Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed - Artikels

 

‘Drukmedia se tyd begin nou’ sê Raphaely

17/05/2009

Doemprofete sê die drukmedia (en die gedrukte woord) se dae is getel, maar in der waarheid het sy tyd pas begin.

Want in watter vorm ook al, die gedrukte woord is oral, selfs aanlyn en mobiel.

Dít was die kern van tydskrif-doyenne Jane Raphaely se boodskap met haar bekroning vroeër die maand as die eerste Lewenslange Presteerder van die jaarlikse ADMag-tydskriftoekennings van die bedryfstydskrif ADvantage.

In haar bedankingstoespraak het Raphaely die nuwe ADvantage, wat in Mei met ’n jeugdige en vars voorkoms spog, as die werklike wenner uitgesonder.

Sy het voorspel dat dié nuwe voorkoms nog “ons kinders se kinders” gaan aanmoedig om dit te lees.

TIP Publishing, met Joan Kruger en Petro du Toit aan die stuur, was, in samewerking met die ADvantage-span, vir die tydskrif se merkwaardige “ontrimpeling” verantwoordelik.

Volgens ADvantage se nuwe redakteur, Louise Marsland, was die doel met die herontwerp “om die diversiteit en jeug van die bedryf te weerspieël, as toonvenster vir kreatiwiteit te dien, ’n nuwe sakestrategie en -insig te beklemtoon en bedryfskwessies met kritiese denke aan te pak”.

In dié veranderende tye wil die tydskrif ook as bron van inspirasie dien, “maar terselfdertyd nie sy verantwoordelikheid as sake-tot-saketydskrif – om in te lig, op te lei en sakegroei aan te moedig deur verskaffers en verspreiders te verbind – uit die oog verloor nie”.

Media24-publikasies en hul stalmaats het weer geskitter by dié jaarlikse toekenningsgeleentheid.

Behalwe dat Media24 as Uitgewer van die Jaar bekroon is, is Huisgenoot/YOU vereer as beste algemene tydskrif, Move! as Tydskrif van die Jaar, Psychologies as beste internasionale titel en as beste gesondheids- en welweestydskrif, Finweek as die beste saketydskrif, Real Simple as die beste leefstyltydskrif, SARIE as die beste vrouetydskrif (vir vroue van 35+ jaar), Sports Illustrated as die beste sporttydskrif en WEG!/GO! as medewenner in die kategorie vir ontspannings- en reistydskrifte.

In die nuwe kategorie vir innoverende digitale uitgewery, het Your Parenting (Your Baby, Baba & Kleuter,Your Pregnancy) met goud weggestap. 

Daarbenewens is die tydskrif Plascon COLOUR, wat deur Media24 se stalmaat, New Media Publishing, behartig word, as die beste kliënttydskrif bekroon en VISI as die beste dekortydskrif. 

Sumien Brink, redakteur van Woolworths TASTE en redaksionele hoof van VISI en Plascon COLOUR, is Redakteur van die Jaar. 

Bravo! het nie net geseëvier as beste kuns- en vermaaklikheidstydskrif nie, maar ook as Nuweling van die Jaar. 

Ander goue wenners is SA Country Life (medewenner, reis); NAG (Jeugkultuur); Fit Pregnancy (Ouerskap) en Business Day Wanted (formaatbylaes). 

- Bron: Sake24

 

Terug na vorige blad