Welkom by SA Vryskutskrywer - Boekrak

 

Kan Keurboslaan nog werk?

2010-02-06

Irma du Plessis

Stella Blakemore se Keurboslaan-reeks (destyds onder die skuilnaam Theunis Krogh geskryf) handel oor die teruggetrokke en fynbesnaarde, maar briljante jong doktor Roelof Serfontein, wat onverwags, ná ’n persoonlike tragedie, op Keurboslaan beland. Hoewel hy ’n fortuin by sy Amerikaanse peetpa geërf het, twee doktorsgrade aan Cambridge behaal het en ’n węreldbekende skrywer is (dink hier aan JM Coetzee), besluit hy om die pos as skoolhoof te aanvaar. Hy omskep ’n sukkelende skooltjie in ’n elite-instelling deur binne die raamwerk van ’n klassieke leerplan op selfdissipline, uitnemendheid en karakterbou te fokus. Dis ’n poging om die Engelse public school as ’n outentieke Afrikaanse instelling te herbedink; ’n Afrikaanse Eton.

Blakemore se koshuisverhale dra dus haar eie stempel, hoewel die reeks op die Engelse koshuisverhaaltradisie van die 19de en vroeë 20ste eeu geskoei is. Haar verblyf in verskillende uithoeke van die węreld – Ghana, Noord-Ierland, Italië, Duitsland, Engeland, Swaziland en Nigerië – en ’n liefde vir Europese letterkunde en musiek vind neerslag in haar werk. Iets van die intellektuele tydsgees van die 1930’s en 1940’s skemer deur. En dan is daar haar vertroudheid met en verknogtheid aan ’n (wit) Afrikaanse leefwęreld en haar Afrikaanse lesers. Keurboslaan kan daarom beskou word as van die min węreldse populęre jeuglektuur in Afrikaans. Natuurlik het daar uitstekende vertaalde publikasies verskyn. Maar Keurboslaan het op ’n heel ander wyse Afrikaanse kinders as ’t ware in die węreld ingeskryf en só die węreld oopgeskryf. In die oorspronklike Keurboslaan-verhale is daar voortdurend ’n bewussyn van (en gemaklikheid met) samelopende Afrikaneridentiteit, Suid-Afrikaanse geworteldheid en węreldburgerskap. Dis skoon ongehoord in Afrikaanse jeuglektuur. Die Saartjie-reeks se Saartjie Baumann, daarenteen, het beswaarlik die drie straatblokke rondom haar huis in Lynnekom, Johannesburg, verlaat!

Maar hoe hersien mens juis só ’n jeugreeks – wat in die 1940’s geskryf is – vir vandag se jong Afrikaanse lesers? Tussen-in lę immers die hoogbloei van Afrikaner-nasionalisme en daarna die afstanddoening van mag; apartheid en sy nadraai. Ook die einde van die koloniale tydvak en die post- Tweede Węreldoorlog-kritiek van die Westerse tradisie, ná die oormoed. Tegnologie het nuwe vorme van konneksie en identiteit moontlik gemaak. Die milieu waarbinne Keurboslaan afspeel, het dus drasties verander en die reeks is in meer as een opsig verouderd en ongeloofwaardig.

Dit lyk asof die uitgewers nie juis hieroor hare gekloof het nie. Daarom val die nuwe reeks tussen die boom en die bas. Die hersiening sę veel oor die sosiale kodes en sosiale verbeelding van ons tyd. Wat weggelaat is, is so betekenisvol as wat ingesluit is.

Die grondigste verandering is dat die skęr ingelę is. Dis ’n jammerte. Die reeks is reeds in die 1970’s verkort toe verskeie titels bymekaar ingelyf is. Dié slag is daar dus min vet aan die verhaalgegewe oor en karaktertekening bly nou in die slag. Die redigering is soms slordig en fyn aanvoeling en respek vir die verhale ontbreek. Die kumulatiewe gevolg is dat lesers minder geleentheid het om as ’t ware tussen die reëls lees. Tog skyn die oorspronklike sjarme soms deur.

Die verhaalintriges en milieuplasings is basies net so behou, selfs waar dit krap. (’n Paar van die makabere intriges steun byvoorbeeld op telefoondrade wat geknip word). Gegewens, uitdrukkings en aanspreekvorme wat as steurend beskou is, word verswyg of is verander, maar die ou rasse-orde bly intak. ’n Afgryslike juweeltjie uit Afrikaanse ras-paternalisme soos waar dr. Serfontein aan sy bediende, Danster Sebolai, sę: “Jy is dan die goeie tokkelos wat my klere kom haal en so mooi versorg terugbring!” is darem nou uitgelaat. Ditto vir omtrent alle rasse-verwysings, maar ’n toneel waar die skoolhoof en een van sy leerlinge deur Swazi-krygers ontvoer word omdat ’n toordokter opdrag gegee het dat ’n wit bok geslag moet word, word onveranderd ingesluit. Nuwe voorname is vir onderwysers bedink om die sosiale afstand tussen die hoof en sy personeel kleiner te maak, maar geen “bruin” vanne word ingesluit onder dié van die leerlinge of onderwysers nie. Die hoflike u-aanspreekvorm so kenmerkend van Keurboslaanleerlinge is heeltemal uitgeskryf. In stede van “Mevrou, sal u” is dit nou “Mevrou, sal mevrou”. Die eerste hoofseun, Oscar Wienand, spreek selfs die hoof se ma aan as “tannie” en die tannie-vorm word algemeen gebruik. Dis ’n kruiperige soort ontsag vir ouer mense wat spruit uit ’n paternalistiese tradisie en heeltemal uit pas met Keurboslaanskool se klem op selfrespek. Die Keurboslaan-reeks het immers nooit gehandel oor die Afrikaanse węreld soos dit is nie, maar soos wat dit kon wees.

Anders as die meer grinterige, postmoderne jeuglektuur oor die skadukant van moderne adolessensie, is die węreld van Keurboslaan geďdealiseerd. Jong lesers kort blootstelling aan albei tradisies. Keurboslaan handel oor ’n soort aspirasie en selfvorming wat niks met verbruikerskultuur uit te make het nie. Dis verfrissend om jeugfiksie raak te loop waarin idees oor waardes, verantwoordelikheid en persoonlike strewe aangepak word, sonder dat die bron daarvan uitsluitlik godsdiens of Afrikaner-nasionalisme is. As die oorsprong van sulke idees in Keurboslaan – Westerse denke en kulturele vorme – dalk eens as gevaarlik geag is, is daardie vrees nou grondig verplaas. Jong Suid-Afrikaners se skakel met enige tradisie is deurgeskif. Boonop is hierdie tradisie nie die somtotaal van Keurboslaan se węreld nie. Maar wit Afrikaanse lesers is nie meer ras-erfgename van daardie tradisie nie en jong bruin en swart Afrikaanse lesers nie die tradisie se Ander nie. En die einste “Westerse tradisie” het aanbeweeg en verreken nou ook die koste van die strewe na perfeksie.

Dalk is Keurboslaan bloot onvertaalbaar vir ons tyd. Die vraag is dus hoe om ’n nuwe generasie jong Afrikaanse lesers in dieper tradisies en ’n wyer węreld in te skryf, sonder al die bagasie van vroeër. En hoe om dit te doen sodat sulke boeke, soos Maasdorp en Keurboslaan destyds, steeds vra om gelees te word. Die heruitgawe van Keurboslaan is interessant; selfs goed bedoel. Maar die wyse waarop dit aangepak is, dui op ’n gebrek aan só ’n verbeelding.

Irma du Plessis het die Keurboslaan-reeks in haar doktorale proefskrif ondersoek. Sy praat op Stellenbosch se Woordfees met Corina van der Spoel oor Keurboslaan in die Erfurthuis, 3 Maart, 10:00.

Bron: Rapport

                          Sluit Venster