


Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed - Artikels
Help samelewing om die media te kry wat hy verdien
Lizette Rabe
As jy die volgende sin twee keer moet lees om te probeer begryp wat dié politikus gesê het, sal niemand dink jy hoort nie ’n leser van Sake24 te wees nie.
Dis immers nie eie aan ’n politikus nie: “As ek sou kon besluit of ons ’n regering sonder koerante, of koerante sonder ’n regering moet hê, sou ek sonder weifeling laasgenoemde gekies het.”
Aldus Thomas Jefferson, een van die VSA se “founding fathers” en hul derde president.
Stel jou voor dié woorde kom van ’n hedendaagse politikus. Joernaliste sal dink hulle het onverdiend in ’n hemel spesiaal vir hulle gearriveer.
Jy sal dit beslis nie uit die mond van president nr. 43, die huidige bewoner van die Withuis, hoor nie. En terwyl ’n mens nog die Amerikaners kan bejammer oor hul president, is sy fascisme ’n ander saak. En kan ’n mens gerus vra hoe krities die magtige Amerikaanse mediamasjien is, en wat húl bydrae is tot die verspreiding van die Bush-administrasie se disinformasie. Maar dit vir ’n ander dag.
Nader aan die huis: ons het ’n ongekende verskansing van mediavryheid onder artikel 16 in ons Grondwet, maar dit kom natuurlik met bepalings. En dis nie politici-bestand nie. Grondwet en al het ons al voorbeelde gesien van mediamuilbande.
Dus: nie sommer sal een van ons politici daardie gevleuelde woorde uiter nie.
Dit is ook nie asof ons geskiedenis ons op so iets sou kon voorberei nie. Nie ons onlangse verlede nie, ook nie die verre verlede nie. Hoe is ons media nie so lank gelede nie beskryf? Die vryste onvrye media in Afrika.
Wat net weer die teorie van relatiwiteit bewys, ook as jy ’n paar eeue teruggaan. Mediavryheid was nooit ’n kenmerk van ons vroeë geo-politieke geskiedenis nie. Aan die vroeë koloniale Kaap, hetsy onder Hollander of Brit, het dit nie bestaan nie; so ook later oorkant die Vaal. Toe dit wel aan die Kaap met die sogenaamde Magna Carta – ordonnansie 60 van 1829 as jy dit wil gaan opsoek – verskans is, was ook dít relatief. Want die belange van maar een sektor van die destydse samelewing is gedien: dié van die koloniale Britte. En, ter wille van jou noodsaaklike skeutjie feminisme so met Internasionale Vrouedag, manlike koloniale Britte.
Die “Vierde Stand” van destyds moes maar toe al met deeglike introspeksie begin het, dan het ons vandag ’n meer volwasse media gehad, van anderkant die Mampoer-driehoek tot duskant die Wyngordyn.
Want dis een ding wat ons nie goed kan doen nie: om hand in eie mediaboesem te steek.
Dis net so belangrik soos al die ander rolle wat die media speel. As die media die “brandsiek-inspekteur van die volk” is, in die woorde van Willem Wepener, oud-redakteur van Beeld, moet ons onsself ook gereeld inspekteer.
En as daar ’n glips was, moet ons bereid wees om te sê, ’skuus, mea culpa, kom ons probeer weer. “Ligte mistykie”, om die voorloper- Afrikaanse joernalis Schalk Pienaar aan te haal.
Sal my nie uitgee as kenner van brandsiek nie, maar ek ken brandsiek-media as ek dit sien. En sommige van deesdae se media-aberrasies is nie net brandsiek nie, dit het ’n klank, so vrot is dit.
Maar dit dalk ook vir ’n ander dag.
Dis belangrik dat die media ook onsself gereeld ondersoek, juis omdat ’n magtige instelling soos die media so ’n groot invloed op die samelewing het. Dit “raam” die “venster” waardeur jy die wêreld sien – en hopelik help dit jou om sin uit al die on-sin op die inligtingsnelweg te maak.
Daarom dat ’n samelewing mediageletterd moet wees, om te kan verstaan wat hierdie amorfe media-dier is.
Om te kan herken wanneer die brandsiek-inspekteur dalk ’n eie agenda het. Dat daar dalk ander belange kan wees as die publiek se belange.
Jeanne Goosen, skrywer, maar veral skerp waarnemer van ons menslike verdorwenhede, het net verlede Saterdag in By gesê: “As daar mediavryheid in ’n land is, het jy amper nie ’n demokrasie nodig nie.”
Amper soos Jefferson lank terug. En daarom die onderneming van hierdie rubriek: om te verseker jy, as media-savvy burger van ’n gemedieerde wêreld, hou die media op hul tone. Sodat ons samelewing dié soort media kry wat dit verdien.
Hoe meer mediageletterd ’n land se burgers, hoe beter die media. Hoe meer media, hoe sterker die demokrasie. En hierdie opwindende nuwe ontwikkeling in die Afrikaanse media, ’n eie sakedagblad, dra by tot dié media-aanbod. Dis suiwer mediabemagtiging, as jy die entoesiasme sal verskoon. Dink net watter brandstof dit aan ons land se ekonomiese enjin kan verskaf.
En jy kan besluit hoe jy daardie enjin wil ry – jy hou dit immers letterlik in jou hande.
Ná die lang pad na mediavryheid verdien ons mos ’n mediabedryf wat ’n samelewing dien.
Hiermee dus minstens een stem vir koerante – sonder ’n regering.
Prof. Rabe is hoof van die departement van joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch.
- Bron: Sake24



