


Welkom by SA Vryskutskrywer - Mediamekka - Bedryfsnuus
Gerekende dinkskrum sê SA nou net ‘gedeeltelik vry’
2010-08-07
Dit raak al moeiliker vir die Suid-Afrikaanse pers om vry verslag te doen.
Erna van Wyk
Suid-Afrika het vroeër vanjaar sy status verloor as ’n land wat se media as “vry” bestempel kan word.
In die jaarlikse mediavryheid-barometer deur die gerekende Freedom House, ’n Amerikaanse dinkskrum wat demokratiese praktyke wêreldwyd monitor, was die Suid-Afrikaanse media in die 2008/’09-opname saam met dié van Amerika en die grootste deel van Europa “vry”.
Maar in die jongste opname vir 2009/’10, wat einde April bekend gestel is, het mediavryheid in Suid-Afrika en Namibië geval na “gedeeltelik vry”.
Volgens Freedom House is die afname in mediavryheid in Afrika suid van die Sahara die grootste enkele val van enige streek in die wêreld.
Vir die eerste keer sedert 1990 is daar nou geen lande in dié streek wat ’n vrye media het nie.
“Vryheid van spraak is die grondslag van alle ander vryhede. Die oppergesag van die reg, vrye verkiesings, minderheidsregte, vryheid van assosiasie en ’n aanspreeklike regering hang alles af van die onafhanklikheid van die media om sy rol as ’n waghond te vervul. Dit is hoekom dié bevindings so kommerwekkend is,” sê me. Jennifer Windsor, uitvoerende hoof van Freedom House.
Die enigste twee lande in Afrika wat nog ’n vrye media het, is Ghana en Mali.
Freedom House monitor die afgelope 30 jaar mediavryheid wêreldwyd en klassifiseer dit as “vry”, “gedeeltelik vry” en “nie-vry”. In 1980 het slegs 22% van die lande die “vry”-status geniet, terwyl 53% “nie-vry” was. Teen 2000 het die “nie-vry”-lande afgeneem tot 35%.
“Ongelukkig is die positiewe veranderinge van vroeër besig om weer af te neem,” sê me. Karin Deutsch Karlekar, besturende redakteur van die opname.
“Terwyl die medialandskap oor die wêreld heen besig is om aansienlik vryer te word, het regerings en nie-regeringsgroepe nuwe maniere gevind om die onafhanklikheid van die media en die vrye vloei van inligting in te perk.
“Die afname in dié vryhede in nuwe demokrasieë (soos Suid-Afrika) is veral kommerwekkend. Joernaliste in dié lande kan nie hul werk doen sonder om die gevolge te vrees nie.”
Bron: Rapport
Lees ook:
Nog
nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik
hier en kry dadelik jou
gratis geskenk en geheime kodes wanneer jy jou intekening bevestig.



