Riana Scheepers

Dr Riana Scheepers is een van die gewildste en veelsydigste skrywers in Afrikaans. Uit haar pen het agt kortverhaalbundels, twee romans, ‘n digbundel, twee rubriekbundels, kinderverhale en verskeie akademiese en joernalistieke artikels verskyn. Sy is ook samesteller van ses bloemlesings wat in Suid-Afrika en in België verskyn het.
Riana bied haar uiters gewilde kursus in Skryfkuns en Kreatiewe Denke twee keer per jaar, in die herfs en lente, aan. Die bevordering van geletterdheid is vir haar ‘n passie. Sy tree ook op as mentor vir ontwikkelende skrywers.
Sy is reeds bekroon met die Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys (1992), die ATKV-prosaprys (1991), die FAK-prys (1991) en die ATKV Kinderboekprys (2001).
In 2006 behaal sy die uitsonderlike prestasie
dat haar werk met vier pryse bekroon word:

• Die musikale verwerking van haar kinderboek Die avonture van wilde Willemientjie (verwerking en regie deur Niël Rademan) word tydens die KKNK (2006) bekroon met die gesogte KANNA-prys as beste kinderproduksie,
• Die Rapportryers se Erepenning word aan haar toegeken met spesiale verwysing na die Katriena-trilogie,
• Sy ontvang die Patrick Petersenprys wat jaarliks deur die Afrikaanse Skrywersvereniging toegeken word, met spesiale erkenning vir haar bydrae tot geletterdheid vir vroue en agtergeblewe gemeenskappe,
• Die Departement van Landbou (Wes-Kaap) ken ‘n spesiale prys toe aan haar en Nicci Thabo, samestellers van die bundel Die melkweg het ‘n ster laat val, vir die kulturele bydrae wat die boek gelewer het onder plaaswerkers.
Haar literêre werk is vertaal in Nederlands, Spaans, Frans en Engels.
Riana woon op die historiese wynplaas De Compagnie in die Wamakersvallei. Sy is bedags plaasbestuurder en snags skrywer. Sy woon ook op Paternoster in ‘n visserhuis, in Namibië in ‘n spookhuis en in ‘n kliphuis in die Tankwa-Karoo.