SA Vryskutskrywer SA Vryskutskrywer
 

Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed

Geeneen wat 'n skryfbesigheid bedryf of vryskut werk kan verby 'n bruikbare wenk kyk nie en ons hier by SA Vryskutskrywer is geen uitsondering nie. Wenke, wenke en nogmaals wenke is altyd meer as welkom in 'n vryskutskrywer se gestresde én gejaagde lewe en as jy 'n beproefde wenk met 'n mede-gestresde kollega kan deel sal ons dit met ope arms aanvaar.

Het jy dalk enige skryfwenk wat werk? Kontak ons met enige bruikbare skryfwenke. Ons sal dit graag publiseer.


 

Aspirant-skrywer? Dís wat jy nié mag doen nie

    deur Willem de Vries

Is dit ’n spel van omstandighede wat iemand van hoopvol na debutant-skrywer laat vorder, harde werk of iets van albei?

Willem de Vries het by uitgewers gaan kers opsteek oor hul werk met nog ongepubliseerde skrywers se manuskripte.

Etienne Bloemhof van NB-uitgewers vertel soms ontvang hulle manuskripte met baie illustrasiemateriaal daarby aangeheg, al is dit ’n fiksieteks.

“Dikwels ook die skrywer se omslag­ontwerp, maar die meeste voorleggings is taamlik sober van aard. As ek ’n geheim kan verklap: Soms gee selfs die dekbrief al ’n aanduiding of die betrokke manuskrip iets om die lyf gaan hê. Hartseer, maar waar.”

Jeanette Ferreira van Protea Boekhuis het dit oor onder meer lettergroottes en sentrering.

“In wanhopige gevalle ook keurige patrone om die bladsyrand. Alles mooi netjies in ’n legger gebind.”

Die meeste redakteurs het nie tyd om op kantoor manuskripte te lees nie; sy doen dit in haar vrye tyd, gewoonlik saans.

“Daar is ’n belangrike probleem wat saam met ’n manuskrip gaan: ’n skrywer (gewoonlik ’n debutant) wat ’n redakteur ‘’n bietjie agtergrond’ oor die manuskrip wil gee. Die redakteur wil dit asseblief nie hê nie. Sy wil asseblief die manuskrip lees soos die leser dit sal lees – en dit is sonder die agtergrond.”

Sy vertel sy ontvang meestal gedigte. “Waarvan slegs die uitsonderings publiseerbaar is, gesien die mark, en gesien die feit dat poësie dikwels ’n aspirantskrywer tot selfbeklag lei.

“Outobiografieë ook, hoewel minder, maar ’n mens moet altyd in gedagte hou dat ’n biografie net verkoop indien dit dié van ’n bekende persoonlikheid is.”

Sy sê iets wat veral haper, is te veel telling , te min showing – “ongeveer altyd in die geval van kortverhale en die roman”.

“Wat poësie betref: Private aches is noodlottig.”

Frederik de Jager van Umuzi sê die algemeenste foute wat nuwelingskrywers maak wanneer hulle hul werk aan ’n uitgewer voorlê, is: “Om in die eerste plek te skryf as hulle nooit moes probeer het nie; om te dink dat ’n persoonlike verduideliking die voorlegging sal bevoordeel; om te dink versorging maak nie saak nie; en om te dink dis nie nodig om te lees en ingelig te wees nie.”

Hy vertel hy ontvang die meeste romans van nuwelingskrywers “wat soms maar net amper nie outobiografieë is nie”.

Bloemhof vertel uit sy ondervinding die foute wat eerstekeer-skrywers begaan: “Om per dekbrief, telefoniese gesprek of oor ’n koppie koffie die teks aan jou te wil verkoop; skrywers kan jou gewoonlik uitvoerig vertel wat presies hulle met hul storie vermag, maar dit wat daar op papier staan, is maar die enigste oorredingsmiddel.

Kortom: Rather undersell and overdeliver.”

In die Engelse boeke­wêreld word ’n skrywer soms na aanleiding van ’n blog deur ’n uitgewer gewerf. Al hoe meer Afrikaanse mense blog en laai hul verhale en gedigte aanlyn. Het Afrikaanse uitgewers al op dié platforms skrywers gaan werf?

Bloemhof sê ’n platform soos LitNet is ooglopend die moeite werd om dop te hou.

“Tyd, of die gebrek daaraan, is altyd ’n faktor, maar as jy nie op die hoogte bly van wat in die media gebeur nie, gaan jy nooit vooruit boer nie.”

Ferreira sê die werklikheid in Suid-Afrika is dat lesers wat boeke koop gewoonlik nie – of nog nie – juis die internet gebruik nie. “In dié stadium is die sterkste kopersmark ouer mense.”

’n Belangrike deel van ’n boek se bemarkbaarheid is die outeur se bekendheid, gewoonlik in koerante of tydskrifte, vertel sy.

“Ek lees wel nuwe skrywers se bydraes op LitNet, op die uitkyk na talent. LitNet lewer ’n uiters waardevolle bydrae in hierdie verband.”

Leerkurwes geld nuweling­skrywers en redakteurs eweneens, maar menings oor opleiding van nuwe redakteurs verskil.

Jaco Jacobs, kinder- en jeugskrywer en uitgewer by Lapa, meen praktiese ondervinding in die uitgewersbedryf is van onskatbare waarde.

“Die beste opleiding is wat my betref om saam met kollegas te kan werk wat jare se ondervinding het en as mentors kan optree.”

De Jager beklemtoon die rol van mentorskap: “Ek dink nie dieselfde mentorskap as vroeër is meer algemeen, of selfs moontlik, nie. Ek is maar bly ek het kwaai en formidabele leermeesters gehad.

“Daar is redelik goeie programme aan universiteite, maar selfs dít is nog nie ’n leerskool vir insig, oordeel en die fynste begrip vir taal nie.”

Ferreira sê sy is nie seker dat uitgewerykursusse aan verskillende universiteite genoegsame opleiding bied nie.

“Van die hedendaagse redakteur word verwag dat hy/sy kan keur, die taal meesterlik kan hanteer, ’n aktiewe leser is, koste­berekenings kan doen, sperdatums haal, menseverhoudings taktvol kan hanteer en honderde balle tegelykertyd in die lug hou. Dit wil gedoen wees ... Die redakteur moet ’n meerdoelige pos kan volstaan.”

Bloemhof vertel toe hy in die bedryf beland het, was daar, sover hy onthou, nie eens iets soos ’n gestruktureerde uitgewerskursus aan ’n universiteit nie.

“Ek het baie vertroue in die nuwe geslag redakteurs, maar die waarheid is dat ’n mens nóóit voel jy het genoeg opleiding vir hierdie jop ontvang nie.

Dis ’n beroep wat jou voete plat op die aarde hou, en daar duik net te gereeld situasies op wat jou laat besef hoeveel jy nog het om te leer.

“In sulke gevalle praat ek gewoonlik met iemand soos die uitgewers­legende Hettie Scholtz wat waarskynlik nie eens besef oor hoeveel wysheid en insig sy beskik nie.”

Almal is dit eens: Die uitgewery is ’n bedryf wat werk met manuskripte, hoe onvolledig en voorlopig ook; daarsonder bly alle mentorskap slegs verlore voornemens.

- Bron: Boekeblok

  • Redigeer jou eie boek nadat jy die nodige kennis opgedoen het met een van ons redigeringskursusse.


Vertel 'n vriend hiervan:              Kontak ons


 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 

                                            Vertel 'n vriend van ons  

Sluit venster              Skryfkursusse                    Blitskursusse