Leoni Benghiat
Kursussamesteller en -opleier:
Joernalistiek
is my passie. Dis my hele lewe. Dit het my lewe geword toe ek 25 jaar gelede by
die nou gestorwe Vaderland-dagblad ingestap het en
vir drie weke lank net Reuters-vertalings gedoen het om die koerantstyl te kon
aanleer. En toe ek my eerste “byline” op 29 Junie 1984 kry (nogal op my ma se
verjaarsdag) was daar geen perke aan my vreugde nie. Ek het gevoel ek het
uiteindelik “gearriveer”. Ek het nie tóé besef dat dit maar net die begin was
nie …
Baie mense stap rond met die gedagte dat as ‘n mens vanuit ‘n tuiskantoor werk, jy werkloos is omdat jy nie ‘n “regte werk” het nie want jy sit nie in ‘n bedompige kantoor vir ‘n baas en swoeg nie. Eintlik is hulle persepsie nie heeltemal verkeerd nie. As vryskutjoernalis het ek nie ‘n werk nie, want my werk is my lewe en my lewe is my werk. Vir my is daar nie ‘n onderskeid nie. Die een begin waar die ander een ophou. Dis ‘n leefwyse. Vir die afgelope kwarteeu al leef ek my droom want ek is bevoorreg genoeg om presies te doen wat ek van kleintyd altyd wou – skryf. En ek word nogal daarvoor betaal ook!
Skryfwerk word dikwels verromantiseer. Moet egter geen fout maak nie. Om te skryf is harde werk. Dis heel moontlik een van die moeilikste beroepe op aarde. Dis ‘n eensame beroep omdat jy afgesonder is van jou kollegas. Dis ‘n risikoberoep omdat jy nie die finansiële vangnet van ‘n groot maatskappy het om jou te beskerm as werk min is of dinge skeefloop nie. Dis ‘n uitdagende beroep want geen twee dae of stories is ooit dieselfde nie. En dis 'n beroep wat nie veel slaap toelaat nie. Vir die meeste vryskutskrywers kan 'n normale werksdag maklik uit 18 ure - selfs meer - bestaan.
Maar die uitdagings en bevrediging daaraan verbonde kan nie deur geld of sekuriteit gekoop word nie. Dis iets wat net ‘n ander skrywer kan verstaan. Daardie dryfkrag wat jou elke dag laat opstaan en voor jou rekenaar laat sit om te skryf en te skryf en te skryf. En stories uit te dink. En artikelidees te kry. En jou werk te verkoop.
‘n Uitgeslape vryskutskrywer (in enige genre) hoef nooit sonder werk te sit nie. As een deur vir jou toegaan, klop jy net summier aan ‘n ander. Jy maak ‘n plan. Jy verbreed jou horisonne. Jy skryf iets wat jy nog nooit voorheen eers bedink het nie. Jy dóén dit net want dis hoe jy is – innoverend en altyd gereed vir ‘n uitdaging.
Tog, al het jy elke maand genoeg of meestal te veel werk, bly ambisie nie agterweë nie. Daar is altyd nog ‘n mark om te oorwin, nog ‘n moeilike storie om te skryf, nog ‘n idee wat moet werk, nog ‘n belangrike onderhoud wat gevoer moet word, nog ‘n projek om aan te pak. Dís waarom skryfwerk ‘n mens se lewe oorneem …
En dis waarom jy nou op SA Vryskutskrywer se webtuiste rondswerf. Want ek wil my passie met almal wat Afrikaans skryf en wíl skryf, deel. Ek wil help dat my taal nie in die vergetelheid verdwyn nie. Ek wil weet dat Afrikaanse tydskrifte en boeke sal bly voortstaan. Ek wil ‘n bydrae lewer tot die ontwikkeling van Afrikaans, maar ek wil help opvoed ook, want ons het laks geraak. Taalfoute in koerante en tydskrifte wat tien jaar gelede onvergeeflik was, vermeerder daagliks. Ons is besig om ons taaltrots te verloor.
Ek het ‘n groep talentvolle mense oorreed om in my droom te glo en al hulle jarelange kennis en ondervinding in kursusse vas te vang met die doel om Afrikaanse skryfwerk ‘n hupstootjie te gee deur opvoeding en broodnodige ondersteuning vir alle skrywers – bekend, onbekend, beginners, gevestig, ‘n ieder en ‘n elk.
My persoonlike prestasielys bestaan tans uit 79 markte waarvoor ek die afgelope 16 jaar as vryskutskrywer skryf. My mikpunt is 100, net soos my doelwit met SA Vryskutskrywer minstens 100 topgehalte skryfkursusse is. Met so ‘n klomp talentvolle skrywers wat reeds ‘n hegte gemeenskap gevorm het, is niks onmoontlik nie. Buitendien, niemand het gedink ek sou ‘n voltydse skrywer word toe ek nog op skool was nie. Aanlegtoetse het immers aangedui dat ek in ‘n wiskundige rigting moes beweeg – en dit terwyl ek jaarliks al my wiskundetoetse net deurgeskuur het … Wys jou nou net! Volg jou drome.