Welkom by SA Vryskutskrywer - Kuberwinkel - Professionele Dienste

 

Manuskripontwikkeling saam met Riana Scheepers

Dit het jou maande geneem, maar jy het uiteindelik jou kortverhaal klaargeskryf. En dít sonder enigiemand se hulp of bystand. Maar wat doen jy nou daarmee? Hoe weet jy die kortverhaal is goed genoeg om aan ‘n uitgewer of tydskrif te stuur?

Vra vir Riana...

Dr Riana Scheepers is een van die gewildste en veelsydigste skrywers in Afrikaans. Uit haar pen het agt kortverhaalbundels, twee romans, ‘n digbundel, twee rubriekbundels, kinderverhale en verskeie akademiese en joernalistieke artikels verskyn. Sy is ook die samesteller van ses bloemlesings wat in Suid-Afrika en in België uitgegee is.

Riana bied haar uiters gewilde kursus in Skryfkuns en Kreatiewe Denke twee keer per jaar, in die herfs en lente, aan. Die bevordering van geletterdheid is vir haar ‘n passie. Sy tree ook as mentor op vir ontwikkelende skrywers.

Tans is sy beskikbaar om deur middel van SA Vryskutskrywer manuskripte saam met nuwe skrywers te ontwikkel. Sy wéét hoe ‘n kortverhaal moet lyk wat aanvaarbaar is want sy het haar kortverhaalskryfwerk tot ‘n fyn kuns vervolmaak. As sy dus reken jou kortverhaal is goed genoeg, kan jy maar solank ‘n uitgewer of tydskrif nader hark en begin smous...

Hier is die spesifikasies en koste verbonde aan Riana se manuskripontwikkeling:

 

Scenario 1 – Ek wil weet of my verhaal goed genoeg is om te publiseer

Gestel jy het ’n kortverhaalmanuskrip klaar geskryf en jy wil uitvind of dit goed genoeg is om gepubliseer te word. Stuur dit saam met ‘n R495-leesfooi aan ons sodat Riana dit kan lees.

Sou haar kennersoog en ondervinding reken die verhaal kan ontwikkel word tot op ‘n punt waar ‘n uitgewer dit graag sal aanvaar, sal ons jou laat weet en vra of jy wil voortgaan met die ontwikkeling (teen R195 per bladsy) en of jy die verhaal wil terughê mét 'n lesersverslag van Riana. Dan het die hele oefening jou net die R495-leesfooi gekos en jy weet immers of daar hoop is vir jou verhaal en waar om daaraan te skaaf.

 

Scenario 2 – Ek wil voortgaan met my verhaal se manuskripontwikkeling

Ons sluit by die vorige scenario aan en die R495 word nou as deposito vir die ontwikkeling aangeneem.

As jy graag saam met Riana jou manuskrip wil ontwikkel totdat dit persklaar is, sal die koste daaraan verbonde R195 per bladsy [NB. 450 tot 550 woorde per bladsy, dubbelspasiëring met lettertipe Ariel, 10 pt, paragraafkantlyninkeping (<tab>) van 2.5 cm] beloop. Hou in gedagte dat die lengte van ‘n gemiddelde kortverhaalmanuskrip gewoonlik tussen 1 000 en 10 000 woorde is. Jy kan dus vooraf uitwerk hoeveel dit jou sal kos teen R195 per bladsy. Jou waarborg is egter dat jou kortverhaal deur een van die genre se héél beste skrywers ontwikkel sal word.

 

Scenario 3 – Ek het ‘n hele bundel kortverhale geskryf

Omdat haar tyd baie beperk is, verkies Riana om op dié stadium slegs met enkelverhale te werk en as sy werklik skoongeboul is deur jou verhaal, sal sy jou uitnooi om meer te stuur. Streng gesproke het jy buitendien nie werklik nodig om ál jou verhale te laat beoordeel nie. Stuur slegs die een - of maksimum twee - in wat jou die naaste aan die hart lê of waaroor jy die meeste twyfel. Met Riana se hulp hoef jy slegs dié verhale te ontwikkel omdat jy daardeur sal leer presies waar jou ander verhale nog werk kortkom. Indien jy twee verhale wil instuur, geld dieselfde tariewe as vir 'n enkele verhaal.

 

Scenario 4 – Wat gebeur as my verhaal nie goed genoeg is nie?

Sou Riana jou manuskrip lees en reken daar is nog te veel werk aan verbonde, stuur ons hom aan jou terug met ‘n kort leesverslag sodat jy darem kan sien waaraan jy moet werk om dit te kan verbeter. Dan kos dit jou net die R495-leesfooi, maar jy weet immers waar om 'n bietjie aan jou verhaal te skaaf om hom uiteindelik persklaar te kry.

 

Vul onderstaande vorm in en heg jou verhaal aan - maksimum twee verhale - indien jy wil hê Riana moet saam met jou aan jou verhaal werk.

Naam:*
Van:*
Telefoon:*
E-pos:*
Adres:*
Dorp/Stad:*
Poskode:*
Jou boodskap hier, indien enige:
Verifikasienommer:*
contact form faq
 

  Terug na vorige blad