Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed - Artikels

 

Fokus op lees, skryf, hoofrekene

2009-11-24

Uitkomsgerigte onderrig (UGO) het misluk. ’n Omvattende her- siening, algehele verandering tot die totale afskaffing en doodverklaring daarvan, is uit verskeie oorde bepleit. Alet Rademeyer berig oor wat nou op leerlinge en onderwysers wag.

Me. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, moes die laaste paar weke bontstaan om te verduidelik wat die “stand” van uitkomsgerigte onderrig (UGO) gaan wees nadat sy ’n verslag van ’n taakspan oor die hersiening van die toepassing van die nasionale kurrikulum ontvang het.

Motshekga het op ’n mediakonferensie in Pretoria van die aanbevelings deur die taakspan aanvaar en gesê: “Dit kom neer op ’n terugkeer na hoe baie dinge vroeër gedoen is.”

Dié stap is wyd in onderwys- en akademiese kringe verwelkom.

Motshekga is in sommige kringe egter steeds veroordeel omdat sy nie UGO wou dood verklaar nie, soos wat mense soos dr. Mamphela Ramphele wou hê.

Dié struikelblok het sy omseil deur in die parlement te sê die regering het vir alle praktiese doeleindes UGO se doodsertifikaat uitgereik, maar dat hy nie by “oorvereenvoudigde ideologiese debatte oor dié kwessie ingesleep en gedwing gaan word om sy eie doelwitte te ontken nie”.

Motshekga het gesê wat nou nodig is, is “geïnspireerde onderwys gegrond op ’n kurrikulum wat onderrigbaar is”. En daarvoor is daar ’n vyfjaarplan van volgende jaar tot 2014 wat wyd gekommunikeer gaan word.

Van die aanbevelings gaan reeds volgende jaar verligting aan onderwysers bring, maar ander “het meer beplanning en konsultasie nodig”.

Wat volgende jaar in skole veronderstel is om te gebeur, is:

Onderwysers onderrig meer

Onderwysers se administratiewe laste moet ligter gemaak word sodat hulle meer tyd vir leer en onderrig het.

* Leerling-portefeuljes as afsonderlike samestellings van assesseringstake word gestaak. Skoolassessering bly egter ’n vereiste om leerlinge na die volgende grade te bevorder.

* Die aantal projekte/take word verminder na een per vak.

* Vordering- en slaagvereistes vir gr.0 tot gr.12 sal gefinaliseer word, asook graderingbeskrywings vir pre-stasie. Die balans tussen jaar- en eksamenpunte sal 50% vir gr.4 tot gr. 9 wees. Vir gr.10 tot gr.12 sal die jaarpunt 25% tel en die eksamen 75%.

* ’n Besliste terugkeer na die gebruik van handboeke aangesien onderwysers se hooftaak nie die ontwikkeling van leermateriaal kan wees nie.

* Beplanning deur onderwysers word ook afgeskaal en elkeen het voortaan net een lêer nodig wat aan bepaalde vereistes moet voldoen.

Groter steun vir onderwysers

’n Toename in ondersteuning vir onderwysers.

* Omdat baie onderwysers gekla het dat hulle nie genoeg opleiding gekry het nie, gaan dit nou gebeur terwyl hulle in diens is en ook volgens die vakke wat hulle aanbied.

* Alle skoolhoofde, departementshoofde, distrik- en provinsiale ondersteuningspersoneel gaan opgelei word in die vereistes, die inhoud en assessering van die kurrikulum.

* Die rol van die vakadviseur as kundige eerder as kurrikulum-ontwikkelaar sal uitgespel word. Die adviseurs gaan spesiale steun rondom bepaalde vakke aan onderwysers gee.

Lees, skryf en tel

Die versterking van geletterdheid en gesyferdheid.

* Die “grondslag vir leer”-program gaan in elke skool in gr.?0 tot gr.6 ingestel word. Die fokus sal elke dag op lees, skryf en hoofrekene val. Onderwyserpakkette om hulle daarin touwys te maak sal na alle skole versprei word.

Van 2011 en daarna:

* Leerareas vir gr.4 tot gr.6 verminder van agt na ses.

* Elke kind in gr.4 tot gr.12 moet sy eie handboek in elke vak kry. Die departement sal riglyne neerlê oor die aanskaffing en terugkry van boeke.

* ’n Moratorium is geplaas op die ontwikkeling en verspreiding van enige nuwe kurrikulumdokumente totdat die kurrikulum- en assesseringbeleidsdokumente deur die departement gefinaliseer is. Die doel is om enige verwarring te voorkom, en die nuwe dokumente sal in 2011 na alle skole versprei word.

Dr. Muavia Gallie, onderwyskenner aan die Universiteit van Pretoria (UP), waarsku dat mense nie ooroptimisties oor die wysigings moet wees nie.

Vir hom is die groot probleem binne-in skole (hoofsaaklik lae en heeltemal wanfunksionele skole) waar “georganiseerde chaos” die meeste van die tyd aan die orde van die dag is.

Gallie meen gebrekkige kommunikasie van onderwysdepartemente en distrikte na skole is “ammunisie vir onderwysers om niks te doen nie”.

Gallie, wat met navorsing by ’n klompie skole betrokke is, sê wat hom ook opval, is hoe skole sukkel om byvoorbeeld ’n kurrikulumbestuursplan op te stel. Dít, sê hy, is nie eintlik onderwysers se werk nie en behoort op distriksvlak gedoen te word.

Volgens Gallie presteer leerlinge nie swak weens ’n “kurrikulumprobleem nie, maar eerder weens ’n mensprobleem”.

“Ons kan die kurrikulum 20 keer verander, maar as ons dit nie gaan regkry dat onderwysers onderrig gee nie, help dit niks nie.”

Gehalte-onderwys

Prof. Gawie du Toit, hoof van die departement kurrikulumstudies in die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), meen die grootste uitdaging met die veranderings is om die “bedoelde kurrikulum en die toegepaste kurrikulum so na as moontlik aan mekaar te kry”.

Dit was ook in die verlede die probleem. “Die haalbaarheid daarvan om die bedoelde en toegepaste kurrikulum dieselfde te kry is afhanklik van gehalte-onderwysers en gehalte-leiers in die onderwys. Sonder dít is die kans groot dat die proses homself maar net gaan herhaal.”

Du Toit sê daar is bevind gehalte-onderwys vind nie plaas nie en die twee moontlike oorsake is die tekort aan gehalte-onderwysers en -leiers in die onderwys. “Dit sal egter kortsigtig wees om die blaam vir die gebrek aan gehalte-onderwysers slegs op opleidingsinstellings se skouers te plaas. Meer as 80% van die huidige onderwyserskorps is nie formeel in UGO opgelei nie.”

Du Toit steun die terugbring van handboeke. “Dit gaan egter ’n uitdaging wees om te verseker elke leerling kry ’n goeie handboek in elke vak.”

Du Toit sê voorts die veranderings sal omsigtig bestuur moet word. “Onderwysers, ouers en opleiers, en waarskynlik ook leerlinge, is vuisvoos vir al die veranderings oor die afgelope dekade in die onderwys.”

Volgens Du Toit is die daarstel van nuwe beleidsdokumente vir toepassing in 2011 dalk ook net te gou.

Groter klem op Engels

Hy het verwys na die groter klem wat in die toekoms op Engels as onderrigmedium geplaas gaan word, maar meen daar is talle skole met Afrikaans as onderrigmedium en dit behoort positief verreken te word.

Prof. Sarah Gravett, dekaan van opvoedkunde aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), meen min dinge gaan in die klaskamers van skole verander waar goeie onderrig nog altyd die fokus was. “’n Kurrikulum is so goed soos die onderwysers wat dit toepas.”

Gravett sê die verligting van onderwysers se administratiewe laste is positief. “’n Mens hoop net dat die tyd wat voorheen daaraan gewy is nou vir onderrig gebruik sal word.”

Sy sê voorts die vermindering van skooltake en projekte is iets waaroor baie onderwysers én ouers dankbaar sal wees.

Wat die opleiding van onderwysers in vakinhoud betref, sê Gravett die vraag is hóé dit gedoen gaan word aangesien kort, afsonderlike werksessies dikwels nie geslaag is nie.

Sy sê die moratorium op die ontwikkeling van nuwe kurrikulumdokumente en die sentralisering van kommunikasie rondom die kurrikulum is ook goeie nuus. “Daar is tans ’n oorvloed van kurrikulumdokumente wat tot baie verwarring lei.”

Dr. Gustav Niebuhr, kurrikulumdeskundige van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het gesê die SAOU is in die algemeen positief oor die veranderings, mits die beplanning goed gaan wees, dit baie duidelik gekommunikeer word en skole betyds riglyne kry.

Daar is egter steeds kwessies wat meer duidelikheid verg, soos die opleiding van onderwysers, die klem op Engels wat tot die vestiging van ’n enkeltaalmodel kan lei en die inbring van ’n nuwe vak soos algemene studies in 2011 vir gr.0 tot gr.3.

“Die SAOU verwelkom dit egter dat al die veranderings nie halsoorkop gedoen gaan word nie.”

- Bron: Beeld

 Gratis goed                               Sluit Venster