Carla van der Spuy
Kursussamesteller en -opleier:
Ware
lewensdramas
Inspirasie-artikels
Humorartikels
Carla van der Spuy het 36 jaar ervaring as joernalis waarvan sy 17 jaar lank vryskutjoernalis is.
Sy skryf meestal vir publikasies soos Vrouekeur, LIG en Beeld en het ook al bydraes vir rooi rose, Kerkbode, By en webtuistes soos Kletskerk en Boekblik gelewer en is ook van tyd tot tyd Noordwes-korrespondent vir die radiostasies Jacaranda 94.2, OFM en Kosmos Nuus. Sy doen ook werk vir LAPA-uitgewers wat behels dat sy manuskripte lees en dan onderhoude met die skrywers voer.
Haar artikels behels ‘n wye verskeidenheid van onderwerpe wat wissel van inspirasie en lewensdrama tot aktueel, humor en rubrieke.
Sy het deur die jare by verskeie groot dagblaaie soos Die Transvaler en Vaderland asook by streekkoerante gewerk.
Carla het in 2008 die meriete toekenning in die Caxton Journalist of The Year Awards ontvang waarvoor sy vyf artikels moes inskryf wat deur die jaar verskyn het. Die beoordelaars het veral melding van haar veelsydigheid gemaak.
Sy
het einde 2010 nóg drie merietetoekennings by haar ellelange lys gevoeg toe sy
bekroon is by die Caxton Magazines Excellence Awards vir haar
artikels in die gesondheid-, in-diepte- en Skrywer van die Jaar-kategorieë.
'n Vollengte boek, Platsakwenke, het reeds uit haar pen verskyn en sy werk tans aan haar tweede opdragwerk vir LAPA-uitgewers.
Sy woon op Hartbeespoort saam met haar man Romano. Haar dogter Tanya is ‘n kopieskrywer en vryskutjoernalis in Kaapstad en haar seun Louwtjie studeer regte aan Tuks.
Sy is gek na kunstefeeste soos die KKNK, kuiertjies in die Kaap en Klein Karoo, lees uiteraard baie vir navorsing vir haar stories en bied ook water aërobiese-klasse by 'n plaaslike gim op Hartbeespoort aan.
Sy glo om ‘n suksesvolle vryskutjoernalis te wees moet jy die benadering: “Gesonde liggaam; gesonde gees,” uitleef en daarom glo sy aan oefening en gesond eet.