Welkom by SA Vryskutskrywer - Mediamekka - Skryfloopbane

 

Loopbane in die Skryfbedryf: Opleidingsmateriaalontwikkelaar

Chantelle Murray, direkteur van Avatar and Associates, en adjunk-direkteur en fasiliteerder van vaardigheidsontwikkeling by die Universiteit van die Witwatersrand, is 'n hoogs bekwame ontwikkelaar van opleidingsmateriaal. "Ek is dol daaroor om met mense te kommunikeer – of dit nou mondelings of in geskrewe vorm is. Ek het 'n passie om te leer en vir die voortgesette ontwikkeling van elke mens tydens sy of haar leeftyd. Ek glo dat betekenisvolle leermateriaal en hoogstaande aanbieding en beoordeling die kern uitmaak van die opheffing van die Suid-Afrikaanse samelewing, in terme van persoonlike groei, die bekamping van werkloosheid en om wêreldwyd meer kompeterend te word. Ek floreer op die tevredenheid wat kom van 'n taak wat goed gedoen is – leerders wat aktief met my materiaal werk en hul begrip en werkverrigting verbeter!"

"Mense wat hierdie veld wil betree, moet nie slegs oor die vaardigheid in hul vakgebied beskik om toepaslike leermateriaal te skep in hul beroepsdissipline nie, maar ook die taalvaardigheid om boodskappe doeltreffend te kommunikeer – afgesien van formaat. Hulle moet ook verskeie rekenaar sagteware-pakkette kan gebruik om leermateriaal van hoogstaande gehalte saam te stel wat trefkrag het, in terme van inhoud, sowel as uitleg. Die vermoë om gebruik te maak van toepaslike opeenvolgende benaderings, sodat leermateriaal op 'n sistematiese en logiese wyse ontvou, is ook belangrik."

"Die nasionale kwalifisering raamwerk (NQF) het twee generiese eenheidstandaarde vir Ontwerp en Ontwikkeling, wat geskik is vir die ontwikkeling van vaardighede om leermateriaal te skep, naamlik NLRD 123401 en NLRD 123394. Geakkrediteerde verskaffers van opleiding in die markplek bied tipies hierdie twee eenheidstandaarde as een geïntegreerde vaardigheidsprogram aan, of as twee afsonderlike en opeenvolgende vaardigheidsprogramme. Individue wat daarin belangstel om ontwikkelaars te word, behoort die leerproses te onderneem in verhouding met hierdie eenheidstandaarde."

"'n Gemiddelde dag in hierdie werk hang af van 'n aantal veranderlikes, soos die konteks waarin 'n mens werk, byvoorbeeld, 'n klein verskaffer van opleiding teenoor 'n groot gevestigde firma, en of jy aangestel is as 'nvoltydse of vryskut ontwikkelaar. Baie ontwikkelaars van leermateriaal werk op 'n vryskut kontrak basis vir 'n verskeidenheid van verskaffers van opleiding. Hierdie soort netwerk gee aan die individu 'n sekere mate van vryheid en onafhanklikheid, terwyl dit steeds verskeidenheid en finansiële beloning bied. Dit is dus moeilik om met vertroue te sê hoeveel 'n mens in 'n beroep soos hierdie kan verdien. As ek 'n raaiskoot moet waag, sou ek sê dat 'n ontwikkelaar wat net begin, kan verwag om enigiets tussen R5 000 en R7 000 per maand te verdien."

"Die negatiewe sy van hierdie werk is dat ontwikkelaars dikwels gevra word om wonderwerke te verrig binne onrealistiese spertye, te midde van onrealistiese verwagtinge en 'n tekort aan genoegsame hulpbronne. Hulle het ook te make met tegniese haakplekke en verlore inligting – soos wat altyd die geval is wanneer 'n mens met inligtingtegnologie werk, en, soos wat Murphy dit sou hê, reg voor die sperdatum! Dus is bystand- en gebeurlikheidsmaatreëls aan die orde van die dag in hierdie beroep."

"Die uiteindelike werkbevrediging wat jy verkry deur na nuut ontwikkelde leermateriaal te kyk en daaruit te werk, is dat jy letterlik iets uit niks geskep het! Niks oortref hierdie gevoel nie! Ontwikkelaars van leermateriaal is in aanvraag, aangesien daar 'n tekort is aan mense binne die vereiste vlak van vaardigheid en bekwaamheid. Daar is dus altyd geleenthede vir hierdie vaardigheid, met deure wat oopgaan in sowel voltydse as vryskut hoedanighede."

"Daar is geen kortpaaie na enige plek wat die moeite werd is om heen te gaan nie. As jy werklik betrokke wil raak in hierdie lyn van werk, doen dit ordentlik. Stel jouself bloot aan die nodige ondervinding in opleiding en ontwikkeling, voltooi die beoordelings en samel die bewyse van jou bevoegdheid in. Gesels met mense in die veld. Wees soos 'n spons – gebruik enige geleentheid om nuwe inligting op te suig! Kennis is mag – wat jy vandag leer, sal jou more op jou pad help."

- Bron: My Loopbaan

 

Terug na vorige blad