Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed - Artikels

 

’n Iets wat nie niks is nie

Jun 09 2009  

Jaap Steyn

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vier oor twee weke sy eeufees in sy geboortestad, Bloemfontein. Sy soms stormagtige geskiedenis word vertel in Draer van ’n droom deur prof. Pieter Kapp. Die titel kom uit ’n boodskap van pres. M.T. Steyn aan die stigters oor die droom van ’n eie taal en letterkunde.  

Die tak van die Akademie wat miskien die meeste gedoen het om dié droom waar te maak, was sy taalkommissie wat die spelreëls opgestel het. Voorheen was die spelling onvas en skrywers en koerante moes hul lesers soms om verskoning vra omdat hulle party woorde elke keer anders spel.  

Die taalkommissie kon die politiek van die nuwe Suid-Afrika nie vryspring nie. Kapp skryf oor verskille tussen die Akademie en taalkundiges, en later Pansat. Een vraag was of die spelreëls oorgelaat moes word aan ’n staatsliggaam soos Pansat of aan private inisiatief soos dié van die Akademie.  

Soos ’n eeu gelede is daar weer ’n taalstryd wat nie net die status en funksies van die taal raak nie, maar ook sy woordeskat en grammatika. Almal wat na RSG luister, kom agter hoeveel mense met wie verslaggewers onderhoude voer, soms sukkel om hulle uit te druk .  

Dikwels neem hulle maar hul toevlug tot ’n magtelose “soos die Engelsman sê”.  

Dis verstaanbaar, want Afrikaans raak in onbruik in sommige takke van die staatsapparaat en die private sektor waar dit prakties ’n verbode werktaal is.  

Van die owerheid kan Afrikaanssprekendes geen begrip of steun verwag nie. Gelukkig doen al hoe meer instellings self iets.  

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans vertaal byvoorbeeld wetgewing wat vir die Afrikaanse publiek van groot belang is. 

Maar dié soort private inisiatief het grense. Die Afrikaanse gemeenskap is te arm om belasting te betaal vir Engelse openbare skole en universiteite én ekstra vir Afrikaanse inrigtings. Daarom bly beplanning en taalstryd nodig.  

Dit lyk of daar ook by ons die teenstelling bestaan wat ’n Nederlandse navorser (Mark Bovens) in Europa geïdentifiseer het. Dis dié tussen die kosmopoliete, wat groot voorstanders is van globalisering en multikulturalisme, en die nasionaliste, wat veg om die behoud van nasionale waardes en identiteit.  

Dis ietwat ironies dat, terwyl identiteitsbewustheid onder Duitsers en Nederlanders groei, dit onder ’n deeltjie van die Afrikaanse elite afneem. Uit briewe aan die pers blyk dit dat kosmopoliete dit wenslik vind dat histories Afrikaanse universiteite verengels – ook al bring dit “die verkwisting van ’n kosbare erfenis mee”, soos prof. Hermann Giliomee die afskaling van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch noem. 

Gelukkig werk baie mense vir eie instellings. Solidariteit se “plan van hoop” behels R30 miljoen se uitbreidings by sy tegniese kollege, Sol-Tech, die oprigting van die grootste Afrikaanse korrespondensiekollege en Afrikaanse beurse van miljoene rande.  

Binnekort begin die Pionier-Instituut met opleiding in Afrikaans in vakgebiede soos internasionale, politieke en strategiese studies. Verskeie Suid-Afrikaanse geleerdes is verbonde aan dié instituut, met dr. Heinrich Matthee as direkteur.  

’n Triestige aspek van ons situasie is dat veral die televisiemense nie genoeg gebruik maak van die geleentheid wat hulle nog het om Afrikaans vir vermaak te bevorder nie. As ek ’n skrywer van “ope briewe” was, sou ek een aan regisseurs, skrywers van sepie- en ander draaiboeke en televisiebase gerig het om te pleit: “Wil u nie asseblief probeer om minder Engfrikaans in ligte programme te gebruik nie? U hoef nie ál die mooie Engelse woorde uit te haal nie, net so ’n paar. Vroeër het ons vir die Hollanders gelag oor hul baie Engelse woorde, maar vandag gaan dit by ons nog erger.”  

Ondanks dit alles is daar aan die positiewe kant waardevolle skeppende werk in goeie Afrikaans in boeke, koerante, tydskrifte, radio en televisie. Genoeg om te herhaal wat N.P. van Wyk in 1959 soms aan mense uit die buiteland gesê het:  

“Kyk, honderd jaar gelede het ons niks gehad nie; vandag besit ons iets wat nie niks is nie.”  

En ook: Ons is geregtig op ’n bietjie beskeie trots. 

- Bron: Beeld

 

 Gratis goed                               Sluit Venster