Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed - Artikels

 

Fokus op lees, skryf, hoofrekene

2009-11-24

[Deel 2]

Gallie, wat met navorsing by ’n klompie skole betrokke is, sê wat hom ook opval, is hoe skole sukkel om byvoorbeeld ’n kurrikulumbestuursplan op te stel. Dít, sê hy, is nie eintlik onderwysers se werk nie en behoort op distriksvlak gedoen te word.

Volgens Gallie presteer leerlinge nie swak weens ’n “kurrikulumprobleem nie, maar eerder weens ’n mensprobleem”.

“Ons kan die kurrikulum 20 keer verander, maar as ons dit nie gaan regkry dat onderwysers onderrig gee nie, help dit niks nie.”

Gehalte-onderwys

Prof. Gawie du Toit, hoof van die departement kurrikulumstudies in die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), meen die grootste uitdaging met die veranderings is om die “bedoelde kurrikulum en die toegepaste kurrikulum so na as moontlik aan mekaar te kry”.

Dit was ook in die verlede die probleem. “Die haalbaarheid daarvan om die bedoelde en toegepaste kurrikulum dieselfde te kry is afhanklik van gehalte-onderwysers en gehalte-leiers in die onderwys. Sonder dít is die kans groot dat die proses homself maar net gaan herhaal.”

Du Toit sê daar is bevind gehalte-onderwys vind nie plaas nie en die twee moontlike oorsake is die tekort aan gehalte-onderwysers en -leiers in die onderwys. “Dit sal egter kortsigtig wees om die blaam vir die gebrek aan gehalte-onderwysers slegs op opleidingsinstellings se skouers te plaas. Meer as 80% van die huidige onderwyserskorps is nie formeel in UGO opgelei nie.”

Du Toit steun die terugbring van handboeke. “Dit gaan egter ’n uitdaging wees om te verseker elke leerling kry ’n goeie handboek in elke vak.”

Du Toit sê voorts die veranderings sal omsigtig bestuur moet word. “Onderwysers, ouers en opleiers, en waarskynlik ook leerlinge, is vuisvoos vir al die veranderings oor die afgelope dekade in die onderwys.”

Volgens Du Toit is die daarstel van nuwe beleidsdokumente vir toepassing in 2011 dalk ook net te gou.

Groter klem op Engels

Hy het verwys na die groter klem wat in die toekoms op Engels as onderrigmedium geplaas gaan word, maar meen daar is talle skole met Afrikaans as onderrigmedium en dit behoort positief verreken te word.

Prof. Sarah Gravett, dekaan van opvoedkunde aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), meen min dinge gaan in die klaskamers van skole verander waar goeie onderrig nog altyd die fokus was. “’n Kurrikulum is so goed soos die onderwysers wat dit toepas.”

Gravett sê die verligting van onderwysers se administratiewe laste is positief. “’n Mens hoop net dat die tyd wat voorheen daaraan gewy is nou vir onderrig gebruik sal word.”

Sy sê voorts die vermindering van skooltake en projekte is iets waaroor baie onderwysers én ouers dankbaar sal wees.

Wat die opleiding van onderwysers in vakinhoud betref, sê Gravett die vraag is hóé dit gedoen gaan word aangesien kort, afsonderlike werksessies dikwels nie geslaag is nie.

Sy sê die moratorium op die ontwikkeling van nuwe kurrikulumdokumente en die sentralisering van kommunikasie rondom die kurrikulum is ook goeie nuus. “Daar is tans ’n oorvloed van kurrikulumdokumente wat tot baie verwarring lei.”

Dr. Gustav Niebuhr, kurrikulumdeskundige van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het gesê die SAOU is in die algemeen positief oor die veranderings, mits die beplanning goed gaan wees, dit baie duidelik gekommunikeer word en skole betyds riglyne kry.

Daar is egter steeds kwessies wat meer duidelikheid verg, soos die opleiding van onderwysers, die klem op Engels wat tot die vestiging van ’n enkeltaalmodel kan lei en die inbring van ’n nuwe vak soos algemene studies in 2011 vir gr.0 tot gr.3.

“Die SAOU verwelkom dit egter dat al die veranderings nie halsoorkop gedoen gaan word nie.”

- Bron: Beeld

Terug na Deel [1]

Terug na vorige blad