Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed - Artikels

 

Geletterdheid ís krisis in SA, sê Motshekga

2009-10-17

Geletterdheid is ’n krisis in Suid-Afrika, het me. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gister gesê.

“Ons bevind ons in ’n krisissituasie,” het sy op ’n konferensie van die leesstigting van Suid-Afrika (Rasa) by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in Johannesburg erken.

Motshekga glo as Suid-Afrikaners “floreer ons altyd in krisisse”, maar daar is groot probleme wat aandag moet kry.

Sy het na ’n “skokkende verslag” verwys waarvoor 53 958 gr. 3-leerlinge uit 2 328 laerskole in 2007 getoets is. Hulle het ’n gemiddelde 36% vir geletterdheid en 35% vir gesyferdheid behaal. “Sommige skole het ’n gemiddelde van 96% behaal, terwyl ander nie eens geslaag het nie, maar wat my meer bekommer, is dat die meerderheid leerlinge waarskynlik rondom 18% behaal het.”

Volgens Motshekga presteer die onderwysstelsel nie na behore nie.

Tog glo sy die regering kan steeds sy mikpunt van ’n gemiddelde punt van 50% vir geletterdheid in 2011 bereik. Volgens haar sal misdaad ook verminder sodra geletterdheidsvlakke verbeter. “As jy ’n geletterde nasie het, sal dit moeilik wees om mans te kry wat barbaarse misdade soos verkragting pleeg.”

Volgens die minister moet die regering hom op gehalte-onderrig toespits, ’n leeskultuur onder kinders skep en moet toegang tot boeke, veral in kinders se moedertaal, verbeter word.

Motshekga glo elke kind behoort minstens 30 minute per dag in die klas aan lees te bestee.

“Jy moet so lief vir boeke wees soos jy vir jou ma is.”

- Bron: Beeld 

 Gratis goed                               Sluit Venster