


Welkom by SA Vryskutskrywer - Mediamekka - Skryfloopbane
Loopbane in die Skryfbedryf: Tafeluitgewery
Kim
Gezorke wou oorspronklik 'n beroep as regsekretaresse volg, totdat haar niggie
haar eendag rondgeneem het by die Cross Media opleidingsentrum vir beroepe in
die drukkers en verpakkingsbedryf.
"Ek was onmiddellik aangetrokke tot die ontspanne atmosfeer by die opleidingskollege, en het besluit om 'n kursus in Tafeluitgewery (Desktop Publishing) hier te volg. Ek was gelukkig om werk by die opleidingsentrum te kry toe ek my studies voltooi het, so ek geniet nog steeds die vrede en stilte van die kollege," sê Kim.
Basiese feite
Die aanvangsalaris in hierdie veld is sowat R2 500 per maand, maar die gemiddelde salaris vir 'n tafeluitgewer is sowat R10 000, wat kan styg tot sowat R20 000 'n maand.
Werkbeskrywing
Tafeluitgewery behels verskeie take en verantwoordelikhede – van skandering en bladuitleg tot foto manipulering en tekening. Al hierdie take is belangrik in tafeluitgewery, omdat hulle almal deel vorm van die proses wat die drukproses voorafgaan. Tafeluitgewers skakel ook met kliënte om 'n idee of begrip te kry van die ontwerp wat hulle verlang. Die tafeluitgewer ontwerp dan die item en hanteer die projek dwarsdeur totdat dit "drukgereed" is.
Voor- en nadele
"Die nadeel is definitief die druk om sperdatums na te kom." Die voordeel is dat jy in hierdie beroep betaal word terwyl jy opgelei word! "Dit is werklik lonend om die kunstige skepping aan die einde van elke projek te sien," sê sy.
Vereiste studies en ondervinding
'n Universiteitsgraad word nie vereis vir 'n beroep in tafeluitgewery nie. Om die waarheid te sê, het baie mense in hierdie veld die vaardighede in-huis geleer en is hulle baie suksesvol in hul beroepe. Diegene met 'n toepaslike kwalifikasie agter hul naam, sal egter definitief die voordeel hê om beter werkgeleenthede te vind.
Kim is lief vir haar werk by die Cross Media opleidingsentrum. Sy het aan ons die vereistes verduidelik om 'n kursus in tafeluitgewery deur die kollege te volg. "Matriek word vereis, as jy by Cross Media wil studeer. Jy moet ook 'n keuringsproses ondergaan, wat algemene oriëntering, 'n toets vir kleurvisie, psigometriese toetsing, 'n toer van die kollege en 'n onderhoud behels. Jy voltooi dan sowat ses maande opleiding by die kollege, waarna jy met 'n vakleerlingskap van sowat twee jaar by 'n maatskappy begin. Cross Media help studente om werk te kry, en wanneer hulle die twee-jaar vakleerlingskap voltooi het, kan hulle die finale handelstoets skryf. Hierdie kwalifikasie is internasionaal geakkrediteer en word in 87 lande erken".
Persoonlikheidstipes
"Jy moet van mense hou, aangesien jy daagliks met kliënte moet skakel. Jy moet die vermoë hê om presies uit te werk wat die kliënte wil hê en hoe hulle dit gedoen wil hê. Jy moet die eise van die bedryf kan hanteer, en jy moet probleme kan oplos."
Dit word ook aanbeveel dat diegene wat as tafeluitgewers wil werk, oor goeie handvaardigheid beskik; punteneurig is; onafhanklik kan werk; en goeie visie het – skerp gesig, diepte persepsie, gesigsveld, kleurvisie, en die vermoë om vinnig te fokus.
'n Gemiddelde dag
"'n Gemiddelde dag behels om kliënte te sien en saam met hulle te werk om met idees vorendag te kom. Ek kry toepaslike inligting van die kliënt vir spesifieke projekte, byvoorbeeld, ek versamel inligting oor 'n maatskappy en gee vir die kliënt idees vir 'n geskikte slagspreuk of embleem vir die maatskappy. Uiteindelik, ontwerp ek die betrokke projek op die rekenaar met behulp van verskeie programme, soos Adobe Illustrator, Adobe In-Design, Adobe Photoshop, Freehand, Quark en Corel Draw."
Tipiese pligte van 'n tafeluitgewer sluit ook in die skryf en redigering van teks; die skepping van grafieke om die teks te vergesel; die omskakeling van foto's en tekeninge tot digitale beelde; en die manipulering of verbetering van beelde.
Die beste aspek van die werk
"Selfs as 'n persoon nie baie kreatief is nie, kan hy of sy steeds hierdie werk doen. Hierdie baie vervullende beroep vereis baie meer as net kreatiwiteit. Ek glo dat jy altyd jou bes moet probeer in wat jy ook al doen, veral as dit iets is waarvoor jy lief is en, meeste van die tyd, as jy iets doen waarvoor jy lief is, sal jy suksesvol wees."
Die slegste aspek van die werk
"Baie kliënte verstaan nie die proses wat tafeluitgewery behels nie, en dit lei dikwels tot 'n paar redelik vreemde (en dikwels onmoontlike!) versoeke van kliënte. Maar ek steur my nie daaraan nie en probeer om hulle te help sover ek kan en tot die beste van my vermoë."
- Bron: My Loopbaan



