


Welkom by SA Vryskutskrywer - Taalghoeroe - Taalwenke 2
Het jy enige taalvrae of -tameletjies wat jy wil opper? Klik hier om 'n e-pos te stuur aan ons eie taalghoeroe, Louis van Rooyen.
Klik
hier vir die Vraag & Antwoord-blad.
Klik
hier vir die nuutste Taalwenke-blad.
Klik
hier vir R50-afslag op
Afrikaanse Skryfgoed 2008, die enigste Afrikaanse speltoetser wat saam met
Microsoft®Office werk.
Klik hier om uit te vind waarom
korrekte spelling noodsaaklik is.
Taalwenk 3
Afrikaans is geseën met min morfologie. Dit beteken verskynsels soos uitgange speel skaars ’n rol in ons stroombelynde taal.
Een oorblyfsel uit die vervloë morfologiese tye is egter die -s wat agter aan byvoeglike naamwoorde gevoeg word na iets, enigiets, veel, weinig, min, niks.
Dié -s het niks met die meervoud uit te waai nie; dis ’n taalfossiel wat terugslaan op die genetief (besitsnaamval) van definisie, iets wat menige Latynleerling met meester se lat laat kennis maak het.
Aangesien die byvoeglike naamwoord die voorafgaande woord omskryf of definieer, voeg ons ’n ‘genetiewe’ -s by: iets groots kom uit die bos tevoorskyn, sy vind enigiets soets onweerstaanbaar, veel goeds het uit die idee gespruit, sommige mense het weinig intelligents te sê, daar is toe min moois in die kissie, ek dink hy is niks wonderliks nie.
Taalwenk 2
Paronieme is stamverwante woorde, wat beteken hulle betekenis kan verwarrend na aan mekaar wees. So hoor mens byvoorbeeld gereeld hoe skadeloos met die betekenis van onskadelik gebruik word. Skadeloos is ’n term wat hoofsaaklik in die versekeringswese gebruik word: Jy word skadeloos gestel nadat die hael jou motor bygekom het, m.a.w. die versekeringsmaatskappy het jou jou skade vergoed. Die hael kon egter te klein gewees het om jou motor te beskadig, dan was die hael onskadelik. Mens kan ook ’n onskadelike gewoontetjie hê, soos om koddige taalverskynsels te versamel. Ietwat riskanter is om byvoorbeeld ’n bom of ’n gewapende rower onskadelik te maak!
Nog ’n woordpaar wat mens maklik verwar, is styl en steil. Die onderskeid is dat styl ’n selfstandige naamwoord (betekenis: raam, trant/wyse, plantdeel) is, terwyl steil (skuins, reguit/sluik) ’n byvoeglike naamwoord of bywoord is. Steilte is die selfstandige naamwoord afgelei van steil.
Taalwenk 1
Veral wanneer mens vertaal, moet mens maar wakker loop om nie deur die brontaal beïnvloed te word nie. In die geval van Afrikaans, is dit juis hoe Anglisismes dikwels insluip.
So is ons geneig om ‘at a snail’s pace’ klakkeloos te vertaal met teen ’n slakkepas. Die aanvaarde uitdrukking is met ’n slakkegang.



