Welkom by SA Vryskutskrywer - Mediamekka - Markinligting

 

Channel O stel tydskrif vir albei geslagte bekend

2009/09/21

Channel O, leier op die gebied van musiek-TV, het pas ’n nuwe tydskrif bekend gestel as handelsnaamverlenging van die kanaal. 

Die Kaapstadse ontwerpagentskap, The President, wat Vrydagaand met ’n goue Pendoring weggestap het vir sy vindingryke en eiesoortige ontwerp vir die tydskrif MK Bruce Lee, is ook verantwoordelik vir die ontwerp van dié nuwe Channel O-tydskrif, Coco Joe. 

En soos MK Bruce Lee, is die een helfte van die oplaag gerig op vroue (Coco) en die ander op mans (Joe). 

Volgens Lester Din, bemarkingsbestuurder van Channel O, is daar groot opgewondenheid oor die unieke produk om die kanaal se suksesvolle Young Gifted and Black-reklameveldtog aan te vul. 

Die tydskrif is verpak in ’n gelukspakkie-formaat en die eerste uitgawe sluit plakkate in van sommige van Suid-Afrika se grootste name in die vermaaklikheidsbedryf, soos DJ Sbu, Pro, DJ Waxxy, Khanyi Mbau, Lira en Kelly Khumalo. 

Nonkululeko Mlangeni, wat ook verantwoordelik was vir die projek Do You Know Where Brenda Fassie Is? wat deel gevorm het van die Kaapse 2009 Biennale, is redakteur van die bekendstellingsuitgawe. 

Die kwartaallikse tydskrif, met ’n aanvanklike oplaag van 5 000, is by sekere Musica-winkels beskikbaar.

 

Terug na vorige blad