Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed - Artikels

 

Die dood in die pot 

deur dr Anton Harber

Mei 18 2009 

Ons het ’n kartel nodig. Ek het nooit gedink ek sal dit ooit sê nie, so laat ek dit weer sê: Ons het ’n magtige, internasionale kartel in die mediabedryf nodig. Uitgewers moet om ’n tafel gaan sit en saamspan oor pryse en koste en hul mark – presies daardie ding wat byna wêreldwyd in wetgewing op mededinging verbied word. 

Laat ek voor begin. Die Amerikaanse koerantbedryf is so in die knyp dat die kongres verlede week verhore oor die toekoms van joernalistiek gehou het. Volgens die tydskrif The Nation is ’n aantal van die VSA se invloedrykste koerante bankrot: die Chicago Tribune, die Los Angeles Times, die Minneapolis Star Tribune, die Philadeplhia Inquirer. 

Denver se Rocky Mountain News en die San Fransisco Chronicle se deure is reeds toe. Nog ander is besig om toe te maak. Die 101 jaar oue Christian Science Monitor het sy daaglikse gedrukte uitgawe gesluit. Die Seattle Post-Intelligencer het sy gedrukte uitgawe toegemaak en sy redaksie van 165 na sowat 20 verminder vir sy nou-net-op-die-internet-uitgawe. 

Die New York Times moes ’n noodinspuiting van $250 miljoen kry en salarisse is met 5% gesny. By die Boston Globe is werknemers vertel as hulle nie ’n salarisbesnoeiing aanvaar nie, maak die koerant toe. The Nation berig oral word koerantredaksies gesny: met 300 (Los Angeles Times), 205 (Miami Herald), 150 (Kansas City Star) . . . noem maar op. 

’n Groep koeranthoofde het ’n veldtog begin om te veg teen die persepsie dat koerante almal besig is om te sterf. Natuurlik voer hulle die veldtog op die internet (newspaperproject.org). 

Dit laat ’n mens dink aan ’n onlangse spotprent in die New Yorker: ’n plakkaat met die bewoording “Print media is not dead! Go to our website for the full story.” 

Die feit van die saak is: die gemiddelde ouderdom van die Amerikaanse koerantleser is 55, en dit styg byna jaarliks. Dis nou nie wat ’n mens ’n groeiende mark sal noem nie. In die 1950’s was die daaglikse koerantpenetrasie in die VSA 120% per huisgesin (die gemiddelde huisgesin het dus meer as een koerant gekry). Dit is nou onder 50% en dit daal steeds. 

Wat is dus aan die gebeur? Sterf koerante? Die antwoord is natuurlik ja én nee. Koerante soos ons hulle ken, sterf. Op sommige plekke. Op sommige maniere. 

In Suid-Afrika, en ander ontwikkelende lande soos Indië en China, groei koerantverkope en -lesersmarkte sterk. Net 9% van ons bevolking gebruik die internet, daarom is dit nog nie so ’n bedreiging vir ons koerante nie. Maar hierdie groei geld net die poniekoerante, die nuwes wat op die werkersklas gerig is (veral die Daily Sun), asook die Mail & Guardian.  

Die land se tradisionele (ouer) koerante se sirkulasiesyfers gaan al dekades lank die kreeftegang. Só verkoop The Star minder koerante as 50 jaar gelede, toe sy lesersmark net 3 miljoen wittes was. Dieselfde geld elke koerant in die Independent-groep. 

Dieselfde patroon tree na vore by Media24: die ouer, Afrikaanse koerante gaan agteruit, terwyl die nuwe poniekoerante (soos Son en Sunday Sun) floreer. 

Tog maak sommige van ons koerante nog baie wins. Die Sunday Times is ’n geldmasjien, met van die grootste winsmarges in die internasionale koerantbedryf. Independent se Suid-Afrikaanse koerante is die winsgewendste in die hele groep, met marges van meer as 20%. By Media24 kom steeds R6 miljard van die totale inkomste van meer as R20 miljard uit die drukmedia, en sowat R600 miljoen se wins. 

Maar in Oktober verlede jaar het koerante se inkomste uit advertensies skielik grond toe geduik. Dit het gelei tot nog besnoeiings aan reeds dun redaksies. By Independent en Media is mense afgelê en al die koerante se produksiekantore saamgevoeg. 

By Media24 smelt vier redaksies van die “ernstige” Afrikaanse koerante saam in een multimedia-operasie en by M&G kyk hulle hoe hulle afleggings kan vermy deur werksure en salarisse te sny. Business Day sny sy redaksionele begroting en sy nuuskantoor smelt saam met Financial Mail. 

Dit is regoor die bedryf duidelik dat redaksies, wat reeds onder druk was en waarvan talle die laaste jare beduidend gekrimp het, nóg kleiner gaan word. Baie uitgewers gebruik die geleentheid om hul nuuskantore aan te pas vir die nuwe media. 

Hulle sny nie net nie; hulle hervorm om voor te berei vir die impak wanneer die internet hier net so vinnig en goedkoop as in baie ander lande word en die lesersmark gaan verander. 

So hoekom, as die internet vinniger en goedkoper is en opwindende potensiaal het, moet ons omgee oor koerante? Die internet bied immers ’n globale stem aan enigiemand met ’n rekenaar en ’n internetkonneksie, dit demokratiseer toegang tot die media. Wie gee om of daar nog koerante is? Ten minste, gee enigeen jonger as 40 nog om? 

Die probleem is dat koerante steeds die hooffinansierders is van ware, hoëvlak-joernalistiek, van dié soort wat noodsaaklik is in ’n demokrasie. Soos een Amerikaanse redakteur dit by die kongresverhore gestel het: Geen webwerf kan ’n verslaggewer stuur om die plaaslike stadsraad se wyksvergaderings te gaan bywoon nie. 

Nog ’n redakteur het gesê die tydperk tussen die agteruitgang van koerante en die opkoms van ’n werkbare internetmodel sal die beste tyd wees om ’n korrupte politikus te wees. 

Die internet het in baie gevalle koerante se lesersmarkte uitgebrei, maar bring nie die inkomste in om vir die nuuskantoor te betaal nie. Die lesers het aanbeweeg internet toe, maar die adverteerders het nie. 

In die derde kwartaal van verlede jaar het die Amerikaanse drukmedia $8,1 miljard (sowat R72 miljard) aan advertensieinkomste verdien (teenoor $10 miljard die vorige jaar), terwyl hul webwerwe ’n miserabele $773 miljoen verdien het – wat toon hoe vals die aanname is dat die advertensies die mark volg.

Advertensies vaar tradisioneel nie goed op die internet nie en pogings om lesers te laat betaal vir internetintekening het misluk. Internetgebruikers het ’n weerstand daarteen omdat so baie inligting op die net gratis beskikbaar is. 

Die internet het dus dalk baie potensiaal, maar dit kan nog nie ’n nuuskantoor finansier waar joernaliste ernstige, eerstehandse, ondersoekende verslaggewing doen nie. 

Die probleem is nie die dood van die koerant nie, maar die swak gesondheid van joernalistiek. Die ou sakemodel is besig om te sterf, en die nuwe een is nog nie gebore nie. 

En, soos daardie knorrige Italianer Antonio Gramsci gesê het, “in die tussentyd kom daar ’n horde lewensbedreigende simptome na vore”. 

En dit is so. Ons lees dit elke dag in dit wat voorgehou word om koerante te wees, ’n skrale skaduwee van wat hulle ’n paar jaar gelede was. Minder diepte, minder akkuraatheid, minder spesialisberiggewing, meer promosie, meer wol, meer menings. 

Tog is dit belangrik om te onthou dat daar al verskeie golwe van nuwe media was, wat almal doemvoorspellings oor die ou media meegebring het. Rolprentteaters sou die teater doodmaak, televisie sou rolprentteaters doodmaak, video sou álmal doodmaak, ensovoorts. 

Wat wel gebeur het, is dat die ou media aangepas het, verander het en oorleef het. 

Die probleem nou is dat die ressessie die agteruitgang van koerante dramaties verhaas het. En ’n mens moet erken die internetrevolusie is soos geen ander nie. Dit is die grootste verandering in die manier waarop die media geproduseer, gelewer en verbruik word sedert Guttenberg se uitvindings in die 15de eeu. 

Die web is nie net ’n ander medium nie. Dit is die medium van alle mediums. 

Uiteindelik kom ons te staan voor die feit dat ons alleen die nuus en inligting kry waarvoor ons bereid is om te betaal. Ons almal weet dit, en ons almal weet dat ’n betaalmodel vir die internet ontwikkel sal moet word as ons nog daardie ondersoekende, indringende, uitdagende joernalistiek wil hê wat die lewensbloed van demokrasie is. 

Wat ons nie weet nie, is hoe om daar uit te kom. 

Dit is hoekom ons ’n kartel nodig het – een wat kan ooreenkom dat almal op ’n spesifieke dag begin geld vra vir hul nuus en inligting op die internet. Dan sal mense voor die voldonge feit gestel word: betaal, of bly agter. En natuurlik sal ons betaal. 

Anton Harber is Caxton-professor in joernalistiek aan Wits.

- Bron: Beeld By

 Gratis goed                               Sluit Venster