Welkom by SA Vryskutskrywer - Boekrak

 

Jaco Kirsten se eerste roman maak opslae

Jaco Kirsten se eerste roman, Om na 'n wit plafon te staar, is 'n boek wat die media- en uitgewerswêreld regop gaan laat sit. Dis ’n storie wat wenkbroue gaan laat lig – veral in die Afrikaanse mediawêreld.

Want die politiek inkorrekte Lourens Erasmus, ’n gefrustreerde, gemiddelde motorjoernalis “met die ernstige tekort aan literêre credentials”, sê wat sy kollegas bang is om te sê. Soos oor weggesteekte waarhede wat mediabase se gemaksones laat tril …

Erasmus is die hooffiguur in die roman Om na ’n wit plafon te staar, wat pas verskyn het. Sy skepper is die skrywer en voormalige motorjoernalis Jaco Kirsten. Om na ’n wit plafon te staar is sy eerste roman.

“Die dissipline van die joernalistiek het my gehelp om 1 000 woorde ’n dag te skryf.” Kirsten sê in die Afrikaanse mediawêreld gaan daar mense wees wat hulself in sy boek gaan herken. Maar hy hou vol “dat nie een van die karakters 100% uit een mens bestaan nie”. “Sommige is na aan een mens, maar ander is kombinasies van mense.” Soos prof. Lize Krige, Matie-joernalistiekdosent; die sexy, blonde koerantredakteur Sandra Basson; MJ, die skakelpraktisyn; die joernalis Hetta Brönn; die hoofredaksielid Hein Gagiano … Die dagblad Die Kapenaar.

“Nee, die grootbaas Ebenezer Kroese is nie Ton Vosloo (voorsitter van Naspers) nie. Daarvoor het ek vir hom te veel respek. Dis ’n ander baas. Gaan slaan na in jou Dickens …”

Kleinboer en Joan Hambidge “speel” ook in die storie, maar hulle is régtig. En hy’s nié Erasmus nie, verklaar Kirsten. Daar is elemente van hom in Erasmus, ja, maar al die karakters is saamgestel uit sy verwysingsveld, dit waarmee hy jare saamgeleef het.

“Ek skryf net namens myself. Dis ’n skeppende teks wat spieëlbeelde gee van ’n klein deel van die samelewing op ’n gegewe tydstip. As daar mense is wat hulle met van die karakters vereenselwig, is ek bly.

“As hulle nie daarvan hou nie, is dit nie my probleem nie.” Die hantering van regstellende aksie en diversiteit in die werkplek is van die temas wat die sterkste staan.

Dit, sê hy, is gegrond op die absolute waarheid. Daardie dag toe sy voormalige werkgewer, Media24 Tydskrifte, hom na so ’n sessie gestuur het. “In die kantoor het ons het die coin geflip om te kyk wie moet gaan. Hulle het gesê: ‘Take one for the team!’ ”

“Ek was ná die tweede dag verskriklik ontsteld oor die snert wat daar gepraat word. Wit mense is gelooi, veral die wit man.”

En hy’t kwaad geraak toe die Iers gebore sessieleidster, wat dekades in ballingskap was, onomwonde verklaar het “it is not possible for the current government to be racist …”

Woord vir woord was “daai sessie net vir een ding goed, en dis om die boek te help skryf. Toe vat ek maar notas – ek’s mos ’n joernalis. Meer as 98% van die dialoog is verbatim. ’n Sirkus!” Want dis hoe Lourens, en Kirsten, glo transformasie gebeur nié.

“Daardie diversiteitswerksessie was een van die mees afbrekende goed in my lewe.” Dit sou meer konstruktief gewees het as kollegas van alle kleure saamgebraai en saamgedrink het, “dan begin jy vriende raak en kom jy gouer by die punt waar jy eintlik moet wees – waar almal mekaar as vriende en mense sien.

“Die karakters wys dinge in ons land is kompleks. Dit gaan nie oor transformasie-werksessies nie, maar oor omgee en medemenslikheid.”

Uiteindelik, sê Kirsten, is Plafon ’n boek oor niks, maar eintlik oor alles.

(Marlene Malan in Rapport)

                               Sluit Venster