Welkom by SA Vryskutskrywer - Mediamekka - Skryfloopbane

 

Loopbane in die Skryfbedryf: Medianavorser

Chris Van Copenhagen en Marianne Nebber is albei medianavorsers by Media Tenor South Africa - 'n internasionale maatskappy met die visie en missie om "'n omgewing te skep waardeur organisasies op 'n geloofbare wyse kan kommunikeer, en om voortgesette, onafhanklike, objektiewe en omvattende monitering en analise van wêreld media te verskaf".

Marianne het haar studies begin met die doel om 'n kliniese sielkundige te word, maar sy het navorsing meer dinamies gevind en begin om daarop te fokus. "Ek is dol daaroor om media navorsing te doen, veral omdat die inhoud van die werk voortdurend verander," sê sy.

Aan die ander kant, sê Chris dat hy altyd 'n beroep in navorsing wou volg. "Aanvanklik, het ek aan marknavorsing gedink, maar dit was voordat ek 'n geadverteerde pos in media navorsing gesien het en besef het dat media navorsing sou beteken dat ek elke dag iets nuuts sou leer, wat regtig so reg in my kraal is. As ek weer moes kies, sou ek waarskynlik 'n rekenaarspeletjie meester word, maar ek is lief vir navorsing en geniet my werk terdeë".

Basiese feite

'n Media navorser kan tussen R5 000 (as 'n interne werknemer wat praktiese opleiding deurloop) en R16 000 of meer per maand verdien, afhangende van ondervinding, opvoeding en vlak of posisie binne 'n maatskappy.

Werkbeskrywing

Media navorsers is verantwoordelik om inligting in die media te moniteer en te vind – nasionaal, asook internasionaal – en om na te gaan of die inligting korrek is. Die navorser gebruik hierdie inligting om persvrystellings en verslae saam te stel. 'n Media analis is verantwoordelik daarvoor om die versamelde data te kodeer, wat dan weer deur die navorser nagegaan word vir geldigheid. Die navorser stel dan 'n verslag saam wat al die toepaslike data bevat, en lê die verslag voor aan die kliënt.

Voor- en nadele

"Dit is 'n fantastiese geleentheid om topbestuur in hoë-profiel maatskappye, en invloedryke regeringsamptenare en woordvoerders te ontmoet. Ek was nogal eenkeer in 'n verleentheid toe ek 'n aanbieding moes gee aan regeringsamptenare," verduidelik Chris. "Ek het geen idee gehad dat ek na hulle moes verwys volgens hul spesifieke titels nie, byvoorbeeld, Eerwaardige Premier, en so aan, nie. So, ek moes vinnig notas maak van wat vorige sprekers gesê het, sodat ek 'n idee kon hê van wie nou wie was. Gelukkig, was dit op die ou einde 'n suksesvolle aanbieding, maar ek was geweldig verleë dat ek dit nie geweet het nie!"

"Die nadeel is dat hierdie werk by tye baie stresvol kan wees, veral wanneer dit gemiddeld drie tot vyf dae neem om 'n verslag saam te stel en die kliënt dit 'nou' wil hê. Dit is egter belangrik om goeie besigheidsverhoudings te handhaaf in hierdie omgewing wat so op die korporatiewe bedryf ingestel is, so ons doen ons bes om die spesifieke behoeftes van kliënte te bevredig. Nog 'n positiewe aspek is dat hierdie werk 'n deurlopende leerproses bied, wat dit 'n dinamiese en opwindende beroep maak," voeg Marianne by.

Vereiste studies en ondervinding

"Om 'n media navorser te word, beveel hulle aan dat jy 'n meestersgraad voltooi in 'n veld wat verband hou met kommunikasie, maar diegene wat genoeg ondervinding in die media bedryf het, word ook vir sekere posisies oorweeg," sê Chris.

Persoonlikheidstipes

"Jy moenie bang wees vir syfers nie!" lag Chris. "Jy moet sterk analitiese vaardighede aan die dag lê, 'n saak oortuigend kan beredeneer, en stres kan hanteer. Jy moet ook goeie kommunikasie en interpersoonlike vaardighede hê; jy moet 'n spanspeler wees, en die vertroue en professionalisme hê om verslae aan kliënte voor te lê."

'n Gemiddelde dag

"Soggens vang ons gewoonlik op met die nuutste nuus – ons swerf op webwerwe, soos The Mail & Guardian, en so aan. Ons doen gehaltebeheer – gaan data en knipsels na om te verseker dat hulle korrek gekodeer is. Ons werk dan op die volgende verslag, maar gaan altyd data na en ondersoek bevindinge. Wanneer die verslag voltooi is, lê ons dit voor aan die kliënt. Konsultasies met kliënte geskied gewoonlik omtrent twee tot drie keer 'n week."

Die beste aspek van die werk

"Die voordeel van werk vir 'n internasionale maatskappy is dat 'n mens dikwels die geleentheid het om na ander lande en kontinente te reis," sê Chris. "Dit gee jou internasionale blootstelling, wat baie opwindend is."

Die slegste aspek van die werk

"Daar is nie baie om nie van te hou in hierdie beroep nie, maar die werk kom met sy stresvlakke. Jy moet die pas volhou en probeer om jou tyd tussen kliënte, navorsing en verslae te skommel. Die werk is vol verskeidenheid en daar is baie om te hanteer."

Marianne knik instemmend, "Ons het geweldige volumes data, soos koerantknipsels, om deur te gaan voordat ons 'n akkurate verslag aan 'n kliënt kan voorlê, so wanneer die kliënt die verslag so gou as moontlik wil hê, plaas dit groot druk op ons".

"As jy in jouself glo, kan jy enigiets bereik," sê Marianne. "Vind 'n manier om die doel te bereik wat jy vir jouself gestel het. Jy sal altyd probleme en struikelblokke teëkom langs die pad, maar jy sal altyd 'n weg rondom of deur hulle vind. Moet nooit opgee nie."

"Jy moet 'n helder prentjie hê van die beroep wat jy wil volg. Jy kan nie staatmaak op wat jy oor 'n spesifieke beroep gehoor het nie. Vind uit watter maatskappy mense in diens neem in die lyn waarin jy belangstel, en bring 'n dag deur saam met 'n persoon wat in daardie werk staan. Op hierdie manier, kan jy die realiteite van die werk raaksien. Ek glo dat dit baie belangrik is om dit te doen voordat jy op 'n beroep besluit," sluit Chris af.

- Bron: My Loopbaan

 

Terug na vorige blad