatheid as ononderhandelbaar. Hoe het hierdie waardes jou redigerings- en vertaalwerk beïnvloed?

Die koerant het styl-, taal- en spelreëls gehad wat noukeurig gevolg moes word. Dit het die grondslag gelê vir my siening van die korrekte gebruik van taal en om korrek te skryf. Vir my is dit ononderhandelbaar om werk wat ek lewer, reg te hê sodat dit nie vir iemand anders nodig is om feite na te gaan en taalgebruik te verbeter nie. Ek het dit dwarsdeur my loopbaan gevolg en doen dit steeds. Ek ‘korrigeer’ alle taalfoute wat ek raakloop.

 

  1. Jy het artikels van Afrikaans na Engels vertaal en ook verskeie publikasies bestuur. Wat was die grootste uitdaging van hierdie werk, en hoe het jy dit oorkom?

Ek het eintlik net OVK-nuus volledig bestuur, buiten die uitleg. Dit was nie so moeilik nie, want as streekverteenwoordiger het ek die werking van Landbouweekblad redelik goed geken – ook omdat ek baie van struktuur in my werk hou. My grootste uitdaging was sekerlik om by Stockfarm Afrikaanse artikels korrek na Engels te vertaal. Met ’n Afrikaanse agtergrond en opleiding het ek sekerlik Engelse taalfoute gemaak. In die byna vyf jaar wat ek die werk gedoen het, het dit geleidelik makliker geword en die foute (wat ek nie wóú maak nie) minder. En dit is belangrik om ‘n nuwe publikasie se stylreëls te ken.

 

  1. Na ’n lang en ryk loopbaan, watter raad sal jy aan jong joernaliste gee wat ’n volgehoue, suksesvolle loopbaan in die veld wil hê?

Hoewel ek in werklikheid meer van redigering hou en myself nie regtig as ’n verslaggewer sien nie, het ek vir ’n groot deel van my loopbaan skryfwerk gedoen. Beginsels wat vir almal geld, is sekerlik om belang te stel in die onderwerp, seker te maak van jou feite en om dit gebalanseerd, volledig en korrek weer te gee. Dis noodsaaklik om ’n goeie grondslag van taalvaardigheid op te bou. Skryf eenvoudig en kort, volg styl-riglyne. Skryf die belangrikste inligting eerste (in die inleiding). Moenie van die hele ongeluk vertel en dan eers aan die einde sê twee mense is oorlede nie. Skrywers van akademiese artikels skryf gewoonlik die gevolgtrekking in die laaste paragraaf. Dáárdie paragraaf is dikwels die inleiding van die storie as jy dit moet redigeer vir gebruik in ’n tydskrif.

 

Wil jy van Chris se skryfdienste gebruik maak? Kontak hom by kriskikis@gmail.com of bel hom op 083 460 3749.

 

 

               

Stel jy belang daarin om ook by ons groeiende Vryskutnetwerk aan te sluit en jou werkopsies te verbreed? Klik hier vir meer inligting oor die vryskutnetwerk en om aan te sluit.

 

                 NUUSBRIEFARGIEWE

Vertel 'n vriend hiervan:              Kontak ons


 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 

                                            Vertel 'n vriend van ons  

Sluit venster              Skryfkursusse                    Blitskursusse