


Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed - artikels
Vindingryke Afrikaans - vrolik onder verdrukking
Die gebruik om deur vervorming van iemand se naam of van 'n gebeurtenis sy aansien en status te verlaag, kom ook in die Suid-Afrikaanse geskiedenis voor. Dit was veral so wanneer die burgers regstreeks deur anneksasie geraak is.
Rondom die anneksasie van die ZAR in 1877 en die daaropvolgende Vryheidsoorlog het heelwat van dié volksetimologieë ontstaan.
Ná die onverwagte anneksasie van die ZAR deur sir Theophilus Shepstone in 1877, verwerf hy die naam Duiwel-se-slypsteen of Die-ou-vuilis-slypsteen.
Die Kaapse goewerneur en Britse hoë kommissaris, sir Bartle Frere, wat na die Kaap gestuur is om die federasie van Suider-Afrika ná 1877 te bewerkstellig, is Bottelbier genoem, terwyl W.E. Gladstone, Britse premier in die Vryheidsoorlog van 1880 tot 1881, as Gladsteen bekend was.
Owen Lanyon, wat met die uitbreek van die oorlog administrateur van Transvaal was en om verskeie redes ongewild was, het die naam Ouwyn Langjan gekry.
Op 20 Desember 1880 het 'n kommando onder kmdt. Frans Joubert (Frans Held) die Britse troepe, onder lt.-kol. P.R. Anstruther, beslissend by Bronkhorstspruit verslaan. Met dié nuus het Lanyon op 21 Desember 1880 krygswet (martial law) oor die hele Transvaal afgekondig. Die burgers wat klaarblyklike min ontsag daarvoor gehad het, het dit Martjie Louw genoem.
Ook Britse amptenare en militêre gesagvoerders in die Tweede Vryheidsoorlog het deurgeloop. Met die uitbreek van die oorlog is sir Redvers Buller as hoof van die Britse magte in Suid-Afrika aangestel. Gou was hy as Rooiversbul bekend. Lord Roberts het Buller opgevolg. Vanweë sy militêre suksesse in Kandahar, Indië, is na hom as Roberts van Kandaar is nie Roberts van Kan-hier verwys. Ná die oorlog, nadat die repatriasie van Boere-krygsgevangenes aan die gang was, is daarna as rypatrys verwys.
Bron: Beeld




