Welkom by SA Vryskutskrywer - Skryfuitdaging - Maart 2010

 

Skryfuitdaging Maart 2010

Sluitingsdatum: 4 April 2010

Prysgeld: R300 vir elke kategoriewenner

Gegewe inligting: 18 Maart 1822. Dr James Barry word deur Lord Charles Somerset aangestel as koloniale mediese inspekteur.

James Barry is een van die mees interessante en flambojante figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hoewel hy sy lewe as man gelei het, is hy opgelei as mediese dokter in Engeland en uiteindelik die gesiene pos van Inspekteur-Generaal beklee het, het dit na sy dood geblyk dat hy in werklikheid ‘n vrou was. Dit word nou geglo Margaret Ann Bulkley, gebore tussen 1792 en 1795, graag ‘n dokter wou word en haarself as ‘n man voorgedoen het om toelating te kry tot die Universiteit van Edinburgh. As snydokter het Barry in Indië en Suid-Afrika praktiseer en die lot van soldate verbeter in militêre hospitale. Barry was die eerste Britse snydokter wat ‘n suksesvolle keisersnee in Afrika gedoen het waar beide moeder en kind die operasie oorleef het.

Dit is nie bekend presies wanneer Barry gebore is nie. Sommige bronne verwys na die jaar 1792, 1795 of selfs 1789. Daar is bewyse dat Barry as Margaret Ann Bulkley gebore is in Ierland, die kind van Jeremiah en Mary-Ann Bulkley, wat die suster was van ‘n bekende Ierse kunstenaar en professor, genaamd James Barry. Daar is briewe tussen Barry se ma en van sy oom se meer liberale, invloedryke vriende wat toon dat hulle saamgesweer het om hom met sy mediese studies te help. Die geskiedkundige Isobel Rae het in die vyftigerjare toegang tot Britse weermagrekords bekom, en daaruit afgelei dat Barry die niggie was van James Barry die skilder. Hy is begrawe in die Kensal Green Cemetery.

Daar is baie bewyse dat Barry as mens ‘n temperamentele en taamlik omstrede figuur was wat gereeld in die moeilikheid was weens sy ongeduldige geaardheid, sy sterk opinies en sy ondiplomatiese gedrag. Hy het na bewering in tweegevegte betrokke geraak wanneer daar opmerkings oor sy stem, gesig or professionaliteit gemaak is.

Maar as dokter blyk sy reputasie vlekkeloos te wees, en waar hy gegaan het het hy probeer om higiëse toestande en van soldate te verbeter. Hy het sy meerderes geïrriteer met sy versoeke om beter omstandighede vir soldate en het glo baie gekla oor enige onnodige lyding. Daar is melding van ‘n argument wat hy met Florence Nightingale gehad het gedurende die Krimoorlog (1854-1856)

Hy was ‘n vegetariër en het nie gedrink nie. Sy honde en ‘n manlike diensbode, genaamd John, was altyd by hom. Na Barry se dood, is John terug Jamaika toe. Barry was glo taamlik klein en het ‘n tengerige liggaamsbou gehad. Daar was baie gerugte oor sy persoonlike lewe, oor verhoudings wat hy met mans én vroue gehad het. Daar is ook bewerings dat rekmerke op die liggaam van Barry gevind is, wat sou kon dui daarop dat hy (sy) moontlik ‘n kind gehad het. Daar word nou ook geglo dat Barry moontlik ‘n hermafrodiet was.

Barry het in 1809 sy mediese opleiding begin by die Universiteit van Edinburgh. Hy het in 1812 sy graad ontvang en na Londen verhuis.

Barry het die gesondheidsdiens van die Britse Leër betree en het in Indië en Suid-Afrika gewerk. Hy het in Kaapstad aangekom tussen 1815 en 1817. Hy het die Mediese Inspekteur geword vir die kolonie en gedurende sy tyd aan die Kaap, hom bewywer vir ‘n beter watersisteem vir die Kaap, en sover bekend, die eerste suksesvolle keisersnee gedoen. Hy het die Kaap verlaat in 1828 en poste in Mauritius, Trinidad en Tobago asook Sint Helena, Jamaika, Korfu en Kanada opgeneem. Hy het in 1864 afgetree en teruggekeer Engeland toe.

Hy is op 25 Julie 1865 aan disenterie oorlede. Dit was sy bediende, Sophia Bishop, wat glo die eerste persoon was om agter te kom dat Barry werklik ‘n vrou was. Daarna het baie mense beweer hulle het “altyd geweet”.

Bron: wiki.nuwegeskiedenis.co.za

 

Uitdaging vir Kreatiewe skrywers

Verbeel jou jy is 'n biograaf by uitstek en 'n uitgewer het jou genader om dr James Barry se lewensverhaal - met kleur en geur - te skryf. Jy het reeds 'n paar persoonlike onderhoude met die goeie dokter gehad en gaan nou voor jou uiters moderne Remington tikmasjien sit om die boek te skryf. Hoe sal jy te werk gaan? Waar begin jy met die storie van iemand wat só enigmaties was dat min mense steeds seker is of die persoon 'n man of vrou was en waarom daar so 'n misterie aan hom/haar kleef? Watter inligting sal jy in die biografie vervat?

Wenk: Hou die datum (1822) in gedagte wanneer jy skryf. Probeer om jou storie so realisties moontlik te maak vir daardie tyd.

(Woordperk: 700 woorde)

 

Uitdaging vir Joernaliste

Verbeel jou jy is 'n verslaggewer by die Cape of Good Hope Government Gazette en jy is deur jou redakteur aangesê om die amptelike aanstelling van dr Barry by te woon. Hoe sal jy daaroor verslag doen? Sou destyds se koerantberiggewing drasties van die huidige manier verskil het?

Wenk: Hou die datum (1822) in gedagte  wanneer jy skryf. Probeer om 'n nuusberig/artikel te skryf wat so akkuraat moontlik vir daardie tyd is.

(Woordperk: 450 woorde)

 

                                       Sluit Venster