Martie Pozyn

Kursussamesteller en -opleier:
'n Wentoekenning van die ATKV se Jongskrywerskompetisie, 'n stewige Jan Spies-handdruk en baie aanmoediging het Martie Pozyn gemotiveer om ‘n diploma in kortverhaleskryf te verwerf en ATKV-Skryfskole by te woon. Sy het vyftien jaar lank kortverhale onder ’n skuilnaam (Martie Coetser) veral vir Huisgenoot geskryf. Twee van haar verhale is in 1998 opgeneem in Huisgenoot Trefferverhale wat saamgestel was deur Bennie Fritz. Tienertonele en poppekasstories skryf sy graag op aanvraag wanneer korporatiewe skryfwerk en ander beroepsverpligtinge haar nie té besig hou nie. Sy beskou haarself as ’n kompulsiewe skrywer wat oorweldigende gebeure, in besonder persoonlike ervarings, slegs kan verteer nadat sy dit skriftelik beskryf het. Sy bied die kursus in tydskrifkortverhale vir SA Vryskutskrywer aan omdat sy glo alle mense se lewenservarings is die moeite werd om bekend gemaak te word in die vorm van kortverhale wat deur tydskrifte gepubliseer word.
Martie woon in Klerksdorp. Sy het haarself op verskeie terreine bekwaam. Bedags behartig sy die administratiewe en finansiële sake van ’n musiekskool en ’n eiendomsonderneming. Saans geniet sy haar kleinkinders, skryf kreatief en lei voornemende skrywers op.
