Welkom by SA Vryskutskrywer - Mediamekka - Bedryfsnuus

 

Tjek-joernalistiek se prys

2009-12-02

deur Andries Cornelissen

Eers was daar Joost van der Westhuizen se aanval op die media wat so inbreuk maak op sy en sy gesin se privaatheid. Toe was daar Robbie Klay wat erken dat hy gelieg het in ’n tydskrifonderhoud waarvoor hy R10 000 betaal is.

Vir die publiek is daar net sulke groot lesse hieruit te leer as vir joernaliste en die media waarvoor hulle werk. En diegene wat die media nodig het om hul openbare profiel aan die gang te hou, moet ook weer ’n bietjie mooi gaan dink.

Joost se media-aanslag met sy boek hoort in ’n handboek vir bemarkers – hy was oral en het met almal gepraat – dieselfde man wat agter ’n skuldinvorderaar/uitsmyter weggekruip het toe sy vuil wasgoed in die openbare wasmasjien beland het.

Hy was emosioneel en het direk vir die Kwêla-kamera op kykNet gekyk toe hy die kykers – die mark waar hy weet die simpatie die hoogste gaan wees vir ’n Springbok-rugbyster – om verskoning gevra het. Dit was duidelik dié mediaplan was tot op die letter uitgewerk.

In Joost se eie woorde wil hy “die hoofstuk afsluit” – à la Hansie Cronjé.

Die hoofstuk wás eintlik afgesluit – almal het geweet dit was hy in die video. Joost se boek het trouens die hoofstuk weer oopgemaak, want hy was naïef genoeg om te dink die media en die ander vroue in sy geskiedenis gaan elke “feit” in die boek vir soetkoek opeet.

Die les hieruit te leer is as jy voorgee om die waarheid te praat, moet jy bereid wees om die houe te vat as die media daardie feite gaan toets en jy word wéér te lig bevind.

Die Robbie Klay-getuienis in die verhoor van Jurie Els is weer ’n ander geleentheid om lesse te leer. Klay het onder kruisverhoor erken dat hy die pap ’n bietjie dik aangemaak het in ’n onderhoud waarvoor hy betaal is.

Die publiek behoort meer druk te plaas op daardie media wat betaal vir stories. Wat ek hiermee bedoel, is dat die leser daarop moet aandring om te weet of die persoon wat die inligting gee enige vorm van vergoeding ontvang het vir daardie inligting. Die rede daarvoor is dat lesers dan ten volle ingelig is oor die moontlike motiewe agter die vertel van die storie.

Net soos wat daar onderaan sakeberigte aangedui word as daar ’n verbintenis is tussen die maatskappy waaroor geskryf word en die publikasie self – soos dat Sake24 ’n Naspers-publikasie is – so behoort publikasies dit aan te dui as die verteller van die storie betaal is daarvoor.

Ek sal selfs so ver gaan as om te wil weet hoevéél betaal is – was dit net reiskoste en verblyf of was dit soos byvoorbeeld in Klay se geval R10 000. Die leser het tog die reg om te weet of daar versigtig omgegaan moet word met die inligting wat gegee word – of dit nou oor besigheid of oor smet gaan.

Dit bring my terug by Joost se aanval op die “mediawolwe” wat betaal het vir die video waarin hy onder meer dwelms gebruik. Dit is nou dieselfde media wat destyds vir sy troue en wittebrood betaal het en hom en Amor in die openbare oog gehou het sodat hulle saam lekker optreegeld kon verdien.

Dit is ’n les wat die bekendes en berugtes maar kan leer – die media spaar niemand nie. Vandag is jy bo en jy gebruik die media om bo te probeer bly, maar wanneer jy bo is en aanjaag, moet jy weet die goeie mediamense gaan jou nie spaar nie.

Jy kan nie kies wanneer jy die media wil inspan nie – baie mense het al probeer, maar waar jy te doen het met onafhanklike en vrye media, kan ek jou belowe gaan jy jou vingers verbrand. En die publiek gaan jou vergeet!

* Andries Cornelissen is besturende redakteur van nuus en sport by Jacaranda 94.2fm en ’n voormalige nuusredakteur van Beeld.

- Bron: Beeld

 

Mediamekka                            Sluit Venster