


Welkom by SA Vryskutskrywer - Vrae en Antwoorde
Ons Virtuele skryfskool open middel-Augustus 2010
Hoe werk ons Virtuele Skryfskool?
Die moderne samelewing neig ál meer na die kommunikasieghoeroe, Marshall McLuhan, se "globale dorpie" waarin miljoene mense deur middel van die internet verbind is. Kyk maar hoe gewild is sosiale netwerke soos Facebook, Twitter ens. Navorsing toon ook dat mense deesdae eerder aanlynvriendskappe verkies as die ware Jakob.
Net so met studies. Nie alleen groei aanlynstudies teen 'n ongekende pas soos dié wat SA Vryskutskrywer reeds deur middel van 'n paar dosyn skryfkursusse via e-pos en die internet aanbied nie, maar daar ontstaan selfs 'n groter behoefte aan 'n meer intieme tipe aanlynonderrig - maar sonder die nodigheid van 'n fisiese universiteit.
Ons hier by SA Vryskutskrywer het dus besluit om die voortou te neem en 'n Virtuele Skryfskool te begin waar studente vanuit alle uithoeke van die land - en wêreld - kan "klas draf" by 'n opleier, maar sonder om die gerief van hul huise te verlaat.
Hoe werk SA Vryskutskrywer se Virtuele Skryfskool?
Soos reeds gesê, word alle kursusse en kommunikasie deur middel van die internet gedoen, maar met dié verskil dat jy en jou opleier tydens die opleidingsessie albei deur middel van die internet en/of telefoon met mekaar in verbinding is. Meer eenvoudig gestel beteken dit dat as jou klas sesuur begin, jou opleier jou presies om sesuur by jou huis sal bel op die nommer wat jy aandui. Jy het die keuse dat jy jou klas óf deur middel van telefoononderrig kan loop, óf slegs deur e-pos. Die besluit is joune.
Wanneer jy op een van die skryfkursusse besluit het wat deur middel van die Virtuele Skryfskool beskikbaar is, sal jy dadelik jou kursusmateriaal ontvang net sodra jy die nodige kursusfooi betaal het. Jy het dus jou kursusmateriaal voor jou wanneer jy saam met jou opleier werk.
Met registrasie kies jy ook die tyd op die rooster wat jou sal pas. Nie alle kursusse word elke aand en Saterdae aangebied nie, maar dit word duidelik in die kursusinligting aangedui watter kursusse op watter dae aangebied word.
Klastye duur twee ure en is gewoonlik Maandae tot Donderdae vanaf 18:00 tot 20:00 saans en Saterdae van 11:00 tot 13:00 óf 14:00 tot 16:00. As dit vir jou onmoontlik is om enige van dié tye aan 'n klas af te staan, kan daar gereël word vir 'n tyd wat jou beter sal pas, maar dit sal slegs by uitsondering gedoen kan word.
Wat maak die Virtuele Skryfskool se kursusse anders as ander kursusse?
-
Jy kry onmiddellike persoonlike onderrig van 'n opleier asof jy in 'n klasopset is, maar dis individuele aandag en jy sit in die gerief van jou eie huis, by jou eie rekenaar en telefoon.
-
Jy kry dadelik terugvoering op die werk wat jy inhandig en jy en jou opleier kan jou werk of enige probleme of vrae dadelik bespreek, wat daartoe lei dat jy baie meer direkte raad en onderrig ontvang.
-
Elke klas duur twee ure wat lank genoeg is om die taak wat gedoen moet word, af te handel. Dié tyd is ook kort genoeg om te verhoed dat jy verveeld raak.
-
Die kursusse is só uitgewerk dat dit uitstekend is vir mense wat 'n opknappingskursus wil bywoon, maar nie fisies in 'n klas wil of kan gaan sit nie.
-
Ons kursusse is pret, hoewel baie leersaam. Teorie word tot die minimum beperk want ons glo aan die skrywersgesegde, “Wys my, moenie my vertel nie”. Ons WYS jou eerder hoe om te skryf deur skryfoefeninge wat jy self moet voltooi en per e-pos aan jou opleier voorlê vir evaluering.
-
Ons glo daaraan dat jy nie ‘n voornemende skrywer kan leer skryf as hy nie self oefening kry nie. Ons kursusse bevat dus verskeie skryfoefeninge wat jou help om jou skryfstyl te slyp.
-
'n Laaste werkstuk, wat na afloop van die klas gedoen en per e-pos aan jou opleier gestuur moet word, bepaal die finale kursuspunt, wat jy die volgende dag ontvang.
-
Ons hou NIKS terug nie. Ons deel ál ons kennis met jou. Sommige van ons opleiers het meer as 35 jaar ondervinding in hulle onderskeie skryfgenre en deel elke greintjie inligting wat hulle met bloedsweet deur die jare versamel het met jou. Ons vertel jou regtig ALLES wat jy moet weet om ‘n suksesvolle skrywer in jou gekose rigting te word.
-
Ons nasorg is buitengewoon goed aangesien jou persoonlike opleier altyd ná voltooiing van jou kursus beskikbaar is om jou van advies te bedien, sou jy dit benodig.
-
Omdat ons kursusse so intens en deeglik is, stap jy na voltooiing weg met ‘n persklaar stuk of twee wat jy aan die mark van jou keuse vir publikasie kan voorlê.
-
Jy word op ‘n persoonlike vlak deur van die beste skrywers in die land geleer presies hoe om jou skryftegniek te ontwikkel en/of te vervolmaak.
-
Dit kos jou niks ekstra nie omdat al die kommunikasie-onkoste deur SA Vryskutskrywer gedra word.
Wat is die toelatingsvereistes?
-
Goeie internettoegang, 'n telefoon en/of Skype-koppeling is noodsaaklik omdat dit die hoofbestanddele van die virtuele onderrigmetodes is.
-
Ons verwag ook dat jy, as voornemende skrywer, die basiese skryftegnieke soos grammatika en taalstyle reeds onder die knie sal hê.
-
Die enigste ander vereistes wat jy nog benodig om vir ‘n kursus in te skryf is deursettingsvermoë, belangstelling in skryfwerk en die ywer om te verseker dat jy in die mededingende wêreld van vryskutskryfwerk ‘n sukses sal kan wees.
Wanneer kan ek vir ‘n Virtuele Skryfskoolkursus registreer?
Omdat ons 'n aanlynskryfskool bedryf, kan jy enige tyd vanaf die middel van Januarie tot en met die einde van November vir 'n kursus inskryf. Ons aanvaar nie nuwe registrasies tydens Desember nie omdat die somervakansie wat in hierdie tydperk val, alles omver gooi en min mense is in staat om gedurende daardie tradisionele kuiertyd van die jaar te kan werk.
Hoe en waar registreer ek en wat gebeur na registrasie?
Klik op die registrasieblad-skakel wat op elke kursusleerplanblad is en volg net die aanwysings of, as jy reeds voor die tyd besluit het vir watter kursus jy wil inskryf, kan jy net op die VIRTUELE SKRYFSKOOL-KURSUSREGISTRASIE-skakel klik en inskryf.
Met alle kursusse sal jy jou verwelkomingsbrief, toewysing aan jou persoonlike opleier, bevestiging van tyd en datum van die virtuele klas en studiepakket binne 24 uur na ontvangs van jou betaling ontvang.
Hoe betaal ek die kursusfooie?
-
Vir jou gerief en gemoedsrus het ons die dienste van PayFast, 'n Suid-Afrikaanse aanlynbetalingsagent soortgelyk aan PayPal, bekom om betalings in alle vorms te aanvaar indien jy verkies om aanlyn te betaal.
-
Kredietkaarte, elektroniese inbetalings en tussen bank-oorplasings word onder meer deur PayFast ondersteun.
-
Jy kan ook die fooie deur middel van ‘n elektroniese bankoordrag, tjekdeposito of kontantdeposito by die bank inbetaal.
-
Alle nodige inligting is op die kursusblaaie vervat.
Watter baat sal ek by SA Vryskutskrywer se Virtuele Skryfskoolkursusse vind?
-
Ons leer jou alles wat jy nodig het om jou toe te rus om op jou eie die vryskutskryfmark te betree. Hierby ingesluit is ook basiese besigheidswenke want die enigste manier hoe jy werklik suksesvol as vryskutskrywer of -joernalis kan wees, is as jy jou werk soos 'n volwaardige besigheid benader. En ons wys jou presies hoe om te begin en verder te werk te gaan.
-
Van die aspekte waarop ons konsentreer is die Afrikaanse media-industrie self, ingeligde wenke oor tydskrifte, koerante en uitgewers wat nêrens anders in Afrikaans te vinde is nie, hoe om jou werk te verkoop, waar om idees te kry en hoe om hulle na te vors totdat die finale produk uit jou pen verskyn. Ander kwessies soos kopiereg, plagiaat, belasting, besigheidswenke en markte waar jy jou werk gepubliseer kan kry, word ook gedek. Kortom, as daar enige aspek van vryskutskryf is wat ons níé in ons kursusse dek nie, is dit heel moontlik nie die moeite werd om te weet nie!
-
Na voltooiing van jou kursus stap jy weg met 'n grondige kennis van dít waarvoor jy ingeskryf het, sowel as die begin van 'n portfolio wat hopelik vinnig sal uitbrei.
Is SA Vryskutskrywer se Virtuele Skryfskoolkursusse geakkrediteer?
Nee, maar ons reik ‘n Sertifikaat van Voltooiing uit as al die vereistes vir ‘n betrokke kursus nagekom is en ons help jou om jou eerste treë op jou vryskutpad te gee. Ons bied ook volledige na-kursus ondersteuning.
Aan watter vereistes moet ek voldoen om 'n Sertifikaat van Voltooiing te verwerf?
-
Ons standaard is hoog – vir beide kursusopleiers sowel as studente – en ‘n slaagsyfer van minstens 65% sal verseker dat jy ná voltooiing van die kursus werklik toegerus is om die opwindende en uitdagende wêreld van vryskutskryf aan te pak. Om ‘n laer slaagsyfer te vereis is soos om ‘n soldaat sonder sy geweer oorlog toe te stuur of 'n dokter wat sy kursus gedruip het, in 'n operasieteater los te laat.
Indien daar enigiets is waaroor jy nog onduidelikheid het, stuur asseblief vir ons jou navraag deur middel van onderstaande aanlynvorm.



