Welkom by SA Vryskutskrywer - Boekrak

 

Skrywersprofiel: TT Cloete (wat op 31 Mei 2009 sy 85e verjaarsdag gevier het)

  In sy eie woorde:

 

"Só skryf ek ... 

Daar is geen vaste patroon in my skryfwerk nie.

Daar is baie dinge waaroor ek graag sou wou skryf, maar omdat dit net ‘n wil of begeerte is om dit te doen, kry ek dit nie reg om daaroor te skryf nie. Skryf is per slot van rekening iets uit die onderbewuste of onbewuste.

‘n Gedig, of soms dan ook wel ‘n verhaal, daag soms op die mees onverwagte oomblikke by jou op. Met my gebeur dit dikwels in die aand of na-nag. Daar is mos verskillende oorgangs-, insluimerings- en slaapfases. Ek raak moeilik aan die slaap, en soms daag die gedig by my op as ek as‘t ware lê en wag om aan die slaap te raak – dus insluimer, in ‘n oorgangsfase is, of selfs in ‘n diep slaap.

Ek weet dit het ook al dikwels met ander skrywers gebeur – beslis met Graham Greene – en Keats het selfs ‘n gedig geskryf oor Sleep and poetry. En dan is daar die Nederlandse digter Boutens wat gepraat het van “in den slaap gevonden rijm”. Lank voor al hierdie skrywers het die antieke digter Dawid, die psalmdigter, in een van sy psalms geskryf dat die slapende kry wat die wakende mens nie kry nie.

‘n Ander omstandigheid wat my dikwels idees vir gedigte gee, is lang reise per motor. Ek reis graag en hou veral van lang ritte. Vroeër jare het ek graag die pad diep in die Kalahari aangepak, of see toe, Namakwaland toe, Namibië toe. Ek het die gewoonte om kleefpapier op die breë binneraam van die stuurwiel te plak en vinnige notas te maak soos die ingewings al reisend-dromend by my opkom, en later as ek by ‘n bestemming aankom, las ek dit dan as’t ware aan mekaar.

Vroeër toe ek nog redelik gemaklik kon stap, het ek ook sulke ingewings gekry gedurende my staptogte.

Ek hou ook altyd ‘n diktafoon byderhand – dag en nag, waar ek ookal gaan, om ingewings op te neem.

Baie gedigte, selfs die langes, daag dikwels in hulle geheel op, maar meestal daag gedigte en verhale gefragmenteerd by my op, met duidelike aanduidings van hoe die legkaart uiteindelik in mekaar moet pas.

Ek skryf vinnig, maar ek is ’n stadige afronder. Die monnike in die Middeleeue was nie haastig nie, want hulle het geglo daar lê ’n ewigheid voor. Ek het iets van ’n monnik-houding."

© Kopiereg Leoni Benghiat. 2009.

 

                          Sluit Venster