|
|
Resensie
|
|
kleurvol deur Erika Barnes Resensent: Surene Esterhuizen
Digkuns het my op skool al ore aangesit, veral wanneer ek moes probeer uitpluis wat die digter nou eintlik wou sê. Erika Barnes se nuutste bundel, en ook haar eerste Afrikaanse een, kleurvol, is nie iets wat jy hoef te probeer uitpluis nie. Jy kan dit net lees, geniet en lekker oordink. Dit is die tweede digbundel wat ek binne ʼn jaar lees: Die ander een was ʼn Ander wêreld deur Eunice Basson, uitgegee deur Protea Boekhuis. Soos ek tóé ook gesê het: Ek lees gedigte omdat dit vir my lekker is. Ek kan nie ʼn ontleding doen soos prof Alwyn Roux nie, maar ek kan darem uitstekende skryfwerk herken wanneer ek dit raaklees en dit beslis daarom baie geniet. Dit is duidelik op die agterblad van kleurvol: Hierdie digbundel is ʼn invloedryke, pragtige verhaal waar twee onwaarskynlike wêrelde bots. ʼn Verbode liefde in hierdie moderne wêreld, waar hoop konflikterende fronte bymekaar bring. Dit ontlont ʼn liefde wat die ware kleure van hoop oopvlek. Voorwoord: Die bundel is ʼn verhaal van hoop, verlies, aanvaarding en liefde. ʼn Verbode liefde in ʼn moderne wêreld, waar ons soms geskei word deur versperrings, sigbaar of onsigbaar. Hierdie verse weerspieël die uithouvermoë van harte, vasgekleef aan die liefde wat saak maak. Die verhaal stap ʼn pad deur die aksies, emosies en dieper gedeeltes van ons ondervindinge; ʼn diverse perspektief. Om uiteindelik die gevoel van eenheid, en belangriker, hoop, vas te vang – waar ons dieper kan lief hê en vashou aan die kleure van hoop. Niks van wat ek hieronder gaan deel, gaan sin maak nie, want niks is uit een gedig nie ... dis random reëls wat vir my mooi is, wat ek graag deel.
Daar is nog baie ander pragtige dele, maar jy sal maar moet belê in die bundel kleurvol sodat jy dit ook alles kan geniet. Ek hou daarvan dat Erika in vryevers skryf. Ek hou daarvan dat sy nie onverstaanbare simboliek gebruik sodat ʼn mens moet wonder wat sy wil sê nie. Haar bundel is opgedeel in hoofstukke wat die leser ʼn duidelike idee gee van waaroor die gedigte wat volg handel. Die een hoofstuk is veranner jou persepsie, dinge lyk anners van ʼn anner kant, ʼn ander een vanilla en kaneel en dan ook dieper as kleur. Soos julle kan sien ... niks onduidelik hieraan nie. Die bundel sal nie net deur die kieskeurige poësielesers geniet word nie, want dit is beslis ook toeganklik vir ‘n gewone leser soos ek. Volg gerus die skakel na Erika se webblad, waar jy ook haar bundel kan bestel: https://erikabarnespoetry.com/. Volg haar hier op Facebook. © 2025. Surene Esterhuizen (surene21@gmail.com)
|
|