Petro Roosendaal

Kursussamesteller en -opleier:

Kortverhaalkursus           "Harde nuus"-Verslaggewing

Kontak Petro

 

 

My loopbaan het begin as aanklaer in die onderhoudshof by Pretoria se landdroskantoor. Dit was daar waar ek deur die hooflanddros, Heindrich Moldenhauer, genader is om my heel eerste navorsingsprojek saam met ‘n joernalis van die Pretoria News aan te pak.

'n Grimeerkunstenaar van TRUK het ons as twee boemelaars opgemaak waarna ons vir ‘n week op Kerkplein moes gaan bly. Die doel van die projek was om te bepaal wat die erns van dwelmmisbruik onder tieners was. Dit het onder meer aspekte soos “Rave Clubs”, dwelmsmokkel by lughawens en die koop en verkoop van dwelms veral onder tieners behels. Die eindresultaat van die projek het geweldig baie reaksie uitgelok en ek en my kollega het vir meer as ‘n week die media se hoofopskrifte ingepalm.

Dit was na hierdie projek wat ek betrokke geraak het by misdaadverslaggewing vir die Polisie en die navorsing van misdaadverwante aangeleenthede. Van my navorsing is gebruik deur programme soos Carte Blanche, Channel 4, e-tv en SAUK Nuus. Selfs die Britse tydskrif Master detective / True Crime, het van my stories gepubliseer.

My heel eerste volwaardige tydskrifartikel was 'n storie oor vermiste kinders, gevolg deur 'n exposé oor polisieselfmoorde vir die destydse Insig. Hiervoor het ek 'n Mondi-nominasie ontvang en uiteindelik met die Finalistoekenning in my kategorie weggestap.

By e-tv was ek verantwoordlik vir die navorsing vir die TV drama, Jozi Street, wat gebaseer was op ware en opspraakwekkende moorde in Suid Afrika. My navorsing is aangewend vir die skryf van die draaiboek.

Terselfdertyd was ek betrokke by die navorsing vir dr Micki Pistorius se boek, Fatal Females, wat oor Suid-Afrikaanse vroulike moordenaars gehandel het.

Ek het ook die Australiese skrywer, Rob Parnel, bygestaan met sy navorsing oor Australiese reeksmoordenaars. Sy manuskrip wag tans vir publikasie. Dit gebeur egter baie selde dat 'n Suid-Afrikaanse navorser of skrywer genader word om navorsing in 'n ander land te doen.

Op die dramafront is ek ook steeds baie bedrywig. Vrou van die tyd is 'n drama wat op ware gebeurtenisse geskoei is. Dit handel oor vrouwees en vertel die verhaal van alle moontlike traumas wat 'n vrou moet deurmaak en steeds 'n suksesvolle sakevrou, minnaar en ma moet wees. Dié drama is op versoek van die nasionale president van die SA Raad vir Sakevroue geskryf en in Pretoria se Performer Theatre opgevoer. Nóg 'n speelvak het in die Pierneefteater gevolg.

Ander teaterstukke uit my pen is onder meer The Toy Chest, Die Speelgoedkas, Vrou van die tyd, Korrels van deernis, en Tyd om te groet.

Ek skryf ook graag poësie en twaalf van my gedigte is onlangs deur die sangeres, Anel van Schalkwyk, getoonset. Sy het ook reeds 'n album met hierdie toonsettings vir haar portfolio opgeneem.

Tot onlangs was ek by Robinson Regstreeks op KykNet betrokke, maar nadat Kupido se liefdespyltjie my sekuur getref het, het ek 'n kunswinkel op Kestell in die Vrystaat geopen. Ek bly egter steeds 'n vryskutskrywer, -kunstenaar en -navorser.

Sluit Venster