


Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed - Artikels
Fokus op lees, skryf, hoofrekene
2009-11-24
[Deel 1]
Uitkomsgerigte onderrig (UGO) het misluk. ’n Omvattende her- siening, algehele verandering tot die totale afskaffing en doodverklaring daarvan, is uit verskeie oorde bepleit. Alet Rademeyer berig oor wat nou op leerlinge en onderwysers wag.
Me. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, moes die laaste paar weke bontstaan om te verduidelik wat die “stand” van uitkomsgerigte onderrig (UGO) gaan wees nadat sy ’n verslag van ’n taakspan oor die hersiening van die toepassing van die nasionale kurrikulum ontvang het.
Motshekga het op ’n mediakonferensie in Pretoria van die aanbevelings deur die taakspan aanvaar en gesê: “Dit kom neer op ’n terugkeer na hoe baie dinge vroeër gedoen is.”
Dié stap is wyd in onderwys- en akademiese kringe verwelkom.
Motshekga is in sommige kringe egter steeds veroordeel omdat sy nie UGO wou dood verklaar nie, soos wat mense soos dr. Mamphela Ramphele wou hê.
Dié struikelblok het sy omseil deur in die parlement te sê die regering het vir alle praktiese doeleindes UGO se doodsertifikaat uitgereik, maar dat hy nie by “oorvereenvoudigde ideologiese debatte oor dié kwessie ingesleep en gedwing gaan word om sy eie doelwitte te ontken nie”.
Motshekga het gesê wat nou nodig is, is “geïnspireerde onderwys gegrond op ’n kurrikulum wat onderrigbaar is”. En daarvoor is daar ’n vyfjaarplan van volgende jaar tot 2014 wat wyd gekommunikeer gaan word.
Van die aanbevelings gaan reeds volgende jaar verligting aan onderwysers bring, maar ander “het meer beplanning en konsultasie nodig”.
Wat volgende jaar in skole veronderstel is om te gebeur, is:
Onderwysers onderrig meer
Onderwysers se administratiewe laste moet ligter gemaak word sodat hulle meer tyd vir leer en onderrig het.
* Leerling-portefeuljes as afsonderlike samestellings van assesseringstake word gestaak. Skoolassessering bly egter ’n vereiste om leerlinge na die volgende grade te bevorder.
* Die aantal projekte/take word verminder na een per vak.
* Vordering- en slaagvereistes vir gr.0 tot gr.12 sal gefinaliseer word, asook graderingbeskrywings vir pre-stasie. Die balans tussen jaar- en eksamenpunte sal 50% vir gr.4 tot gr. 9 wees. Vir gr.10 tot gr.12 sal die jaarpunt 25% tel en die eksamen 75%.
* ’n Besliste terugkeer na die gebruik van handboeke aangesien onderwysers se hooftaak nie die ontwikkeling van leermateriaal kan wees nie.
* Beplanning deur onderwysers word ook afgeskaal en elkeen het voortaan net een lêer nodig wat aan bepaalde vereistes moet voldoen.
Groter steun vir onderwysers
’n Toename in ondersteuning vir onderwysers.
* Omdat baie onderwysers gekla het dat hulle nie genoeg opleiding gekry het nie, gaan dit nou gebeur terwyl hulle in diens is en ook volgens die vakke wat hulle aanbied.
* Alle skoolhoofde, departementshoofde, distrik- en provinsiale ondersteuningspersoneel gaan opgelei word in die vereistes, die inhoud en assessering van die kurrikulum.
* Die rol van die vakadviseur as kundige eerder as kurrikulum-ontwikkelaar sal uitgespel word. Die adviseurs gaan spesiale steun rondom bepaalde vakke aan onderwysers gee.
Lees, skryf en tel
Die versterking van geletterdheid en gesyferdheid.
* Die “grondslag vir leer”-program gaan in elke skool in gr.?0 tot gr.6 ingestel word. Die fokus sal elke dag op lees, skryf en hoofrekene val. Onderwyserpakkette om hulle daarin touwys te maak sal na alle skole versprei word.
Van 2011 en daarna:
* Leerareas vir gr.4 tot gr.6 verminder van agt na ses.
* Elke kind in gr.4 tot gr.12 moet sy eie handboek in elke vak kry. Die departement sal riglyne neerlê oor die aanskaffing en terugkry van boeke.
* ’n Moratorium is geplaas op die ontwikkeling en verspreiding van enige nuwe kurrikulumdokumente totdat die kurrikulum- en assesseringbeleidsdokumente deur die departement gefinaliseer is. Die doel is om enige verwarring te voorkom, en die nuwe dokumente sal in 2011 na alle skole versprei word.
Dr. Muavia Gallie, onderwyskenner aan die Universiteit van Pretoria (UP), waarsku dat mense nie ooroptimisties oor die wysigings moet wees nie.
Vir hom is die groot probleem binne-in skole (hoofsaaklik lae en heeltemal wanfunksionele skole) waar “georganiseerde chaos” die meeste van die tyd aan die orde van die dag is.
Gallie meen gebrekkige kommunikasie van onderwysdepartemente en distrikte na skole is “ammunisie vir onderwysers om niks te doen nie”.
Na Deel [2]

