Resensie

 

Die Skaaktowenaar van Grootbos deur Louis Holtzhausen

Resensent: Surene Esterhuizen

 

Die Skaaktowenaar van Grootbos deur Oom LJ, het my aangenaam verras. Die Skaaktowenaar van Grootbos is die breinkind van Louis Holtzhausen wat meer as 20 jaar ervaring het in skaakafrigting.

Dit is ʼn lekkerlees-storie oor diere wat skaakspeel en dié paragraaf uit die Voorwoord het amper gemaak dat ek die res van die Voorwoord wou oorslaan en net by die boek uitkom:

Twee jong nuuskierige eekhorinkies kom onverwags af op veldwagters wat in die veld onder ʼn boom sit en ʼn bordspeletjie speel. Dáárdie dag het die eekhorinkies se lewensreis ʼn heeltemal ander rigting ingeslaan. Dit was die begin van ʼn opwindende en avontuurlike ervaring toe hulle die spel ‘skaak’ ontdek het.

Die Skaaktowenaar van Grootbos is nie net ʼn boek wat jonger kinders sal lus maak om te leer skaak speel nie, maar hulle leer ook lewenslesse wat goed versteek word in die teks – sonder dat die jong leser dit besef.

Volgens oom LJ se webblad (www.skaakmat.co.za),  is skaak een van die oudste speletjies in die wêreld, en volgens ʼn legende het skaak meer as 1 500 jaar gelede sy ontstaan in Indië gehad toe die koning destyds sy raadgewers gevra het om ʼn speletjie uit te dink wat nie net sy soldate in ʼn oorlog sou leer veg nie, maar ook sou leer om te dink oor hóé hulle moes veg.

Skaak is beslis ʼn spel wat mens sal leer om strategies te dink en ek is baie spyt dat ek slegs vir ʼn jaar of twee op laerskool skaak gespeel het. Hulle sê skaak help jou om beter te doen in vakke soos wiskunde en wetenskap ... so dalk is dít hoekom ek van die wa afgeval het: te min skaak!

Daar is heelwat maniere hoe mens kan leer skaak speel: skaakboeke, skoolafrigting, by ʼn vriend of familielid, ʼn persoonlike afrigter en deesdae met die wonderlike tegnologie, ook aanlyn.  Ons twee eekhorinkies, Ebie en Elkie, is egter sommer baie bevoorreg om hul eerste lesse in skaak nie net by ʼn persoonlike afrigter te kry nie, maar by ʼn skaakgrootmeester!

Die boek begin waar die twee Eekies, Ebie en Elkie, vir die eerste keer mense sien. “Hulle lyk snaaks, nè – dra sulke eienaardige velle om hulle en ... uhm, hul sterte is afgekap!” sê Ebie verbaas. (bl 4)

En so sal die twee avontuurlustige eekhorinkies nog heelwat met die twee mense te doen kry, want hulle is stropers wat in die Grootbos besig is met ʼn vreemde bordspeletjie − ʼn spel wat die twee eekhorinkies sommer baie interesseer.  Die beste ding wat met die twee kon gebeur het? Hulle ontmoet vir oom Vee, die trapsuutjies, wat hulle toe meer van die vreemde spel vertel en hoe meer Elkie hoor, hoe meer wil hy weet. En so begin die twee se informele skaaklesse by oom Vee.

Die tweede beste ding wat met ons twee eekhorinkies gebeur is die dag toe die skoolhoof aankondig dat daar nou skaaklesse by hul skool aangebied gaan word, maar Juffrou het natuurlik hulp nodig, want sy weet minder as niks van skaak nie. Na ʼn naamlose oproep kry sy ʼn interessante wenk wat haar help met skaakafrigting.

In hierdie boek leer ons nie net skaak speel nie, maar sommer ook ʼn paar lewenslesse. Een van die lewenslesse: Eerlikheid vorm vir my die kern van die boek. Ons leer dat wanneer iemand oneerlik was hulle een of ander tyd uitgevang gáán word. Ons leer van lojaliteit wanneer die twee eekhorinkies alles in hulle vermoë doen om iemand wie se naam skade aangedoen is, weer in ere te herstel. Ons leer ook van uithouvermoë. En ons leer wat ware vriendskap is.

Hoekom moet jong kinders leer skaak speel? Oom LJ noem nege redes op sy webtuiste, maar ek gaan net ʼn paar noem, want jy kan die res gerus by www.skaatmat.co.za gaan lees.

·         Skaak maak jou kind slimmer.

·         Dit verbeter konsentrasie.

·         Skaak help om aandag-afleibaarheid en hiperaktiwiteit te beheer.

·         Skaak verbeter logiese denke.

 

Vir dieselfde redes is skaak ook goed vir volwassenes, want ʼn studie wat deur die Albert Einstein Kollege vir Medisyne gedoen is het bevestig dat om gereeld skaak te speel jou risiko om Alzheimer se siekte te kry verminder omdat skaak jou breinfunksies stimuleer.

Natuurlik word sterker bande ook tussen ouers en kinders geskep wanneer hulle saam skaak speel.

Ek dink hierdie is ʼn heerlike boek om aan te koop vir jong kinders wat nie net die diere avonture in die boek sal geniet nie, maar ook nuuskierig genoeg sal raak om te wil leer om skaak te speel. Dis ook ʼn goeie geskenk vir ʼn onderwyser wat dalk skaak moet aanbied.

As jy meer wil weet oor skaak, kursusse (vir beginners en gevorderd) of om jou kopie Die Skaaktowenaar van Grootbos te bestel, volg gerus die skakel: www.skaakmat.co.za, en klik hier om die Eekies op Facebook te volg. Jy sal nie spyt wees nie!

© 2025. Surene Esterhuizen (surene21@gmail.com)

 

                 SKRYFLOOPBANE                                         Skryfkursusse                                  Blitskursusse