Welkom by SA Vryskutskrywer - Mediamekka - Bedryfsnuus

 

‘Ek’s net gatvol’

2009-12-02 0

Chris Louw, veteraan-joernalis en rubriekskrywer van “Boetman”-faam, het hom gister in die vroeë oggendure met ’n AK47 onder die ken geskiet.

Hy was reeds ure dood toe sy vriend en mede-joernalis Foeta Krige afgekom het op sy natgereënde lyk in ’n ou voëlhok by ’n komposhoop op Louw se hoewe by De Wildt, naby Hartbeespoort.

Landwye skok en ongeloof het die nuus van die vurige Louw se selfmoord gister begroet.

“Dit was die laaste ding wat ek van hom verwag het,” het ’n hartseer Krige gister op die toneel gesê terwyl Louw se lyk weggeneem is.

Een tergende raaisel is waar Louw aan die AK47 gekom het. Beeld verneem in ’n laaste brief aan sy familie het Louw geskryf hy het ’n tyd gelede die AK in ’n sak op sy kleinhoewe ontdek. Hy het niemand daarvan vertel nie.

Louw het onlangs gereeld in Beeld en Rapport geskryf oor die erge misdaad wat die omgewing teister waar hy woon.

Krige, uitvoerende regisseur van Monitor/Spektrum, het ’n brief aan Louw se vrou, Johanita, op die toneel gevind. “Hy het daarin sekere reëlings met haar getref oor wat sy moet doen en wie sy moet kontak,” het Krige gesê. Louw het glo in die brief oor ’n onlangse familietwis geskryf wat hom baie ontstel het.

Hy het in 2000 ’n landwye debat ontlok met sy “Boetman”-brief waarin hy die frustrasies van middeljarige wit mans verwoord het wat gevoel het die ou Nasionale Party se “patriarge” het hulle verraai en grens toe gestuur om in ’n onwenbare oorlog te gaan veg.

Louw, wat eens beskou is as “links”, was later erg ontnugter deur die koers wat die land onder die ANC ingeslaan het.

Hy het Maandag vermis geraak sowat 17 uur voordat sy lyk gevind is. Lede van die LemLouw-veiligheidsmaatskappy en die gemeenskapsorganisasie De Wildt Helpmekaar het eergistermiddag na hom begin soek ná dreigemente dat hy sy lewe wil neem.

Hy het Maandag om 14:07 in ’n e-pos aan Tim du Plessis, redakteur van Beeld, geskryf: “Ek is net gatvol. Daar’s nie sin in om voort te ploeter nie; eerder vroeër dood as later.” Du Plessis het hom vergeefs gebel en ge-SMS.

Toe Du Plessis Louw se vrou omstreeks 16:00 bel, het sy gesê sy het pas ’n skoot gehoor. Oomblikke later het mnr. Jan Lemmer en lede van LemLouw en die buurtwag op die hoewe aangekom en die sowat 8,5 ha begin fynkam.

Die soekgeselskap het hul soektog later na die aanliggende plase uitgebrei en ook by die plaaslike kuierplek gaan ondersoek instel.

Toe dit stikdonker was, het die soekgeselskap onttrek en mev. Louw het die polisie ontbied. Beraders van die Brits-polisiekantoor is na die huis.

Om 22:00 het Krige en sy dogter, J-maine (19), by die plaas opgedaag om mev. Louw by te staan. Gisteroggend vroeg het Krige weer na Louw begin soek.

“Ek het om 07:40 op Chris afgekom,” het Krige gister gesê en vir ’n wyle doodstil gebly terwyl hy hard teen die trane baklei het. “Hy het homself geskiet. Hy het ’n kopwond gehad.”

Hy het gesê mev. Louw en die egpaar se volwasse kinders, Yolande en Eugene, en die res van hul familie is erg ontsteld oor wat gebeur het.

Volgens Krige het hy verlede Vrydag laas met Louw gepraat en was die selfmoord die “laaste ding” wat hy verwag het.

“Chris was Vrydag in high spirits toe hy vir my vertel het Tafelberg-uitgewers het hom genader om ’n boek te skryf. Ons sou nog bymekaar kom om te gesels.”

Nadat Louw in die polisievoertuig gelaai is, het Krige nader gestaan en na sy vriend gekyk. Daarna het hy ’n paar oomblikke aan die voertuig vasgehou en dit toe laat gaan. Hy het saggies gehuil.

Insp. Isaac Tsotetsi, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek. Hy het bevestig ’n AK47 is by Louw se lyk gekry, maar kon nie sê of dit aan Louw behoort het nie.

- Bron: Beeld

                               Sluit Venster