


Welkom by SA Vryskutskrywer - Mediamekka - Skryfloopbane
Loopbane in die Skryfbedryf: Klingel-rympieskrywer
Baie van julle mag wonder wat 'n klingel-rympie is.
'n Klingel-rympie is eenvoudig 'n leuse of kwinkslag op die maat van musiek. Klingel-rympies word hoofsaaklik vir TV- en radio-advertensie geskep. 'n Klingel-rympie skrywer is daarvoor verantwoordelik om met 'n oulike klingel-rympie vorendag te kom – iets wat stewig in die gedagtes van die luisteraar sal vassteek.
Om klingel-rympies te skryf behels om saam met sangers en instrumentaliste te werk, en klingel-rympie skrywers maak gebruik van gespesialiseerde toerusting om klingel-rympies volgens 'n kliënt se behoeftes te skep. 'n Sterk musiekagtergrond en 'n grondige begrip van die advertensiebedryf is voordelig vir iemand wat hierdie beroep wil betree.
Darren Simpson, wat beter bekend staan as "Whackhead" Simpson van 94.7 Hoëveld Stereo, is nie net 'n klingel-rympie skrywer nie, maar ook 'n bekende komediant en radio persoonlikheid. Darren is veral bekend vir sy skreeusnaakse poets-telefoonoproepe wat op 94.7 se oggendprogram, "The Rude Awakening", uitgesaai word. Hy het ook onlangs sy vyfde laserskyf, Off the Hook, vrygestel, wat luisteraars se gunsteling poets-telefoonoproepe van 2008 bevat. Daarbenewens, het Darren ook die M-Net komedie programme, Clipz en Laugh Out Loud aangebied.
Darren "Whackhead" Simpson het aan SA Career Focus 'n beskrywing van die beroep van 'n klingel-rympie skrywer gegee …
"'n Tipiese dag in my werk behels om besig, besig, besig te wees; middagete te eet; besig, besig, besig; koffie breuk; besig, besig, besig; huis toe gaan; te eet; te slaap; en dan weer besig, besig, besig," lag Darren. "Op 'n ernstiger trant, is ek egter dol oor wat ek doen. Dis soveel pret en dit voel nooit asof ek werklik werk nie. My hele dag is gewoonlik propvol energieke humor en kwinkslae; wat meer kan ek vra? Alhoewel ek wel soms daarvan droom om 'n Lugmag loods te word …"
"Om 'n klingel-rympie skrywer te word, moet jy gewoonlik 'n gekwalifiseerde klank ingenieur wees. Omdat die skryf van klingel-rympies egter slegs 'n klein deeltjie van my werk is, het ek myself geleer om my eie weg op die klankmengbord te vind. Hierdie werk vereis kreatiwiteit en talent, veral as jy raakgesien wil word en vooruit wil kom. 'n Goeie kennis van musiek, en om te weet wat werk op radio, is noodsaaklik in my lyn van werk."
"Sommige kliënte kan veral moeilik wees om tevrede te stel, so geduld is ook 'n belangrike karaktereienskap. Jy mag dalk dink dat een van jou skeppings uiters geniaal is, maar as die kliënt of die gehoor nie daarvan hou nie, moet jy eenvoudig die 'delete'-knoppie druk en weer oor begin. Jy moet voortdurend werk aan daardie gawe om 'n kliënt se behoeftes en begeertes raak te vat en duidelik te interpreteer. Dit word ook nogal stresvol as 'n sperdatum vinnig naderkom en die kreatiwiteit net nie wil posvat nie!"
"Die potensiaal vir verdienste in hierdie veld hang geheel en al af van die maatskappy waar jy werk. Tipies, sal 'n pas-gekwalifiseerde klank ingenieur begin op 'n salaris van sowat R7 000 per maand."
"My raad aan die jeug van Suid-Afrika is om hard te studeer en nooit moed op te gee nie, En, as daar iets is wat jy werklik wil doen, byt net vas en hou aan probeer. Moenie mismoedig word as jy by jou eerste klompie werksonderhoude afgekeur word nie. Ek glo dat jy eenvoudig net op die regte plek op die regte tyd moet wees. So, druk net deur!"
- Bron: My Loopbaan

