| 
													 Van my rekenaar... 
													En hier's ons wraggies 
													alweer aan die einde van dié 
													jaar. Dit voel vir my asof 
													vanjaar nóg vinniger verby 
													gevlieg het as voorafgaande 
													jare. Dalk is dit omdat ons 
													nou permanent in vreemde tye 
													leef, wie weet? 
													   Ongelukkig was hierdie 
													jaar vir te veel mense hul annus 
													horribilis en hopelik is 
													daar planne te maak vir 
													diegene wat hul werk of 
													besighede verloor het. Met 
													die land se uitgebreide 
													werkloosheidskoers wat tot 
													44,6% in die derde kwartaal 
													gestyg het, beteken dit 
													minstens 12,5 miljoen mense 
													in Suid-Afrika is tans 
													werkloos en blykbaar soek 
													slegs 7,6 miljoen tans 
													aktief na werk . Dinge op 
													die formele werksfront lyk 
													dus maar bedroef. 
													     Maar... as jy vryskut 
													werk is daar 'n lig voor in 
													jou tonnel en ek is 
													doodseker dis nie 'n trein 
													nie. Vryskutte is bekend 
													daarvoor dat hulle werk uit 
													niks kan genereer en 
													sodoende gereeld 'n paar 
													geldnote in hul beursie kan 
													verseker.  
													    Dis waar, weet jy. 
													Soveel mense kan deesdae nie 
													meer  
													spel nie 
													(dink maar aan al die waardeurs, 
													skruifstukke, 
													huildronke, 
													ens. wat gereeld oor jou 
													rekenaarskerm flits)  
													
													
													en
													nóg minder kan iets amptelik 
													skryf. Wat maak hulle dan? 
													Hulle roep JOU hulp in. 
													      Sakebriewe, handboeke, 
													toesprake, memorandums, 
													notules, nuusbriewe, boeke, 
													advertensiekopie en 
													proeflees en redigering... 
													noem dit op: enige skryfstuk 
													(met 'n lang Y!) wat geskryf 
													of geredigeer moet word is 
													soos manna uit die hemel vir 
													jou. As jy dus een van 
													daardie mense is wat 'n 
													professionele woordsmid is, 
													is jou finansiële kopsorge 
													dalk effens minder as die 
													gemiddelde mens s'n.  
													    Dis geen wonder dat arm 
													mense in die Middeleeue 
													grootliks verhoed was om 
													geletterd te wees: diegene 
													wat die krag van woorde kon 
													annekseer het ál die mag en 
													kennis in pag gehad.  
													   Onthou net, woorde kan 
													doodmaak, maar woorde kan 
													ook heel. Jy, as woordsmid, 
													het meer mag as wat jy dalk 
													besef, want jy is in staat 
													om daardie krag van woorde 
													tot jou eie voordeel te 
													benut. Jy kan enigiets 
													skryf, enigiets redigeer. Jy 
													hoef nooit sonder werk te 
													sit nie, want daar sal áltyd 
													'n aanvraag vir skrywers 
													wees. Dis eintlik die 
													enigste gegewe in ons 
													vinnig-veranderende wêreld. 
													    So gaan voort en floreer 
													in 2022 en mag dit vir jou 
													'n goeie skryfjaar wees. 
													Leoni 
													_________________________________________________ 
													2021 – Die jaar wat was 
													Vanjaar was nogal ‘n 
													interessante jaar op die 
													skrywersfront. Ons kyk na ‘n 
													paar hoogtepunte: 
													'n Reuse lans is vir 
													joernalistieke vryheid 
													gebreek met die toekenning 
													van die 2021 Nobelprys 
													vir Vrede aan twee 
													joernaliste, Maria Ressa en 
													Dmitri Muratov, vir hul 
													pogings om vryheid van 
													uitdrukking te beskerm, wat 
													'n voorwaarde vir demokrasie 
													en blywende vrede is. Die 
													twee ontvang die Vredesprys 
													vir hul moedige stryd om 
													vryheid van uitdrukking te 
													bevorder in die Filippyne en 
													Rusland. Terselfdertyd is 
													hulle verteenwoordigers van 
													alle joernaliste wat vir 
													hierdie ideaal opstaan in 
													'n wêreld waarin demokrasie 
													en persvryheid toenemend 
													ongunstige toestande in die 
													gesig staar.   
													  ---0---0---0---0---0--- 
													Die South African 
													Freelancers Association 
													(Safrea) het sy 
													2019/2020 Tariewe Opname 
													vrygestel wat interessante 
													neigings – en ’n paar 
													verrassings – in hierdie 
													steeds groeiende bedryf 
													uitlig. 
													   Jude Mathurine, ‘n 
													joernalistieke dosent, en 
													Curwyn Mapaling, ‘n kliniese 
													sielkundige en albei 
													Safrea-lede, het die vierde 
													jaarlikse opname geskryf. 
													Hier is van hul belangrikste 
													bevindinge: 
													     ’n Derde van diegene 
													wat ondervra is, verdien 
													minder as R10 000 per maand. 
													Daar was egter 'n paar – 
													gewoonlik diegene met jare 
													se ondervinding – wat 'n 
													maandelikse inkomste van 
													meer as R110 000 
													gerapporteer het. 
													     Grafiese ontwerp was 
													die top primêre 
													spesialisasie in 2019, en 
													proeflees die volgende 
													gewildste. Daarteenoor neem 
													die gewildheid van 
													joernalistiek as 'n 
													vryskutspesialisasie vinnig 
													af in die lig van 'n krisis 
													in tradisionele 
													mediavolhoubaarheid. 
													      Ten spyte van die 
													toename in aanlyn 
													werksoektogte en 
													toepassings, verdien slegs 
													'n klein fraksie (sowat 3%) 
													hul primêre inkomste uit 
													aanlynmarkte soos Fiverr en 
													Upwork. 
													Aanlyn en digitaal bied die 
													meeste werksgeleenthede, en 
													korporatiewe kliënte is 
													verantwoordelik vir 30% van 
													alle inkomste. 
													     Bogenoemde is slegs ‘n 
													paar aspekte uit die lywige 
													verslag. Indien jy die 
													volledige verslag wil lees, 
													kan jy hier ‘n 
													gratis kopie gaan aflaai. 
													---0---0---0---0---0--- 
													     Dit was 'n besonder 
													somber jaar vir 
													joernalistiek. Die Committee 
													for the Protection of 
													Journalists (CPJ) se 
													2021-sensus het bevind dat 
													die aantal joernaliste wat 
													vir hul werk tronk toe 
													gestuur is, 'n nuwe 
													wêreldrekord van 293 bereik 
													het, teenoor 280 in 2020. 
													Minstens 24 joernaliste is 
													vermoor weens hul dekking 
													tot dusver vanjaar; 18 ander 
													het in onduidelike 
													omstandighede gesterf.   
													     China bly vir die derde 
													agtereenvolgende jaar die 
													land wat joernaliste die 
													swakste behandel, met 50 
													agter tralies. Mianmar het 
													tot die tweede plek gestyg 
													ná die media-onderdrukking 
													wat gevolg het op sy 
													militêre staatsgreep op 1 
													Februarie. Egipte, Viëtnam 
													en Wit-Rusland het 
													onderskeidelik die top vyf 
													afgerond. 
													---0---0---0---0---0--- 
													
													Die gesogte Booker-prys is 
													aan die Suid-Afrikaanse 
													skrywer Damon Galgut vir sy 
													roman The 
													Promise toegeken. 
													
													“Ek is regtig innig, nederig 
													dankbaar hiervoor,” het die 
													57-jarige Galgut gesê toe hy 
													die gesogte Britse 
													toekenning by ʼn seremonie in 
													Londen ontvang het.     
													
													     Galgut het skrywers van 
													onder meer Sri Lanka, 
													Brittanje en die VSA 
													uitgestof om met die 
													toekenning weg te stap. 
													
													Maya Jasanoff, voorsitter 
													van vanjaar se 
													beoordelaarspaneel, het The 
													Promise uitgesonder vir 
													“ongelooflike 
													oorspronklikheid” en ʼn roman 
													met “historiese en 
													metaforiese betekenis”. |