Welkom by SA Vryskutskrywer se Gratis goed - Artikels

 

Netwerk, kry werk

2010-01-18

deur Alet Rademeyer

Verlede jaar se matriekuitslae was ’n skok: Duisende kandidate het gedruip of sit nou met ’n sertifikaat wat geen toegang tot die arbeidsmark bied nie. Alet Rademeyer berig.

Waarheen nou?

Dit is waarskynlik wat die oorgrote meerderheid van die 552 072 kandidate wat verlede jaar matriek geskryf het hulself afvra.

Altesame 334 718 het geslaag, 217?355 het gedruip en 109 697 kan, as hulle gelukkig is, iewers vir ’n graad by ’n universiteit studeer. Sowat 140 000 kan dalk ’n diploma of sertifikaat verwerf.

Die meeste skoolverlaters bevind hulle egter in ’n dilemma omdat baie van hulle nie werk gaan kry nie weens ’n skoolkurrikulum wat hulle nie vir die werkwêreld voorberei nie, sê mnr. Dirk Hermann, Solidariteit se adjunkhoof. Hy meen 23% van dié wat geslaag het, gaan nie werk kry nie.

Solidariteit beveel aan dat kandidate alles in hul vermoë doen om verder te studeer, want mense met hoëronderwyskwalifikasies het ’n ongeëwenaarde voorsprong om werk te kry.

“As studie nie moontlik is nie, is enige werk beter as niks. ’n Jaar se ongeskoolde arbeid op ’n CV lyk beter as ’n gaping van ’n jaar,” meen hy.

Vir die sowat 20% van verlede jaar se druipelinge wat twee vakke kort om die sertifikaat te verwerf, is die eerste aanbeveling om voor 22 Januarie vir die hereksamen te registreer.

Die aanvullende eksamen begin op 15 Februarie.

Die raad van prof. Kobus Maree, opvoedkundige sielkundige en ’n kenner op die gebied van loopbaanvoorligting by die Universiteit van Pretoria (UP), is: “Moenie moed opgee nie. Daar is baie geleenthede ná skool. Dit word net nie altyd oral goed gekommunikeer nie en deesdae is 80% van werkgeleenthede in die sogenaamde ‘versteekte’ arbeidsmark.

“Dit beteken jy moet met vriende, kollegas en kennisse praat en só uitvind of daar iewers iets beskikbaar is wat jy kan doen. Die slagspreuk is deesdae nie verniet nie: ‘As jy netwerk, het jy werk’.”

Diegene wat nie onmiddellik wil of hoef te gaan werk nie, moet hulle vergewis van die talle kursusse by private opleidingsinstellings, korrespondensiekursusse, instellings wat gratis opleiding aanbied, opleiding aan kolleges vir verdere onderwys en opleiding (VOO), sowel as vakleerlingskappe wat blykbaar vanjaar weer ’n hupstoot gaan kry.

Maree moedig studente wat onseker is oor wat hulle wil doen aan om hulle te laat evalueer. “Bestee eerder daardie R1000 of R2000 op dié manier voordat jy met iets begin wat nie vir jou is nie.”

Hy wys ook op die belangrikheid daarvan dat mense hul drome najaag. Hy meen dit help nie iemand begin met iets as hy nie gemotiveerd is nie. ’n Wegbreekjaar is dan beter.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het verlede week gesê die regering se doelwit vanjaar is om toegang tot naskoolse onderrig uit te brei. Volgens hom is daar nie ’n behoorlike balans tussen universiteite met hul 799000 en kolleges se sowat 400?000 studente nie. Die idee is dat inskrywings by kolleges oor die volgende vyf jaar moet verdubbel.

Nzimande het gesê hy is bewus daarvan dat die kollegesektor die laaste jare reuse-veranderinge ondergaan het. Vanjaar word beplan om verskillende inisiatiewe met die Setas (sektorale onderwys- en opleidingsowerhede) en universiteite van tegnologie te konsolideer.

“Ons glo kolleges moet verkose instellings vir studente word en ’n belangrike rol speel om hulle vir ekonomiese deelname voor te berei,” het hy gesê.

Hy het ook gesê die leerlingskapprogramme sal vanjaar uitgebrei word en die Setas sal 35000 studente tot die programme toelaat. Verder sal die nasionale vaardigheidsontwikkelingsfonds R500?miljoen bewillig vir leerprogramme vir kandidate wat nie die nodige universiteit- of kollegetoelatingsvereistes het nie.

Nzimande het skoolverlaters aangemoedig om hul CV’s by die Setas in te dien en inligting oor die leerlingskappe op die departement van arbeid en die onderwysdepartemente se webtuistes te kry.

Nzimande het voorts gesê hoewel elke individu die loopbaan van sy keuse moet volg, moedig die regering mense aan om in rigtings en beroepe te studeer wat aan die behoeftes van die ekonomie kan voldoen. Ten minste 12500 ambagsmanne moet per jaar opgelei word.

Ander skaars vaardighede sluit in bou-omgewingspesialiste, gesondheidswerkers, stadsbeplanners, inligtingstegnologiekenners, regslui, finansiële beroepe, onderwysers, tegnici en werkers in die vervoerbedryf.

Kandidate wat nie by openbare hoëronderwysinstellings plek kry nie, moet by private instellings aanklop.

Daar is minstens 110 ten volle geregistreerde instellings wat opleiding kan gee én plek het, sê dr. Paul Steyn, lid van die hoëronderwyskomitee van die Association of Private Providers of Education, Training and Development (Appetd). ’n Lys van erkende instellings en die kursusse wat hulle aanbied, is by www.education.gov.za, die webtuiste van die onderwysdepartement, beskikbaar.

Steyn meen gegewe die koste van tersiêre opleiding in die algemeen is studie deur private instellings bekostigbaar én relevant. Van dié instellings spog met ’n 100%-toelating tot die arbeidsmark ná die verkryging van die kwalifikasie.

Terwyl die matriekklas van verlede jaar harde bene gaan kou om ’n plek in die arbeidsmark te kry, wys mnr. Wynand Boshoff, doktorale student en kurrikulumkundige in die Nood-Kaapse departement van onderwys, ook op ’n belangrike beginsel, naamlik mense se benadering tot werk.

“Die belangrikste beroepsvaardighede is nie om te kan messel of onthaal nie – dit is om hard te werk, om nuwe kennis of vaardighede aan te leer en om sonder toesig konsekwent te funksioneer. Daarvoor is slypskole of spe-siale toerusting nie nodig nie, maar wel ’n spesiale benadering tot werk.

“Leerlinge wat dink huiswerk is opsioneel, die onvoltooide leerplan is die onderwyser se probleem en niemand kan van hulle verwag om meer as een toets op ’n dag te skryf nie, gaan werkgewers moeilik tevrede stel, wat nog te sê selfstandige entrepreneurs wees.”

Boshoff het ’n interessante benadering oor hoe skole ook ’n rol kan speel om skoolverlaters te help werk kry. Hy meen die hele skoolstruktuur behoort beroepsvaardighede voorop te stel en akademiese skoling te beperk tot dié wat dit gaan gebruik.

Sy siening is dat daar op formele vlak opleiding in beroepsgerigte eenheidstandaarde (byvoorbeeld beroepsveiligheid, sekere aspekte van die boubedryf, sweis- en ander vaardighede) deur skole gefasiliteer kan word onder akkreditasie van die nodige instellings en met behulp van plaaslike ondernemings wat werkervaring bied.

Heelparty skole bied byvoorbeeld gasvryheidstudies aan en deur die uitbreiding van dié aktiwiteite na onthale in die gemeenskap kan senior leerlinge naweke en vakansies praktiese ervaring in die beroepslewe opdoen. Al wat dit vereis, is dat ’n gemeenskap en skoolgemeenskap bereid moet wees om meer te doen as wat die onderwysdepartement van hulle verwag.

Iets anders

Die gr.12-kurrikulum help nie genoeg om kinders op bepaalde beroepe voor te berei nie.

Volgens prof. William Fraser, kurrikulumkundige aan die Universiteit van Pretoria (UP), is dit nie toegespits op die behoeftes van kandidate wat nie van plan is om verder te studeer nie.

Verlede jaar is gr.12’s weer aan ’n tradisionele akademiese kurrikulum gemeet, terwyl net sowat 15% dit vir universiteitstoelating sal benut.

Dr. Muavia Gallie, onderwysbestuurkenner by die UP, meen skoliere moet ná gr.9 na verskillende fokusgebiede “gekanaliseer” word.

Dit kan wees akademies, akademies én werkverwant of beroepsgerig.

Die bekende Duitse stelsel kan ook oorweeg word met “hauptschule” (22,5%) vir beroepsgerigte leerlinge, die “realschule” (25,2%) vir onseker leerlinge, “gymnasiums” (30,4%) vir voornemende universiteitstudente en die “gesamentschule” (8,6%) – ’n kombinasie van die drie.

Leerlinge kan tussen die verskillende soorte skole en kwalifikasies beweeg en dit skakel kritiek uit dat leerlinge vroeg swak vakkeuses uitoefen en met beperkte keuses opgeskeep sit.

- Bron: Beeld

 Gratis goed                               Sluit Venster