Welkom by SA Vryskutskrywer - Mediamekka - Bedryfsnuus

 

Mediakrag ontluik in Lim


2009-10-23


Die media-eienaars van die top ses onafhanklike streek- of gemeenskapskoerante in Limpopo het die stigting van ‘n nuwe media-struktuur (LiN) in die provinsie aangekondig. Limpopo Independent Newspaper (LiN) is ’n oorkoepelende maatskappy wat die belange van die voorste onafhanklike koerante in Limpopo — die Polokwane Observer in die hoofstad, Limpopo Mirror in Venda, Zoutpansberger in Louis Trichardt, Bulletin in Tzaneen, Die Pos in Bela Bela en Bosveld Bulletin in Lephalale — op nasionale en provinsiale vlak gaan behartig.

• Die hoofdoel van LiN is om as teenvoeter te dien vir gevestigde koerante wat die media-bedryf in Limpopo oor dekades heen beheer en aan die bedryf voorgeskryf het; en in die besonder om die onafhanklikes se bedingingsmag op nasionale en provinsiale vlak te verhoog, ten einde ’n meer gelykmatige verspreiding van die advertensiepoel in die provinsie te verseker.

• Op die nuusfront sal die ses koerante onder LiN kragte saamspan om te sorg dat lesers oor ’n breë front oor nuusgebeure in Limpopo ingelig word.

• LiN het ook ten doel om die uitgebreide kennis en wenresepte van die onderskeie uitgewers onderling uit te ruil, ten einde die onafhanklikes as die voorste en verkose koerante vir adverteerders en lesers in Limpopo te vestig.

• Die gesamentlike sirkulasie van die koerante bereik weekliks ongeveer 500 000 lesers, wat nou van LiN beslis die grootste rolspeler in die gemeenskapspers in Limpopo maak.

• Die geografiese gebied wat deur die titels in die LiN-kraal bereik en bedien word, verseker ook dat die nuwe groep die leier in die streek is.

• Twee van die koerante in die LiN-stal is vanjaar as onderskeidelik die beste streek- en beste dorpskoerante in die land aangewys, terwyl nog een tweede was. Joernaliste van vyf van die koerante (die sesde, Bosveld Bulletin, het maar twee maande gelede die lig gesien) is reeds talle kere beloon, onder meer as Joernalis van die Jaar.

Die besturende redakteur van die Bulletin, mnr Francois Aucamp, het die stigting van LiN beskryf as die aanbreek van ‘n nuwe era vir die mediabedryf in Limpopo. “Ons onafhanklikes het vir jare feitlik in afsondering en op eie stoom ons paadjies tot erkenning suksesvol oopgekap. Nou kan ons momentum gee aan die opmars van die onafhanklikes om uiteindelik die landskap van die mediabe-dryf finaal tot voordeel van adverteerders en lesers in die provinsie te verander.

“Ons is plaaslik tot in die murg in ons pype. Ons word nie uit ivoortorings in Johannesburg of enige ander stad beheer nie en daar word nie vanuit die vreemde aan ons voorgeskryf nie. Ons winste bly in Limpopo, ons koop hier, ons woon hier, ons lojaliteit is hier en ons dien die breë gemeenskap met toewyding en sonder enige agenda wat van buite op ons afgedwing word,” sê hy. • LiN sal nuus en advertensies na die ses koerante kan deurgee en bylaes wat deur die groep uitgegee gaan word, sal na gelang van die omstandighede in verskillende publikasies verskyn, om aan adverteerders maksimum reklamewaarde en dekking in die streek te gee.

 

Terug na vorige blad