Welkom by SA Vryskutskrywer - Mediamekka - Skryfloopbane

 

Loopbane in die Skryfbedryf: Redakteur

Eugene Kruger is redakteur van SA Bass en The Bank Angler. Hy is reeds 35 jaar in die joernalistieke en uitgewersbedryf, aanvanklik as 'n vryskut hengeljoernalis en -skrywer, en toe as 'n ontspanningsvisvangkonsultant en bemarkings- en skakelkonsultant.

Eugene is 'n opgeleide landboukundige, maar het "per ongeluk" op hierdie bedryf afgekom toe hy tennis-verslaggewing vir 'n plaaslike koerant in Marble Hall gedoen het. Hy het by 'n plaaslike koerant as uitgewer begin werk en naderhand redakteur geword. Al hierdie ondervinding het Eugene gehelp in elke pos wat hy nog ooit beklee het. Op vier geleenthede het hy al die toonaangewende SFW Hengelskrywer van die Jaar-toekenning verwerf en, vir enigiemand wat die joernalistieke wêreld wil betree, beveel hy die boek, Community Journalism, sterk aan, wat hom al die raad gegee het wat hy nodig gehad het om sy droom werk na te streef. Hy het met ons oor hierdie opwindende beroep gesels.

Basiese feite

"Vir redakteurs is daar geen norm vir salarisse in die bedryf nie," sê Eugene, "maar jy kan tussen R400 000 en R600 000 per jaar verdien, insluitend byvoordele en aandeelhouding, miskien selfs meer."

Werkbeskrywing

Daar word van 'n redakteur vereis om die doelwitte van die uitgewer te bepaal en 'n span mense byeen te bring om die produk te lewer wat aan die uitgewer se behoeftes voldoen. "Jou produk moet verkoopbaar wees."

Hy besluit wat in die publikasie geplaas word en moet die regsvereistes van die verskeie perswette ken en verstaan

Die redakteur het redaksionele en advertensie-verantwoordelikhede en, in klein publikasies, gaan hy alles na. "Elke uitgawe van 'n publikasie, of dit 'n tydskrif of 'n koerant is, moet op sy eie kan staan as 'n perfekte entiteit," beklemtoon hy. "Jy moet aan jou lesers se vereistes voldoen, en ook aan die uitgewer en adverteerders dink wanneer jy jou publikasie saamstel. Elke jaar moet die redakteur met vars idees vir die publikasie vorendag kom. Jy is net so goed soos jou laaste publikasie," sê hy. Daar word ook van die redakteur verwag om dop te hou in watter rigting die tydskrif gaan en dit op teiken te hou.

Voor- en nadele

"Die voordele is dat dit jou 'n geweldige mate van invloed, asook verantwoordelikheid, gee in die veld wat jy bedien. Sonder verantwoordelikheid sou jy nie werkbevrediging hê nie," sê Eugene. "Dit maak ook deure oop wat andersins toe sou gewees het en gee jou toegang tot verskeie inligtingsbronne."

"Die nadele is dat sekere belangegroepe of individue jou kan probeer uitbuit en, aan die einde van die dag, is jy verantwoordelik vir alles wat verkeerd loop. Daar is ook die voortdurende verskil van opinie tussen die redaksionele en advertensie-personeel, en soms die uitgewers, wat voortdurend aandag vereis."

Vereiste studies en ondervinding

Daar is geen beskikbare kwalifikasies om 'n redakteur te word nie. Jy moet jou weg opwerk op die korporatiewe leer. Jy begin as 'n verslaggewer, word dan 'n joernalis, en begin dan spesialiseer. Uiteindelik word jy 'n redakteur.

Eugene stel voor dat jy 'n joernalistieke kursus voltooi en sê dat skryf 'n talent is. "Niemand kan jou leer om te skryf nie". Die hoof vereiste om 'n redakteur te word is ondervinding. Jy begin onder en werk jou weg op. As jy 'n spesialis joernalis is, moet jy kennis oor jou spesifieke onderwerp hê. Eugene beklemtoon, "'n Graad kan help in hierdie beroep, maar as jy nie talent het nie, kom jy nêrens nie. Jy moet ses woorde aanmekaar kan string."

Persoonlikheidstipes

Enige soort persoonlikheid kan, volgens Eugene, 'n joernalis of redakteur wees. Jy moet dit egter geniet om met mense te werk, sosiale vaardighede hê, 'n belangstelling hê in ander mense se probleme en ambisies, geniet wat jy doen, en oop wees vir nuwe idees en tegnologieë. Aanpasbaarheid, volharding, die moed van jou oortuiging en die vermoë om te sê jy's jammer is ook belangrike eienskappe vir 'n redakteur om aan die dag te lê.

'n Gemiddelde dag

'n Gemiddelde dag vir Eugene is gewoonlik van 08:00 tot 15:00. By ander publikasies hang die ure af van die tipe publikasie waarvoor jy werk. Eugene sê, "Die eerste ding wat jy soggens as redakteur doen, is om 'n redakteursvergadering te hou om uit te vind waarmee mense besig is en wat nog gedoen moet word."

Jy vergader met die joernaliste, advertensie-departemente, produksie en bemarking. Vervolgens gee jy aandag aan korrespondensie van buite, klagtes, e-posse en regsnavrae, en sien om na die belangrike mense in jou sfeer van invloed. Jou dag word erger en besiger, hoe nader jy aan die spertyd kom. In die hoofstroom pers, bepaal jy die nuus van die dag voordat jou dag begin.

Die beste aspek van die werk

"Ek het persoonlike vryheid en kan my dag reël soos wat dit my pas, en ek kan van die huis of van die kantoor af werk," glimlag Eugene.

Die slegste aspek van die werk

"Wanneer jy vryskutmense het wat nie by die spertye hou nie en adverteerders wat nie materiaal betyds instuur nie," sug Eugene.

- Bron: My Loopbaan

 

Skryfloopbane                            Sluit Venster