


Welkom by SA Vryskutskrywer - Taalghoeroe - Taalwenke 1
Het jy enige taalvrae of -tameletjies wat jy wil opper? Klik hier om 'n e-pos te stuur aan ons eie taalghoeroe, Louis van Rooyen.
Klik
hier vir die Vraag & Antwoord-blad.
Klik
hier vir nog taalwenke.
Klik
hier vir R50-afslag op
Afrikaanse Skryfgoed 2008, die enigste Afrikaanse speltoetser wat saam met
Microsoft®Office werk.
Klik hier om uit te vind waarom
korrekte spelling noodsaaklik is.
Taalwenk 6
Hier is 'n paar woorde oor was gewees:
Ek lees onlangs in’n brief in ons plaaslike koerant: “Ek was ongelukkig dié dag uitstedig gewees.”
Daar is ’n toenemende neiging onder Afrikaanses om dié onnodige fout te maak. Waar kom dit vandaan?
Afrikaans het die vorming van die verlede tyd drasties vereenvoudig, ’n proses wat (ietwat onheilspellend!) die ‘nivellering van die werkwoord’ genoem word.
Eenvoudig gestel, het die verlede tyd twee basiese verskyningsvorme: die onvoltooide verlede tyd (imperfektum) en die voltooide verlede tyd (perfektum). Prakties gesproke is die imperfektum in Afrikaans tot niet. Met die uitsondering van die modale werkwoorde en fossiele soos wis (Ek wis dit nie) vorm ons die verlede tyd feitlik deurgaans met die het (ge-)-konstruksie, eerder as met verbuiging (agtervoegsels) of vervoeging (klankverandering of ablaut). Dink bietjie hoeveel memoriseerwerk dit ons jong Afrikanertjies spaar!
Interessant genoeg – en danksy die towerwoordjie ‘toe’ – gebruik ons by vertelling die teenwoordige tyd om die verlede tyd uit te druk. Neem nou in ag dat die teenwoordige tyd sommer ook die toekomende tyd (Sien jou môre) kan uitdruk, dan is dit duidelik dat Afrikaans nogal sy streke het...
Maar ’n nadeel van dié loslitbenadering is dat ons Afrikaners min erg aan die formele tye het. ’n Term soos plusquamperfektum laat ons koud. Dis waarskynlik waarom ons so maklik praat van was gewees wanneer ons bloot was bedoel.
Was gewees is die voltooide verledetydsvorm van is. Is se verledetydsvorm is was. Die briefskrywer het eintlik bedoel: “Ek was ongelukkig dié dag uitstedig.”
Dit wil sê, op ’n bepaalde dag iewers in die verlede het hy hom nie in die stad bevind nie.
Sistematies gestel:
Is as hoof- of koppelwerkwoord dui altyd op die teenwoordige tyd:
Ek is in die stad. Die kleintjie is honger.
Die verledetydsvorm hiervan is was:
Ek was in die stad. Die kleintjie was honger.
Word is saam met ’n voltooide deelwoord gebruik, ontstaan die voltooide teenwoordige tyd, wat dui op ’n aksie wat afgehandel is (moeilik te onderskei van ’n toestand):
My arm is gebreek.
Word was saam met ’n voltooide deelwoord gebruik, dui dit op ’n aksie wat in die verlede plaasgevind het, maar nou nie meer voortgaan nie:
My arm was gebreek (maar het sedertdien geheg).
Dink nou aan was gewees, die voltooide verlede tyd van is.
Eerstens, wat betekenis betref: In die lig van die bostaande verduideliking beteken was gewees dat daar bestaan is tot op ’n punt, waarna daar opgehou is om te bestaan en iets anders in die plek daarvan gekom het. Ontologies onmoontlik – in die gewone werklikheid kan daar immers nie ’n alternatief vir bestaan wees nie!
Tweedens, in die taalwetenskaplike sin: was gewees kan niks meer of anders sê as is gewees nie, dus is dit bloot toutologie of dalk hiperkorreksie.
Ek glo was gewees kan in feitlik geen alledaagse taalgebruik voorkom nie. Mens kan was gewees met vrug uit jou taalregister sny!
Taalwenk 5
Baie skrywers is onseker wanneer dit kom by die gebruik van -stander of -staander as tweede lid van ’n samestelling. Is dit nou buitestaander of buitestander, lampstander of lampstaander?
Tom McLachlan, Voorsitter van die Taalkommissie, het op 14 Desember 2008 tydens RSG se uiters nuttige en gewaardeerde program, Die Tale wat ons Praat, verduidelik die Kommissie het besluit dat -stander voortaan gebruik sal word om na mense te verwys, terwyl -staander vir nie-menslike voorwerpe geld, dus omstander maar hoedestaander.
Mnr. McLachlan meen die besluit sal help om die verwarring om dié woorde uit te skakel.
My taalintuïsie wil egter dat, aangesien die werkwoord in beide gevalle staan is, dit beter sou gedien het as die Kommissie net die enkele vorm -staander erken het. Met net een vorm – en boonop ’n logiese, afgeleide een – kan daar immers geen verwarring wees nie!
Taalwenk 4
Met sy poliglottiese woordeskat lyk Engels op die oog af baie anders as Afrikaans, maar albei die tale behoort aan die Germaanse taalfamilie. Danksy dié verwantskap kan mens baie pret hê met sinne soos My hand is in warm water, wat in albei tale lees. Omdat Engels so ’n oorweldigende teenwoordigheid in die wêreld van woorde is, word mens maklik daardeur beïnvloed. Die meeste van ons koes getrou vir ‘anglisismes’, maar daar is subtieler vorme van verleiding, veral op die sintaktiese vlak.
Een hiervan is die volgorde van bepalers, wat in Afrikaans tyd + wyse + plek is (Ek land môre per vliegtuig op Heathrow), maar in Engels process + place + time (I’ll be arriving by plane on Heathrow tomorrow). Veral wanneer mens vertaal, moet mens hiervoor oplet.
Ek lees in Beeld: “Findlay bly deesdae in Ierland, waar hy byna sy tweede roman voltooi het.”
Daardie plasing van byna grief my. Beteken byna ’n tweede roman eintlik ’n eerste roman? Wat natuurlik aan die gang is, is dat “sy tweede roman voltooi het” as ’n parentese beskou word, wat dan in sy geheel deur byna bepaal word. Vir my taalgevoel klink “Findlay bly deesdae in Ierland, waar hy sy tweede roman byna voltooi het” veel beter.
Afrikaans is ’n analitiese taal en span sintaksis veel eerder as morfologie in om die funksie van woorde aan te dui. Weer ’n voorbeeld uit Beeld, dié keer ’n kop: “Hunt ontleed knap psige van 'n nasie”.
Wat is nou knap, die psige of die ontleding? Met ander woorde, is knap 'n byvoeglike naamwoord of 'n bywoord? Die plasing in die sin bepaal knap se woordsoort. Indien die kop gelui het: "Hunt ontleed die psige van 'n nasie knap", was knap 'n bywoord - die ontleding is dus knap. Ek vermoed dis die eintlike bedoeling. Die sintaksis bepaal die betekenis van die sin!
Mens moet dus aandag skenk aan die plasing van die bepaler.



