


Welkom by SA Vryskutskrywer - Mediamekka - Skryfloopbane
Loopbane in die Skryfbedryf: Webontwerper
Die
internet het ons almal se lewens verander, dus is enige groot maatskappye se
beelde aan hulle webtuistes verbind. Maar terwyl dit vir meeste van ons 'n
mynveld van onbekendes is, verander web ontwerpers die internet na 'n opwindende
ondervinding, neem rekenaartaal en toor daarmee. Dit is definitief iets vir die
meer kreatiewe mense wat nie deur tegnologie afgeskrik word nie. Ons het met
Isabelle van Niekerk oor hierdie uitdagende loopbaan gesels.
Wesenlik
Miskien is die term "Web Ontwerper" 'n ietwat té basiese beskrywing vir hierdie posisie, daar web ontwerpers deesdae in multimedia spesialiseer. Dus is "Multimedia" ontwerper dalk 'n beter beskrywing, omdat dit ook grafiese, web en multimedia ontwerp omsluit, sowel as animasie, skryfwerk en promosie materiaal te ontwerp.
Die salaris word volgens ondervinding vasgestel, maar 'n ingangs vlak ontwerper sal teen ongeveer R3500 aangestel word, en 'n senior ontwerper verdien ongeveer R26000 per maand.
Werksbeskrywing
Jy werk basies met Visuele Kommunikasie Ontwerp, wat verskeie nywerhede bedien. Dit behels oplossing van probleme, en 'n projek van 'n opdrag vorm tot die finale produk. 'n Web ontwerper sal met die voorstelling en ontwerp van nuwe webtuiste uitlegte, sowel as onderhoud en opdatering van bestaande, HTML, "flash" en inhoud bestuur-gebaseerde tuistes werk, en die ontwerp van e-posse en baniere vir webtuistes. Jy het ook die geleentheid om ryk interaktiewe media te skep, soos CD-ROMS, DVD's, Interaktiewe katalogusse of brosjures, Produkte demonstrasies, Video Produksies, Verkoops aanbiedings en Korporatiewe aanbiedings.
Voor- en nadele
Die grootste voordeel is om te sien hoe jou werk gepubliseer word, en die selftevredenheid en beloning na voltooiïng van 'n projek laat mens lekker voel. Jy kan daarna kyk en sê: "Lekker! Ek was deel daarvan!" Jy word gedurig uitgedaag om nog beter te doen en meer te leer, en het die verantwoordelikheid om vandag se verbruikers oor goeie ontwerp op te voed. En ons kry ook die geleentheid om "Counter Strike" en/of "Star Craft" by die werk te speel!!
Die nadele van die werk is dat jy onder groot druk, en lang ure moet werk, as gevolg van spertye. Kliënte will hulle projek "gister" hê, maar hulle voorsien die opdrag of inligting die dag nà spertyd, en deel met 'n mark wat gewillig is om gehalte vir kwantiteit en omdraaityd op te offer. Hulle gee 'n taak liewer aan iemand met 'n laer kwotasie as iemand wat die werk professioneel dien. Jy deel ook met moeilike kliënte.
Vereiste studies of ondervinding
Die meeste maatskappye verkies dat jy oor 'n tersiëre kwalifikasie en vorige werk ondervinding beskik. As jou werk egter briljant is, kan jy moontlik met 'n diploma wegkom. Anders is 'n uitstekende portefeulje 'n absolute mòèt, wat behoort te wys dat jy in staat is om 'n groot verskeidenheid werk te hanteer, vanaf Korporatiewe tot "Retro-funky." Jou portefeulje is jou CV in die kreatiewe nywerheid – dit maak nie saak of jy 'n Meesters of Honneurs in Ontwerp het nie. As jou portefeulje nie beïndruk nie, gaan jy nie ver kom nie. Wees altyd oor-voorbereid. Aanbieding is alles!!!
Tipe persoonlikheid
Jy moet oor 'n sterk persoonlikheid beskik, 'n spanspeler wees, optimisties, hardwerkend, lief om oortyd te werk, altyd gereed vir nuwe uitdagings, innoverend, self-aangedrewe, kreatief, aanpasbaar en baie netjies. Jy moet vertroue in jou werk en jouself hê en goed onder druk en spertye te kan werk. Dit help as jy so 'n bietjie mal is, of soos ons dit graag noem, Passievol!
'n Gemiddelde dag
Nie baie gemiddeld nie. Nywerheid het 'n neiging om op en af te gaan. Een dag kan ons enigiets van een tot sewe projekte tesame hanteer. Indien daar te veel werk is, slaan ons kamp by die kantoor op en gaan nie huis toe nie. Of ons werk agt tot nege ure en gaan huis toe. 'n Dag begin gewoonlik negeuur met 'n koppie sterk koffie, jy gaan jou vonkposse en terugvoering van kliënte na, en implementeer verlangde veranderings aan die projekte waaraan jy werk. Wanneer dit klaar is, gaan jy òf met die huidige projek aan, of doen navorsing vir die volgende een.
Beste deel van die werk
Jy kry byna elke dag iets nuuts om te doen. Jy het die geleentheid om met verskillende produkte of handelsname of kliënte te werk. Jy word aan 'n wye verskeidenheid nywerhede en hulle produkte blootgestel, en dit is jou werk en verantwoordelikheid om jou kliënt se handelsmerk of produk aan die verbruiker te kommunikeer. Jy moet die handelsmerk of produk intiem ken om jou in staat te stel om iets unieks te skep om by die handelsmerk en produk te voeg. Jy beskik ook oor 'n breë spektrum mediums om mee te werk. Een dag is dit 'n flits produk demonstrasie, die volgende 'n video produksie, en daarna 'n brosjure of vlieër.
Ergste deel van die werk
Die kliënt is altyd reg; jy moet jou kreatiewe integriteit kompromitteer. Jy moet dalk jou naweek planne op kort kennisgewing kanselleer om 'n spertyd na te kom.
Hoe het jy op hierdie werk besluit?
Ek het Kuns en Ontwerp as vak op Hoërskool gehad, en toe weet ek dat ek 'n loopbaan in die kunste wou volg. Ek het 'n artikel in 'n Rapport tydskrif oor die Oop Venster Skool vir Visuele Kommunikasie gelees. Ek het vir hulle geskryf, en hulle het my 'n prospektus gestuur. Toe ek sien wat hulle aanbied, was ek oortuig. Ek het niemand gehad om vir raad te vra nie, maar as mens 'n loopbaan in die kreatiewe nywerheid oorweeg, sou ek sterk aanbeveel dat jy met iemand in die nywerheid gesels. Die nywerheid laat ander glansend lyk. Ongelukkig is ons nie glansend nie. Ons is die ondergeskiktes van die gemeenskap, ons skep en ontwerp alles wat die wêreld visueel verslind, hetsy dit reklameborde, TV vertoning inleidings, of 'n sjokolade toedraai papiertjie is, maar ons kry selde die krediet wat ons toekom.
- Bron: My Loopbaan



