Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed
Geeneen wat 'n skryfbesigheid bedryf of vryskut werk kan verby 'n bruikbare wenk kyk nie en ons hier by SA Vryskutskrywer is geen uitsondering nie. Wenke, wenke en nogmaals wenke is altyd meer as welkom in 'n vryskutskrywer se gestresde én gejaagde lewe en as jy 'n beproefde wenk met 'n mede-gestresde kollega kan deel sal ons dit met ope arms aanvaar.
Het jy dalk enige skryfwenk wat werk? Kontak ons met enige bruikbare skryfwenke. Ons sal dit graag publiseer.
Hoe om navorsing te doen
Min
aspirant-skrywers besef dit, maar navorsing maak ‘n
integrale deel uit van bykans enige skryfwerk - van
nie-fiksie (natuurlik!) tot fiksie; en alles tussenin.
Gestel jy is besig om 'n boek te skryf. As jy verkeerde
of misleidende feite in jou boek gebruik, gaan jou leser
mos nie verder lees nie en dan kan jy daarvan vergeet om
naam as skrywer te maak. Hierdie feit geld natuurlik nie
honderd persent vir ‘n doodgewone liefdesroman nie,
hoewel selfs in hierdie genre daar sekere aspekte is wat
feitelik korrek weergegee moet word. Ons raak dus hier
so ligweg aan navorsing vir jou boek, al het jy reeds ‘n
goeie idee waaroor jou boek moet handel.
Wat ek hiermee wil sê is dat, gestel jy skryf ‘n
speurroman... jy kan nie sommer jou eie
polisieprosedures inwerk en dink jou leser gaan alles
vir soetkoek opeet nie. Nee, wat jy ook al in jou roman
inwerk móét feitelik korrek wees. Dis noodsaaklik om
geloofwaardigheid aan jou roman te verleen. Dink maar
hier as voorbeeld aan ons voorste krimskrywer, Deon
Meyer. Dink jy vir een oomblik sy boeke sou al in 20
tale vertaal gewees het as dit nie absoluut geloofwardig
was nie? Die man doen eindelose navorsing vir elkeen van
sy boeke, en dís hoe dit gedoen moet word. Net so met
Chanette Paul. Mens lees gereeld op haar Facebook-blad
en in haar nuusbriewe hoe en waar sy navorsing vir een
van haar nuutste romans gedoen het. Ek kan dus nie die
belangrikheid – én noodsaaklikheid – van navorsing vir
enige roman duideliker beklemtoon nie.
So, kom ons kyk hoe jy jou navorsing kan aanpak. Onthou
dat die navorsingsdatabasis wat jy saam met hierdie
kursus ontvang baie basies is. Die idee is dat jy, met
verloop van tyd, die databasis jou eie sal maak en
uitbrei soos wat jy aangaan, want hopelik is hierdie
roman nie jou enigste een nie!
Hoe jy te
werk gaan om jou navorsing bymekaar te kry, is uiters
belangrik. Werk jou bronnelys by terwyl jy werk sodat jy
maklik op een of ander stadium, as dit nodig is, na jou
navorsing kan terugverwys. ‘n Mens sukkel om te onthou
waar jy inligting vandaan gekry het – veral maande nadat
jy dit gevind het!
Gebruik jou notas
Notas sluit alles in wat verband hou met jou boek –
nie net dit wat jy in ‘n biblioteek of argief (veral in
die geval van geskiedkundige romans) gaan neerskryf het
nie, maar ook die
idees
wat jou binneskiet in die middel van die nag, en terwyl
jy dalk met iemand oor die foon gesels.
Die skryf van ‘n boek is soos om ‘n legkaart te bou –
elke stukkie inligting moet naderhand perfek inmekaarpas
om die prentjie te voltooi. Dis waarom jou notas so
belangrik is. En dis een van die dinge wat dit so lekker
maak – en al het jy nie die eindprentjie voor jy begin
nie – die prentjie neem vorm aan na aanleiding van jou
eie insette.
Soek vars feite
Feite is die boustene van enigiets wat jy skryf en
‘n roman is nie anders nie. Maar hou die feite vars en
nuut. As jy al ‘n hele paar jaar met ‘n idee vir ‘n
roman in jou kop rondloop, is dit belangrik om eers nuwe
feitelike navorsing toe doen voordat jy die boek aanpak.
Dalk is die idee nou al só verouderd dat jy niks daarmee
sal kan doen nie. Kom ons kyk nou na verskillende
maniere waarop jy feite kan bekom:
• Persoonlike ondervinding
In die eerste plek kan jy jou eie ondervinding
gebruik. Miskien weet jy heelwat omtrent die onderwerp
waaroor jy skryf, en, as jy wel iets weet, kan jy dit
solank op ‘n vel papier neerskryf. Sodra jy pen op paper
sit, begin die kreatiewe proses sy wending neem. Alles
wat in jou kop rondmaal, begin ‘n patroon vorm en jou
boek se begin vind reeds plaas wanneer jy daardie eerste
notas maak.
•
Knipsels van artikels en berigte
Tweedens kan jy die koerant- of tydskrifknipsels wat
oor jou onderwerp of verwante onderwerpe handel en wat
jy bymekaar gemaak het, begin raadpleeg. Hierdie metode
is veral van onskatbare waarde as jou roman oor iets
handel wat werklik gebeur, soos byvoorbeeld as jy ‘n
speurroman oor ‘n reeksmoordenaar wil skryf. Kry vir jou
‘n lêer spesifiek vir jou knipsels. Liasseer alles wat
jy oor jou tema uitvind hierin en jy het hulle altyd
bymekaar. In baie gevalle is sulke inligting dalk nie
van direkte belang wat feite aanbetref nie, maar wel as
agtergrondinligting. Hoe meer jy van jou onderwerp weet,
hoe groter is jou oorhoofse begrip en, gevolglik van
waarde al sou jy dalk nie die feite direk aanhaal nie.
• Boeke
Dis jou derde bron van feite. Besoek jou plaaslike
biblioteek indien jy nie self genoeg naslaanboeke het
nie. Soms is dit ‘n klein dingetjie wat ‘n mens wil weet
– soos byvoorbeeld wat die Boere gedurende September
1900 in hul veldslae teen die Engelse gedoen het en wat
hulle saans geëet het of wat die vrouens gedra het.
Sulke feite is maklik om na te slaan en indien dit in ‘n
boek gepubliseer is, is dit betroubaar genoeg om te
gebruik. Onthou net om die boek se naam, skrywer,
uitgewer, datum en bladsynommer ook neer te skryf vir
enige verdere navrae.
• Onderhoude
Formele en informele onderhoude is ook goeie bronne vir
‘n roman indien jy dalk ‘n kenner oor iets spesifieks
wil raadpleeg of, vanselfsprekend, as jy ‘n werklike
persoon jou sentrale karakter wil maak. Om ‘n onderhoud
te voer beteken nie in alle gevalle dat jy fisies na
iemand toe moet gaan om die onderhoud te voer nie. Om
iemand oor die telefoon te raadpleeg – miskien ‘n kenner
van jou onderwerp – word ook onder onderhoude
geklassifiseer. Dis egter ‘n meer informele onderhoud as
een waar jy ‘n afspraak maak en die persoon gaan
ontmoet.
• Internet
Almal het toegang tot die internet, en dit kan ‘n
onuitputlike bron van feite en inligting wees. Vir die
skryf van ‘n boek is die internet feitlik onontbeerlik.
Daar is verskeie webwerwe, soos dié van biblioteke,
waarop jy feite kan kry sonder om die pad en die verkeer
aan te durf. Meeste van die koerante het hul eie
webwerwe met argiewe waar jy kan gaan snuffel. Dié
argiewe strek van nou tot so ses of agt jaar gelede. Die
internet het wel ook sy nadele, soos baie van ons kan
getuig: wanneer die netwerk nie aanlyn is nie en jy NOU
daardie inligting benodig...
Ons het verskeie databasisse beskikbaar om jou in enige genre te help. Klik HIER om een te vind wat jou in jóú skryfwerk sal kan help.
? Wil jy 'n boek skryf? Kyk hier na die verskillende opsies wat ons bied.
![]() | ![]() |
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis
skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.