Welkom by SA Vryskutskrywer - Nuusbrief

Nuusbrief #9/2016 - 1 SEPTEMBER 2016                                                                               

Chanette Paul

Chanette Paul is een van Afrikaans se bekendste, gewildste en bedrywigste skrywers. Wanneer jy hierdie onderhoud klaar gelees het sal jy ook besef dat skryf nie vir kabouters is nie! Dit is harde werk! Lees hier wat sy alles te sę het:

1. Jy het al baie boeke die lig laat sien. Hoeveel? Jy is seker nou al skatryk! Ek dink Offerande (wat volgende maand verskyn) is nommer 42. En ja, ek ís skatryk. Skatryk aan werksbevrediging, aan nuwe węrelde wat met elke boek vir my oopgaan, skatryk aan wonderlike lesers wat my boeke geniet en my laat weet wat hulle geniet het. Skatryk in vele opsigte. Maar as jy wil geld maak, vergeet van skryf. Ek moet steeds ʼn tweede beroep beoefen om kop bo water te hou.

2. Sou jy aan jou eerste boeke iets wou verander? Of het die babas groot geword en moet nou maar hulle eie potjie krap ... Elke keer as daar ʼn herdruk is en ek weer deur ʼn ouer manuskrip moet gaan, beweeg ek tussen twee pole. Een waar ek wens ek kon hierdie hopelose stuk skryfwerk verander en een waar ek verras is oor hoe lekker ek kon skryf toe ek nog soveel minder van skryf af geweet het. Ek verander gewoonlik net kosmeties, laat sinne lekkerder vloei en dies meer. Elke boek verteenwoordig ʼn fase in my lewe en skryfloopbaan, en dit is sy bestaansreg – warts and all.

3. Jy het vir 20 jaar nie geskryf nie. Maar toe die gogga jou (weer) byt, volg die een boek na die ander. Wat het jy in hierdie twintig jaar gedoen, ook ten opsigte van die skryfkuns?  Ek het studeer, getrou, in die klerebedryf beland en geleef en beleef. Mens kan dit sien as twintig jaar se navorsing vir die boeke wat sou volg.  

Ek het nie veel geskryf nie. Dit was asof ek asem opgehou het vir die tyd wanneer skryf wel oor my pad gaan kom, sonder enige mate van sekerheid of dit ooit wel sal gebeur. Ek moet my nou nog soms knyp om seker te maak ek is wakker en dat ek toe wel die droom wat ek gehad het vandat ek kan onthou, waar kon maak.

4. Word jy nie moeg van skryf nie? Hoe gaan jy te werk as jy ‘n boek begin? Op 29 Julie sę jy op jou Facebookblad “Dis weer sulke tyd!” met ‘n mooi skets van iemand wat aan die skryf is! Enige genreverandering? Ek word soms moeg gedurende en beslis teen die einde van ʼn manuskrip. Ek raak soms moeg tydens al die prosesse waardeur ʼn manuskrip moet gaan. Maar moeg vir skryf, sal ek nie word nie. Solank as wat my verstand, oë, hande en gesondheid hou, sal daar altyd nog ʼn storie wees wat ek wil skryf.

Ek skryf tans weer aan ʼn spanningsroman en dit lyk asof Jojo Richter, wat veral in Siende Blind en Ewebeeld gefigureer het, weer in my sop geval het. Ek dink ek sal hoofsaaklik by spanning bly in die afsienbare toekoms, maar ek beoog wel om binne die volgende jaar of twee ʼn genreskuif te maak na ʼn ander soort spanningsroman. Maar daaroor wil ek op die oomblik liefs nog niks sę nie.

5. Hoeveel skryftalent moet ‘n goeie skrywer hę? Kan enige iemand ‘n “skrywer” word? Ek wens ek kon sę enigiemand kan ʼn skrywer word. Daar is heelwat How to ... boeke wat dit beweer. Ek is egter al so twaalf jaar lank ʼn manuskripontwikkelaar en het honderde manuskripte onder oë gehad. Daar is drie soorte manuskripte. • Die uitskieters wat dadelik vir jou sę hier het ons ʼn nuwe skrywer van formaat. Dit is die groot uitsondering. • Manuskripte wat glad nie werk nie en mens kan sien die skrywer gaan dit waarskynlik nooit maak nie. Dis ongelukkig waar van die grootste gros manuskripte. • En dan is daar ʼn hele klomp wat mens kan sien: Hier kan iets van word. Met leiding en as die skrywer ontvanklik is en bereid is om hard te werk, kan hy of sy suksesvol wees.

Ek moet byvoeg dat selfs die uitskieters altyd nog heelwat skaafwerk en leiding nodig het. Uit al die honderde manuskripte wat ek al gelees het, was daar nie een wat ek na die uitgewer kon stuur en sę vat dit net so nie.

Dus ja, mens moet skryftalent hę nes ʼn atleet talent moet hę. Hoeveel? Ek dink nie mens kan dit meet nie. Wat jy wel kan meet, is hoeveel werk iemand met skryftalent in sy manuskrip sit. Dis maar net soos ʼn atleet wat hard moet werk om mededingend te kan wees. Die hoeveelheid harde werk, erns en toewyding maak die verskil tussen sukses en mislukking.

6. Het jy self skryf- of slypskole bygewoon, of het jy maar deur jou studies “geleer”. Veroorsaak skryfskole nie dat nuwe skrywers dan almal op dieselfde manier wil skryf nie; en dat dit wat hulle leer dan vir hulle die alfa en omega is nie? Word vernuwing nie dan in die kiem gesmoor nie? Ek het toe ek pas begin skryf het ʼn ATKV-Herfsskryfskool bygewoon wat my geweldig begeester het. Ek was ook al as fasiliteerder/mentor betrokke by ʼn hele spul skryfskole, slypskole, skryfkursusse en dies meer.

Skryf- en slypskole is van onskatbare waarde. Twee mense wat dieselfde skryfskool bywoon en oor presies dieselfde tema skryf, kan nooit met dieselfde storie of skryfstyl vorendag kom nie. Elke skrywer het sy eie stem en benadering. Waarmee skryfskole jou wel help, is om die toerusting onder die knie te kry om jou te help om jou stem op die suksesvolste moontlike manier te vind. As jy die basis het, skryftegniese aspekte verstaan, kan niemand vernuwing keer nie. As jy die “reëls” ken, kan jy hulle soveel suksesvoller breek.

Wat die skrywer ná ʼn skryfskool met hom saamneem na sy studeerkamer toe, is net die begin. Iemand kan nie net besluit hy wil ʼn dokter word en dink dis genoeg om ‘n noodhulpkursus te voltooi, ʼn wit jas aan te trek en ʼn stetoskoop om sy nek te hang nie. Dieselfde prinsiep geld vir skrywers.

Skryfskole was vir my wonderlik, maar waar ek werklik geleer het, is eerstens deur van kleins af wyd en baie te lees. Tweedens deur ook op te lees oor die ambag van skryf. Daar is duisende How to ... boeke beskikbaar – goeies en swakkes/misleidendes. Veral in die begin is dit goed om deur soveel te werk as wat jy kan en daaruit te distilleer wat vir jou sin maak en by jou skryfstyl en manier van storiemaak pas. Derdens deur te skryf, te herskryf, oor te skryf en weer te skryf. Vierdens om altyddeur aan te hou lees, wyd te lees en by te hou met wat in jou genre aangaan.

7. Jy skryf voltyds en doen baie navorsing. Kry jy tyd om ander goeie werke ook te lees? Indien ja: Watter boeke lees jy graag? Ek kan om finansiële redes ongelukkig (nog) nie heeltemal voltyds skryf nie. Ek is ook ʼn manuskripontwikkelaar vir Lapa en dit neem ʼn goeie derde van my tyd in beslag. En ja, navorsing maak ook ʼn substansiële duik in my tyd, maar dis deel van skryf.

Vir my navorsing lees ek heelwat nie-fiksie boeke. Hoeveel en wat hang uiteraard af van die storie waaraan ek werk. 

Benewens die 3-4 manuskripte wat ek maandeliks as ontwikkelaar lees, lees ek wat fiksie betref gemiddeld 3-5 boeke per maand. Ek lees hoofsaaklik in die misdaadgenre en dis ʼn groter mondvol as wat baie mense besef. Die misdaadgenre is oneindig uitgebreid en ek probeer byhou met nuwe tendense, verskillende subgenres, verskillende benaderings en invalshoeke en verskillende skryfstyle asook nuwe skryftegniese neigings. Ek lees egter ook in baie ander genres. Ek was byvoorbeeld onlangs beďndruk met die boek The Lie Tree. Wat ek besluit om te lees, hang van my leesluim af.

8. Laat jy jou baie lei deur redigeerders? Wat is die waarde van redigeerders en proeflesers? Wat dink jy van selfpublikasie? Redigeerders is die engele wat jou as skrywer van baie bloosoomblikke red en jou manuskrip help poets tot dit so blink as moontlik is.

Daar is natuurlik verskillende soorte redigeerders. Ek heg geweldig baie waarde aan wat keurders sę en hoe strenger die keurder is, hoe groter is die kans dat my manuskrip beter aan die anderkant gaan uitkom. Ek leer ook baie uit redigering wat meer op taalversorging toegespits is. Soms sit ek en ʼn teksredigeerder bietjie vas, maar weer eens kom my boeke beter aan die anderkant uit. Sonder proeflesers sou boeke onafgerond gewees het. Hulle sien raak wat die res van ons nie raakgesien het nie.

Daar is niks verkeerd met selfpublikasie nie, solank dit professioneel aangepak word. Geen skrywer kan sonder goeie redigering ʼn boek van gehalte publiseer nie. Selfpublikasie verg ook baie tyd en kennis van dinge soos bemarking, verspreiding en dies meer. As ʼn mens die tyd het om die soort dinge te doen wat uitgewers normaalweg namens jou hanteer en jou teks is professioneel versorg, is selfpublikasie ʼn roete waardeur jy persentasiegewys veel meer geld kan maak as met tantieme.

9. Ek sien jy het as kind ‘rond en bont’ grootgeword en nege skole bygewoon en na skool ook baie verhuis. Dit is ook ‘n tipe “reis”. Dink jy dit was ten goede om meer van die “węreld” te sien en nie net vasgevang te word in een klein węreldjie om jou nie? Skrywers wat hoofsaaklik in een omgewing grootgeword en as volwassene daar gebly het, het die voordeel dat hulle hul kontrei en die mense wat daar woon ten beste kan uitbeeld. Nomades soos ek het nou weer die voordeel dat ons al bietjie van alles beleef het. ʼn Mens maak maar die toebroodjie met die bestanddele wat jy het. Die meeste skrywers wat ek ken – hoe en waar hulle ook al grootgeword het – is egter baie berese. Dis belangrik om nuwe węrelde en horisonne te ervaar omdat dit ook jou mensekennis en emosionele ervaringswęreld uitbrei.

10. Waarom het jy nie net by een genre gebly nie? Is dit ‘n tipe ontwikkeling van jou as mens wat ingetree het? Ek hou van uitdagings. My eerste uitdaging was om ʼn romanse te skryf en gepubliseer te kry. Toe ek dit reggekry het, het ek my eers daarin verlustig. Gedurende daardie tydperk het ek egter ook die behoefte gehad om my vlerke in ernstiger genres te toets, wat ek gedoen het. En agtergekom het dis nie vir my bedoel nie.

Ek wou egter van die begin af by die misdaadfiksie uitkom. Dis my leesvoorkeur en ek wou dit bitter graag probeer. Dit klink nou dalk vreemd, maar toe was dit nie ʼn gewilde genre in Afrikaans nie en uitgewers was versigtig. In 2007 het my uitgewer egter ingestem dat ek maar die sprong kan waag. Ek varieer nog binne die genre en stel steeds uitdagings aan myself, maar dis waarskynlik die sambreel waaronder ek sal bly skryf. Gelukkig is dit ʼn groot sambreel.

11. Jou siening oor kritiek: Vroeër hierdie jaar was daar nogal ‘n redelike polemiek oor “Offerlam” nadat een resensent beweer het jy “misluk” met die boek. Hoe hanteer jy sulke kritiek? Dis enige iemand se reg om sy opinie te gee. Ook om krities te wees – of dit opbouend of afbrekend is. ʼn Skrywer moet van die begin af ʼn renostervel ontwikkel. Kritiek is inherent deel van die skryfproses en ná publikasie sal daar steeds kritiek wees. Ek het werklik geen kwessie met kritiek nie, dis ‘part of the game’ en ʼn mens leer baie daaruit, solank dit behoorlik gemotiveer en afgestem is op my boek – nie gemik is teen my as persoon nie.

ʼn Resensent, anders as ander kritici, moet egter sy/haar kritiek motiveer en formuleer binne die raamwerk van sy professie. Hy moet weet hoe om punte van kritiek in ʼn deurdagte resensie te omskep. Uit so ʼn resensie kan ek leer – of dit nou my boek positief of negatief belig.

Een van ons bekendste Afrikaanse skrywers het baie jare gelede vir my gesę ʼn resensie sę dikwels meer van die resensent as van die boek wat geresenseer word. Sedertdien is dit die lig waarin ek resensies sien.

12. Vir ons leke: wat is “bladproewe”. By jou inskrywing op Facebook, waar jy sę dat Offerande nou gereed is om na die produksiespan gestuur te word, is ‘n foto van ‘n dik pak papier en op die rekenaarskerm die titel van die nuwe boek. Word alles nie deesdae net elektronies gedoen nie? Bladproewe is die manuskrip in sy voltooide vorm wat na die proeflesers gaan om die laaste foute op te spoor en reg te maak. Spel-, leesteken-, setfoute en dies meer word gekorrigeer en ek mag hier en daar ʼn sin beter stel.

Ek verkies steeds om bladproewe op harde kopie deur te gaan – daardie dik pak papier op die foto is dus my manuskrip in uitgedrukte vorm. Op die skerm lees mens makliker oor foute heen as in gedrukte vorm. Nadat ek die bladproewe op papier deurgewerk het, dra ek die voorgestelde veranderings na die PDF-dokument oor. Daarna gaan dit na die bladproefkoördineerder wat die verskillende proeflesers se aantekeninge kontroleer.

Bladproewe is gewoonlik ook die stadium waar ek sien ek moes eintlik die boek anders geskryf het, maar spyt kom te laat.

13. Hoe lank neem dit vandat jy ‘n boek klaar geskryf het tot publikasie? Hoekom neem dit so lank? Dit hang af wat mens bedoel met ‘klaargeskryf’. Daar is verskillende fases. Eers skryf ek die eerste weergawe (first draft). Gewoonlik neem ek dan ʼn ruskans van so twee weke en begin dan ernstig herskryf en redigeer. Van daar af gaan dit uitgewer toe en dié stuur dit na ʼn keurder/manuskripontwikkelaar. Van hier af laat die uitgewer sewe maande toe.

Die keurder kry gewoonlik ʼn maand om deur die manuskrip te gaan en ʼn verslag te stuur. Intussen werk ek en die uitgewer aan goed soos die omslag, stof vir persverklarings, flaptekste en dies meer.

Ná ek die verslag ontvang het, begin ek herskryf, spreek die probleme wat die keurder uitlig aan, maak goed wat ek self raaksien reg en verbeter waar ek kan. Dis ʼn baie intense proses aangesien elke verandering wat mens aanbring ʼn rimpeleffek het op die storie as geheel. Gewoonlik gaan ek hierna ʼn paar keer weer deur die manuskrip – minstens een keer op harde kopie, maar meesal meer. Dit alles duur gewoonlik nog ʼn maand, maar gewoonlik ʼn bietjie langer afhangende van ʼn paar faktore – onder meer hoeveel daar fout was en hoe maklik dit is om reg te maak.

Daarna gaan dit weer na die uitgewer. As dié tevrede is, gaan dit na die redigeerder. Die redigeerder doen hoofsaaklik taalversorging, maar lig ook probleme uit wat ons tot dusver oorgesien het. Van die redigeerder af kom dit terug na my toe. Ek gaan deur die geredigeerde manuskrip en ek en die redigeerder stryk goed uit waarmee ek dit nie eens is nie. Hierdie hele proses duur ongeveer nog ʼn maand.

Nou word die manuskrip geset en daarna kry ek en ʼn spannetjie proeflesers die bladproewe. Ons het ʼn maand grasie. Elkeen dui aan waar daar probleme is en ʼn bladproefkoördineerder sit alles bymekaar. Sy opper soms ook nog goed wat sy bevraagteken. Sodra ons dit uitgesorteer het, is die manuskrip reg om drukker toe te gaan.

Wat daarna presies gebeur, weet ek nie mooi nie, maar ongeveer ‘n maand of twee later, land die boek by die uitgewer. Daar word proefsteke gedoen om te sien of die omslag reg uitgekom het, die boek reg gebind is en dies meer. Daarna word die boeke na die boekwinkels versprei en ongeveer twee weke later is dit op die rak.

Dit neem my dikwels minder tyd om die eerste weergawe te skryf en reg genoeg te pluk om dit uitgewer toe te kan stuur, as wat dit daarna neem tot die boek op die rak is. Die kreatiewe proses duur dus dikwels korter as die res. Dis een van die dinge wat niemand jou vertel voor jy self begin skryf en agterkom hoeveel harde werk daar in ʼn boek ingaan nie.

14. Jy gaan in Oktober by Aardklop saam met ander skrywers oor “die grens tussen feit en fiksie” in misdaadromans in gesprek tree. Hoeveel van jou eie werk is op “werklikheid” gegrond? Dit hang van boek tot boek af. Die Gys Niemand-reeks speel byvoorbeeld in ʼn denkbeeldige distrik af terwyl die Offer-tweeluik tree vir tree die werklike Belgiese omgewing portretteer.

Ek probeer ʼn balans hou tussen fiksie en feitelikhede. Terwyl die leser die boek lees, moet sy dit as realisties ervaar al is die gebeure en karakters, en soms selfs die milieu, fiktief.

Die storie self is sonder uitsondering ʼn vlug van my verbeelding, maar ontvou in ʼn realistiese geografiese, sosiale en emosionele omgewing. Die karakters is ook deur die bank fiktief en ek vra altyd dat lesers selfs historiese figure en werklike omgewings steeds as fiksie moet beskou, al probeer ek alles so goed as moontlik navors en so realisties moontlik uitbeeld. Ek skryf dus stories oor mense wat dalk kan bestaan en dinge wat dalk kan gebeur in ʼn werklikheid wat realisties klink, maar dit bly fiksie. Ek lieg vir ʼn lewe.

15. Terug by resensies: Wat is jou siening oor resensies in die algemeen? Wie kan/mag boeke resenseer? Konsentreer baie resensente nie te veel op die “hogere” letterkunde nie? Sogenaamde “hogere” letterkunde, oftewel literęre fiksie, kry steeds baie meer aandag en blootstelling as ontspanningsfiksie. Dis nie per se vir my ʼn probleem nie. Dis vir my belangriker dat resensente, wanneer hulle wel ontspanningsfiksie resenseer, verstaan waarmee hulle te doen het en ʼn ingeligte uitspraak kan lewer. Dat hulle appels met appels sal vergelyk en nie vye met turksvye nie. Dat hulle sal verstaan daar is ʼn verskil tussen literęre-, algemene- en ontspanningsfiksie en dat een nie beter is as die ander nie – net anders.

Voorheen was ontspanningsfiksie die stiefkind in Afrikaanse literatuur, maar het desondanks die afgelope tien jaar ontplof. Ons het dus nie ʼn goeie, ingeligte tradisie van die beoordeling van ontspanningsfiksie nie. Ontspanningsfiksie word deesdae baie meer dikwels geresenseer as wat dit in die verlede die geval was, maar suig in vele opsigte steeds bietjie aan die agterspeen.

Resensente is dikwels nie genrekundig nie. Daar is baie genres en subgenres en dan is daar nog skrywers, soos ek, wat genres en subgenres vermeng of die grense oorskry. Resensente verstaan egter dikwels selfs nie basiese genreverskille soos byvoorbeeld wat ʼn speurroman behels in vergelyking met ander soorte misdaadfiksie nie.

ʼn Mens kan byvoorbeeld nie in ʼn resensie ʼn “suspense” roman of ʼn sielkundige riller of ʼn spekulatiewe roman met ʼn speurroman vergelyk om ʼn waardeoordeel te vel nie. Die genres het totaal verskillende doeleindes en is vir verskillende gehore en leesluime bedoel. Die resensent se vraag moenie wees of hierdie skrywer se sielkundige riller net so goed is as daardie een se speurverhaal nie. Die vraag moet wees: Hoe goed is hierdie sielkundige riller in vergelyking met ander sielkundige rillers? Dit verg ʼn wye verwysingsraamwerk wat die internasionale mark moet insluit.

Dis al heelwat beter as wat dit was, maar daar is nog geweldig baie ruimte vir verbetering. Resensente sal hulle sokkies moet optrek as hulle die lesers behoorlik en kundig wil inlig oor al die wonderlike boeke wat deesdae in Afrikaans verskyn.

16. Enige ander raad wat jy aan voornemende skrywers (oud en jonk) wil gee? Lees, lees, lees en lees nog. Nie net die soort boek wat jy graag wil skryf nie, maar ook boeke oor skryf as ambag. En moenie probeer om in ʼn genre te skryf wat jy nie binnestebuite verstaan nie. As jy nie van nature ʼn leser van liefdesverhale is nie, gaan jy nie daardie “romansetjie” kan skryf nie. As jy nie van nature ʼn speurromanleser is nie, moenie een probeer skryf net omdat dit nou gewild is nie – jy is nie toegerus nie. En moet asseblief nooit dink jy kan gou iets aanmekaar slaan en/of geld maak daaruit nie.

Skryf is baie, baie harde werk. Ongelukkig verstaan mens dit eers as jy klaar die afgrond in is. As skryf nie jou erns is nie, los. As dit jou erns is … sterkte en simpatie.

Het jy al ANNA VAN DER WALT se twee boeke - Leo en die opvolg Stellamarie - aangeskaf?

’n Buiteaardse ruimteverkenner uit ’n volmaakte węreld oortree die reël om nooit met die aarde kontak te maak nie. Sy onsterflikheid word in ’n pynlike proses weggebrand en hy moet ’n aardse mens word. Elana, ’n jong dokter, laai hom in die stormnag op en versorg hom. Sy noem hom Leo want hy het die reg op sy naam verbeur. Hierdie is die verhaal van hulle groeiende liefde.

 Leo, die buiteaardse wese wat weens oortreding op die aarde beland het, is nou getroud met Elana, wat hom die eerste nag opgelaai het. Sy dogtertjie, Stellamarie, se naam verwoord sy verlange na sy verlore węreld en mense...

Hierdie twee boeke is wetenskapsfiksie met ‘n sterk godsdienstige element. Die boeke is te koop in die webwinkel van Groep7 drukkers (www.groep7.co.za) teen R100.00 elk. Anna kan ook by 0515252981 gekontak word.

 Skryfkursusse

Professionele dienste

 Kuberwinkel

 Blitskursusse

Selfstudie

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou geskenk en geheime kodes wanneer jy jou intekening bevestig.

     Vertel 'n vriend van ons  

 

 Tuisblad                    Skryfkursusse                    Blitskursusse