


Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed - Artikels
Inspirasie is oral. As jy lewe, het jy iets om te sê
Jeanne Goosen*
[Deel 1]
Laat ek my met hierdie skrywe my by Afrikaanse drama bepaal, wat die stand van sake betref en hoe ek dit ervaar.
Hoe dit gaan?
Kan nie kla nie. Dit gaan goed met drama – veral óp kunstefeeste en wééns kunstefeeste. Ons het feeste sielsnodig. Tienduisend toeriste kry die geleentheid om hulle geliefkoosde sterre in lewende lywe te sien optree en die mediadekking is goed – wel, beter as vóór 1994.
Sondae gee Rapport ‘n oorsig. Sterre – veral sepiesterre – se gewildheid word gesplash, en amok, as daar amok was, sorg vir die sout en peper. Lesers landwyd kan verneem watter dramas baie aandag getrek het. Ironies genoeg, egter, word die dramaturg van die betrokke stuk(ke) selde vermeld.
Maar dit maak seker nie saak nie, wat. Dramaturge is teen hierdie tyd al gewoond daaraan. Hoofsaak is, elkeen gaan huis toe met ‘n paar daalders, dalk ‘n prys of twee, en daarna begin die groot gewag. Vir die volgende fees, of wie weet – dalk volg daar ‘n paar besprekings van teaters op die platteland.
Alles hang af van die gewildheid van die sterre, die publisiteit, en natuurlik die bemarking. En dikwels hoe “snaaks” ‘n stuk is. Afrikaners se boodskap is duidelik: ons is plesierig, ons wil lag, want politiek, die bakleiery oor die Afrikanerdom, die Kerk, misdaad en bla-bla-bla het ons vuisvoos.
Dis natuurlik nie heeltemal waar nie. Afrikaners wou nog altyd (net) lag – van my ma-hulle se jong dae al af met Oom Kaspaas, Die Mielieblaarklub en koffiehuiskonserte. Met lag op sigselwers is daar seker niks verkeerd nie. 'n Goeie klug het beslis sy plek – nes 'n mooi gesig en 'n mooi lyf. Mits ... nouja ...
En dit bring my by die sepiesterre – al is die onderwerp al holrug gery. My sê wil ek egter sê, en veral dat hierdie ou tante nie 'n knorrige, suurgat is met 'n sepiesterkompleks nie.
Daar is meer as genoeg speelvaardigheid daar, maar hopeloos te min geleenthede vir hierdie spelers om in, laat ek maar sê, stewiger stukke met meer aan die lyf hulle vernuf uit te leef. En paternalisties is ek nou ook nie.
My opdrag is om 'n mening oor die stand van dramaturge te kerm of te jubel, maar ek kom daarby.
Daar is byvoorbeeld al vir my gesê wanneer ek 'n jonger speler aanbeveel vir 'n rol, dat dié te “onervare” is. Ek moet in ag neem dat my rolle “moeilik” is en spelers met meer “emosionele volwassenheid” verg.
Ja, seker, maar ook 'n groot Nee. In die ou streeksrade-opset het die meeste spelers al voor 30 vir 'n Shakespeare of Tsjechof opgetree. Met 'n bekwame regisseurshand en leiding, glo ek, sou heelwat sepie-donsdosies met sukses 'n Romeo en Juliet kon aandurf.
Maar tye het verander. TV het gekom om te bly en die publiek dikteer. Hulle wil ligter vermaak hê – uit en gedaan! Lokettreffers. Dis seker goed vir box-office, maar dit werf nou nie eintlik permanente teatergangers nie.
Eintlik is dit ironies: die voorspelling dat TV die teater gaan bedreig en selfs dooddruk, het nie bewaarheid geword nie – TV lok nou eintlik groot teatergehore. Die publiek besoek die teater om televisie te sien. Die uitdaging vir spelers is om die publiek daarvan te oortuig dat lewende teater 'n ander ervaring is. Sonder om 'n antagonistiese houding jeens televisie in te neem, kan 'n mens gerus die Britse aktrise Penelope Keith aanhaal: “'n Mens is dankbaar vir enigiets wat mense teater toe lok. Jy doen jou heel beste vir hulle.”
Maar wat is die situasie van die skrywer van speelbare stukke vandag? Hel, waar begin 'n mens?
Om mee te begin, waag geen uitgewer eintlik meer sy hand aan die publikasie van teaterstukke nie. Daar is eenvoudig net nie 'n mark daarvoor nie. En voordat 'n mens te veel begin kla daaroor, dit is 'n wêreldwye tendens. Die gevolg is dat die meeste dramadepartemente hulle op reeds gepubliseerde werke moet beroep. Intussen word daar egter baie speelbare stukke geskryf en is daar beslis nie 'n tekort aan geesdriftige aspirant- en gevestigde skrywers nie. Daarvan getuig die talle inskrywings wat die inisieerders van die Nagtegaal-Tekspryse en die Sanlam-dramawedstryde jaarliks ontvang.
Van daardie tekste wat ontvang word, is van so 'n hoogstaande gehalte dat 'n mens lirieke kan uiter wat Salomo se Hooglied oortref. Wat word daarvan? Hoogstens vyf haal die verhoog. Die opkoms is nóóit na wense nie, want die dramaturge is nie bekend (genoeg) nie.
Jammer, maar die bemarking onder veral die potensiële teatergangers is nie na wense nie. Die spelers – dikwels studente – het ook nog nie Rapport of Die Burger of Beeld se Bladsy Drie gehaal nie. Ai! Wat word jaarliks van die bruikbare tekste?
Van hulle – onder leiding van 'n kundige hand – sou 'n lewe kon hê, maar as die wenner sy een aand op die verhoog had en sy prysgeld ontvang het, is dit dikwels Totsiens Jannie! Uitgewers stel nie belang nie.
Maar toemaar, daar is lig aan die einde van die tonnel – en dis nie dié van 'n voortsnellende enjin nie. Nommer een is dit Praag wat nou Zollie, verlede jaar se Sanlam-pryswenner, publiseer en uitgee? Watter puik werk dié van Nico Luwes en watter vernuftige spel deur die Arama-studente van die Vrystaatse Universiteit. Dit WAS 'n tour de force!
Goeie mens is goeie mens. Die uitgewery Genugtig! kom ook vanaf 2006 vorendag met gepubliseerde dramatekste van gehalte, en teen 'n bekostigbare prys. Die belofte is dat daar met kundigheid wat die publikasie betref omgegaan sal word.
Dít dan wat die goeie nuus aangaan.
Na deel [2]

