Welkom by SA Vryskutskrywer - Mediamekka - Skryfloopbane

 

Loopbane in die Skryfbedryf: Kopieskrywer

Kopieskrywer Charmaine Ashenden, van Appledore Advertising in Pietermaritzburg, het 'n bietjie tyd ingeruim uit haar besige skedule om ons te vertel oor haar beroep as kopieskrywer.

"Ek het eintlik meer per ongeluk as uit eie keuse 'n kopieskrywer geword. Ek het na skool geen spesifieke idee gehad van wat ek wou doen nie; ek het dus die volgende tien jaar van werk tot werk gedryf op soek na my passie. Uiteindelik het die geleentheid opgeduik om vir die pos van kopieskrywer aansoek te doen en dit is wat my rigting gegee het!"

"Ek is dol oor die verskeidenheid en kreatiwiteit wat hierdie beroep aan my lewe bied. Ek werk in 'n uiters stresvolle omgewing, omdat ons agentskap baie kort en streng spertye het. Dit skep 'nsekere hoeveelheid stres, maar ons span het 'n wonderlike gawe om humor, pret en 'n streep lawwigheid in hierdie tye in te bring, wat die druk aansienlik makliker maak om mee te deel."

Basiese feite

"Soos in meeste beroepe, hang die potensiaal vir verdienste in hierdie veld grootliks van ondervinding af. Vryskut kopieskryf kan heel winsgewend wees en deesdae, met Internet en e-pos, kan 'n mens opdragte van enige plek in die wêreld aanvaar."

Werkbeskrywing

"Advertensie-kopieskrywers werk gewoonlik saam met grafiese ontwerpers om voorstellings van doeltreffende advertensies te maak en hulle dan te ontwikkel en te vervaardig. Die grafiese ontwerper het hoofsaaklik met die visuele aspek van die skepping van die advertensie te doen, terwyl die kopieskrywer die verbale of geskrewe element voorsien. Dit behels die skepping van doeltreffende advertensie-teks vir plakkate, persvrystellings, biljette, brosjures, radio- of televisie-draaiboeke en webwerwe. Die dag-tot-dag aktiwiteite van 'n kopieskrywer hang af van die soort agentskap waarvoor jy werk. In 'n tipiese advertensie-agentskap, sal die kopieskrywer die kliënt ontmoet om die vereistes te bespreek, 'n dinkskrum van idees en konsepte te hou, en nou saamwerk met die span ontwerpers om te verseker dat die visuele en verbale elemente van 'n advertensie suksesvol kombineer om 'n finale produk te skep wat aan die kliënt se advertensie-doelstellings voldoen."

Voor- en nadele

"Aan die positiewe kant, ontmoet jy elke dag nuwe mense. Dit is baie lonend om die uitdaging te hê om iets oorspronkliks vir elke kliënt te vervaardig. Aan die negatiewe kant, kan die ure baie lank wees en die werk baie veeleisend."

Vereiste studies en ondervinding

"'n Graad in Joernalisme, Kommunikasie of Engels word aanbeveel, maar daar is verskeie ander kursusse en grade wat 'n mens ook kan ondersoek. Taalbedrewenheid, 'n uitgebreide woordeskat en 'n sin vir humor is sleutelfaktore om geskrewe materiaal te skep wat trefkrag het en in die kol is. Jy sal ook baie energie nodig hê!"

Persoonlikheidstipes

"Dit is beslis 'n voordeel om 'nsosiale en ekstroverte persoon te wees - veral as jy direk met kliënte deel. Maar dit beteken nie dat 'n introvert nie 'n suksesvolle kopieskrywer sal uitmaak nie - dit hang als af van die omgewing binne die agentskap. En moenie die sin vir humor vergeet nie! Een middag, het ek met my oë toe en diep in gedagte, in sirkels om en om op my draaistoel geswaai. Toe ek my oë oopmaak, sien ek een van my meer konserwatiewe kliënte in die deur staan met 'n baie geamuseerde uitdrukking op sy gesig. Ek het nie besef dat ek elke swaai met 'n taamlik harde 'wwhhheeeeeeee' beklemtoon het nie! Ja-nee, 'n sin vir humor en 'n mate van malligheid ...!

'n Gemiddelde dag

"Die gemiddelde dag behels vergaderings met kliënte om hul advertensie te bespreek; voorbereiding van kopie; 'n dinkskrum hou in oorleg met ons ontwerpers oor die algehele visuele voorkoms van die advertensie; en skakeling met die drukkers oor die finale produk van die gedrukte advertensie-materiaal."

Die beste aspek van die werk

"Die lonendste aspek van kopieskryf is om jouself voor te stel wat algehele vreemdelinge se reaksie (positief of negatief) op iets wat jy geskep het sal wees, veral as hulle geen idee het van jou betrokkenheid by die proses nie!"

Die slegste aspek van die werk

"Die slegste aspek van die werk is wanneer 'n kliënt geen idee het van wat hy of sy wil hê nie - dit kan baie frustrerend wees! Maar die hoof saak is dat ek elke dag daarna uitsien om werk toe te gaan, omdat ek dol is oor wat ek doen. So, moet nooit ophou soek na jou passie in die lewe nie - spandeer tyd om presies uit te vind wie jy is en watter soort mens jy is - bly altyd getrou aan jouself en moet nooit moed opgee met jouself of jou drome nie - maak nie saak hoe onmoontlik dit mag lyk nie! (Ja, ek weet julle het dit al almal 'n miljoen keer gehoor - maar dit kan nooit oorbeklemtoon word nie."

- Bron: My Loopbaan

 

Terug na vorige blad