Marlize Leyden
Kursussamesteller
en -opleier:
Skryf 'n
Kinderboek
Marlize Leyden, ’n gebore en getoë Vaaldriehoeker en nie skaam om dit te erken nie, was nog altyd een met haar kop tussen die wolke (of sterre in haar geval).
Kleintyd wou sy ’n ruimtevaarder word, maar haar wiskundige vermoë het blitsig haar vlerke geknip. Nadat sy as agtjarige Jock van die Bosveld (die dik boek sonder prentjies) gelees het, het sy besluit skryf is die professie vir haar. En dis toe nou nét hier waar die plaaslike beroepsvoorligter korte mette van haar skryfdrome maak.
“Gaan studeer iets,” het hy in die swanger (vreemde woord) stilte tussen hulle gesê. “Enigiemand kan skryf, maar nie almal is ’n prokureur of ’n advokaat nie.”
So gesê, so gedaan ...
In 1996 ontvang Marlize die B.A.-graad (Met Regte) aan die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit, maar tussen al die regsvakke deur het sy ook Afrikaans en Nederlands, Engels, Zoeloe en Latyn as ekstra vakke geneem.
In 1997 pak sy ’n B.A. (Hons.) (Afrikaans en Nederlands) aan waar Skryfkuns en Afrikaanse en Nederlandse Kinderliteratuur deel van haar hoofvakke was. Dié graad behaal sy cum laude.
In 1998 besluit sy om ’n meestersgraad in Afrikaans en Nederlands te doen. Sy spesialiseer in Skryfkuns en Afrikaanse en Nederlandse kinderliteratuur. Sy ontvang beurse van die Nederlandse Taalunie en die Vlaamse Ministerie van Wetenskap en Kuns en voltooi haar verhandeling onder leiding van prof. Betsie van der Westhuizen van Noordwes-universiteit en prof. Rita Ghesquire van die Katholieke Universiteit van Leuven in België. Sy ontvang in 2000 die Marius Jooste Perskormedalje vir die beste magistergraadstudie in Afrikaans en Nederlands.
Gelukkig het sy hofsale en regters vrygespring en begewe sy haar in die wêreld van joernalistiek toe sy in 1999 as teks-, en later artikelredakteur, van die tydskrif finesse aangestel word.
In 2003 durf sy Johannesburg aan toe sy as voltydse joernalis van die ATKV se tydskrif, Taalgenoot (TG), aangestel word. In Junie 2006 word sy redakteur van hierdie tydskrif en in 2007 ontvang sy die brons medalje in die Suid-Afrikaanse Publikasieforum se Redakteur van die jaar-kompetisie.
In Maart
2008 sien Hoezit!, ’n Afrikaanse kindertydskrif en Marlize se breinkind,
die lig. “Kinders lees nie en as hulle wil lees, is daar
nie
Afrikaanse tydskrifte om te lees nie,” verduidelik Marlize die ontstaan van
hierdie publikasie. Vandag verkoop Hoezit! bykans 12 000 tydskrifte per maand.
Sedert Februarie 2010 hou Marlize haar lyf egter vryskut. Sy glo steeds woorde is haar roeping (ten spyte van die beroepsvoorligter van destyds se mening). “Dit is al ding in my lewe wat sonder moeite kom. As ek eendag my kop neerlê, sal ek steeds graag daarmee besig wil wees.”
Van haar werk en artikels is gepubliseer in die Literator, Taalgenoot (TG), Hoezit!, Insig, Weg, Lig, Vrouekeur, finesse, Beeld, Burger, Volksblad en Rapport.
Behalwe vir woorde hou sy van babahonde, kinders se lag, kaggelvure, gedigte wat nie rym nie en nou en dan hou sy haar lyf musikant wanneer sy fluit op vriende se troues (of hul sussies se troues) speel.