


Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed - Artikels
Renduif vinniger as internet!
2009-09-10 01:14
Durban. – Dis nou bewys. As dit by grootte kom, is selfs ’n duif vinniger as e-pos in Suid-Afrika.
Winston die renduif het 4 gigagreep (GG) data op ’n rekenaarskyfie gister 23 keer vinniger van Howick na Hillcrest – ’n afstand van 70 km – vervoer as ’n vinnige ADSL-lyn.
Dié belowende jong renduif van mnr. Rob Heerman het ’n reuse-aandeel daarin gehad om dié taak binne 2 uur 6 minute en 57 sekondes afgehandel te kry. Oor ’n ADSL-lyn met ’n verbindingspoed van 1 024 Mgps sou dit na raming 2 dae 2 uur en 6 minute geneem het, het mnr. Kevin Rolfe, hoof van The Unlimited Group se IT-afdeling, gesê.
En dan is bykans die helfte van die veerpostyd in beslag geneem deur die data op die skyfie te laai, die skyfie van Winston se hok na die maatskappy se kantoor te neem en die data op rekenaar oor te dra.
Winston self het die afstand in 1 uur 15 minute afgelê weens motreën en digte mis tussen Howick en Pietermaritzburg.
The Unlimited Group, wat finansiële dienste vanuit elf inbelsentrums in KwaZulu-Natal bemark, het besluit om veerpos op die proef te stel ná ’n opmerking van ’n gefrustreerde personeellid toe hulle op ’n keer 6 uur gesukkel het om 4 MG van Howick na die hoofkantoor in Hillcrest te stuur.
Buiten die beperkte bandwydte in Suid-Afrika sukkel hulle verskriklik met ADSL-verbindings wat af is, het Rolfe gesê. Einde Junie was hul verbinding na hul Chatsworth-sentrum net 10% van die tyd beskikbaar en in Augustus 50%.
Ná gister se eksperiment sal hulle wedvlugduiwe gebruik wanneer dié beskikbaar is, het Rolfe gesê. Só kan hulle byvoorbeeld ’n hele week se data op een slag per duif stuur.
“Die eksperiment met Winston gaan nie daaroor om iemand sleg te sê nie. Hopelik kan Suid-Afrikaanse ondernemings vorendag kom met ’n beter manier om dinge te doen,” het Rolfe gesê.
- Bron: Beeld



